Liewe vriendin, ek bid vir jou…

Geseënd is dié wat die gawe het om vriende te maak, want dit is een van God se grootste geskenke. (Anoniem)

Liewe vriendin, ek bid vir jou, ek bid vir volkome genesing na liggaam, siel en gees te midde van ‘n onverwagte kanker diagnose, te midde van die feit dat die mat onder jou uitgepluk is en jy vervaard gryp na geloof, na Hom en hoop.

Ek bid vir jou vriendin, vir genade, die genoeg-genade waarvan Paulus praat. Die genade wat inskop wanneer jou krag min is, wanneer jy swak en verganklik voel.

Ek bid vir jou vir rus en herstel onder die vleuels van Vader, ek bid vir jou vir krag om jou kindertjies styf vas te hou, vir genoeg genade om elke minuut van elke uur van elke dag moed te hou.

Here, laat U hand van genesing rus op hierdie kosbare vriendin, mag die son van redding oor haar skyn, die son van redding met genesing in sy strale. (Mal. 4:2) Continue reading “Liewe vriendin, ek bid vir jou…”

MAAK NIE SAAK WAT NIE!

Jy weet wanneer mens jonk is, hier aan die einde van jou Hoërskool loopbaan dan roep die lewe, die moontlikhede lê oop voor jou. Jy sien so uit na hierdie nuwe fase van amper onafhanklik wording, van jou eie ding doen. Sjoe! Dit kan mos net lekker wees! En ook in dieselfde asem ‘n bietjie oorweldigend. Jy het vrek hard gewerk vir jou mooi punte en om in jou Universiteit van keuse in te kom. En hier iewers in jou agterkop is daar Hollywood flieks oor Uni, wat vassteek… wat al hierdie voorafopgestelde idees net verder versterk. Dit gaan ‘n fees wees!

Skielik bevind jy jou in hierdie volksvreemde wêreld, weg van die huis, ver van jou veiligheidsnet, en nou is en lyk die prentjie nie meer so rooskleurig nie. Jy twyfel bietjie in jouself, jy twyfel ewe skielik in hierdie rigting wat jy gekies het, en nou is jy nie meer so seker nie… alles normaal en deel van grootword.

Wanneer jou kinders begin klaarmaak met skool is daar ‘n paar eerstehandse lessies wat geleer moet word. Maak nie saak hoe jy jou bloedjies probeer voorberei nie, dis maar ‘n skok vir die sisteem en dit vat tyd en harde werk om aan te pas in die nuwigheid van onafhanklikheid en die vreemde nuwe wêreld van student wees. Die aanpassing is ook nie net vir die student, nee o krisis, dit vat aan ‘n ma se hart. Jy begin leef met die besef dat hierdie kosbaarheid wat jou kind is, buite jou bereik is, jy kan en moet bid. Dis al. Bly op jou knieë. MAAK NIE SAAK WAT NIE, want dis nou hulle tyd om te leer om op hulle eie voetjies te staan. Continue reading “MAAK NIE SAAK WAT NIE!”

Die Storie van die pêrel.

In die wye oseaan, op die rotsagtige bodem, klou ‘n oester verbete vas vir lewe en vir dood. Hy weet nie wat verkeerd gegaan het met die vorige filter voeding nie, maar dit voel kompleet asof iets agter gebly het, en nou vassit… ‘n irritasie wat hy nie kan beskryf nie. Hy probeer nog water deur filter, oor en oor, weer en weer, maar helaas die irritasie het gekom om te bly. Dis nou al iewers tussen twee en drie jaar se irritasie waarvan hy net nie ontslae kan raak nie. Dit voel kompleet of die irritasie al gladder en ronder raak… en defnitief groter…Maar wat die Oester nie weet nie, in sy mantelholte het die mooiste pêrel gevorm. Die irritasie en ongemak het verander in ‘n pêrel, maar hiervan het hy nie lekker verstaan nie. Ongemak het skoonheid geword.

Die oester het meer as eenkeer probeer ontslaan raak van die irritasie, Hy het selfs na God gedraai, want hy het nie verstaan wat aan die gebeur is nie, dit kan mos nie die plan wees waarvan Jeremiah 29:11 praat nie? Toe die Oester die eerste keer bewus raak van die pêrel was hy stom-verbaas… Die pêrel se skoonheid het sy asem weggeslaan… nou wou hy haar ten alle koste beskerm… die kosbaarheid en die reinheid… Continue reading “Die Storie van die pêrel.”