Ek loop nou al langer as ‘n week met die Lukas 7:36–50 verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane was en salf, in my hart. En ek wonder: Hoekom?
Hierdie gebeurtenis speel af in Simon se huis om ‘n etenstafel. Die rolspelers in hierdie verhaal is:
Jesus die Verlosser.
Die Naamlose, sondige vrou wat die Verlosser liefhet,
Simon die Fariseër, met ‘n hart vol oordeel en hoogmoed.
Die gaste wat alles oopmond aanskou. Continue reading “Waar GENADE aan Tafel sit.”
Ek is op ‘n reis, van beter eet, vir beter gesondheid, maar ook ‘n reis waar ek God se aangesig soek, waar ek vrae vra, bagasie aflaai. Ag sommer ‘n voorraadopname van my lewe neem, my gesondheid en al daai lekker dinge. Dis nie ‘n maklike reis nie, veral die eerste paar dae van gewoond raak aan nuwe, gesonder opsies… jy weet waarvan ek praat. Nuut is altyd ongemaklik, nuut is selfs soms moeilik.
Ek stap Dinsdag uit die gym, nat gesweet en moeg. Ek val sommer by Pick ‘n Pay in, want nader is altyd beter. En jy weet mos, soms voel jy mos net, jy kort ietsie om jou te laat beter voel… maar kos en swiets en koek is mos nou nie eers ‘n amperse opsie nie, en ek dink by myself, vlietend, miskien moet ek vir my nog ‘n plantjie koop.
Vriendin, ek het ‘n swakheid vir plante, dit lyk al ampertjies soos ‘n kwekery hier binne my huis, dis net vir my so mooi, en groen, en lewendig. Ietsie wat ek na kan kyk, en versorg. Ek is altyd doodbekommerd as ons Desember maande op vakansie gaan… Continue reading “‘n Bederfie uit die Hemel.”
Natuurlik liewe kind, Ek is jou enigste hoop! (Ps. 39:8) Stel jou verwagting elke dag in My! (Ps. 25:5) Jy wat jou vertroue in My stel, Ek hou My liefde elke dag oor jou. (Ps. 33:22)
Glo in My! Om te glo is om seker te wees van die dinge wat jy hoop, om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie. (Heb. 11:1) Maar as jy hoop op wat jy nie sien nie, wag jy daarop met volharding. (Rom. 8:25) Jy weet mos liewe kind dat swaarkry volharding kweek, volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop. Dit is díe hoop wat nooit beskaam nie. Ek het My liefde in jou hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Ek aan jou gegee het. (Rom. 5:3-5)
Verbly jou in My hoop, staan vas in verdrukking; volhard in gebed. (Rom. 12:12) Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe Ek jou geroep het. (Ef. 4:4) Ek maak My hand oop en skenk My guns in oorvloed aan al wat leef. (Ps. 145:16) Dit gaan goed met jou mensekind wat jou hulp van My ontvang, wat jou hoop op My alleen vestig. (Ps. 146:5)
Ek het aan jou My liefde bewys en aan jou ‘n blywende troos en goeie hoop gegee. (2 Tes. 2:17) Niemand sal jou uit My hand ruk nie! (Joh. 10:28) Deur die liefde wat Ek vir jou het, het jy nie vergaan nie! Daar is geen einde aan My ontferming vir jou nie, dit is elke môre nuut. (Klaagl. 3:22-23)
Moenie moedeloos voel nie, jou swaarkry op aarde is van verbygaande aard! Moenie jou oë op die sigbare rig nie, maar op die onsigbare. (2 Kor. 4:16-18) Jy het hoop… jy het die ewige lewe. Het Ek nie lankal My ewige lewe aan jou beloof nie? (Titus 1:2) Deur My genade is jy vrygespreek, jy is ‘n erfgenaam van die ewige lewe. (Titus 3:7) Ek bewaar hoop vir jou in die hemel. (Kol.1:5) My liefde vir jou, bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. (1 Kor. 13:7)
Hou styf vas aan hoop, want Ek is getrou en Ek doen altyd wat Ek beloof het. (Heb. 10:23) Laat al My bemoedigings en beloftes in die Skrif jou moed gee. (Rom. 15:4) Ek is jou bron van hoop, laat My toe om die hoop in jou hart te versterk deur jou te vul met My vreugde en vrede. (Rom 15:13) Hierdie hoop besit jy as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker… (Heb. 6:19)
Moenie jaloers wees op wat ander mense het of doen nie, wees jy net altyd ywerig om My te dien, dan sal jy ‘n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. Ek sien jou! (Spr. 23:17-18) Dit is goed, vestig jou hoop op My. Wag geduldig op My hulp. (Klaagl. 3:25-26) Vertrou My! Wag op My! Ek het nog altyd gehoor as jy met My praat en na My roep. (Miga 7:7)
In My groot ontferming het Ek jou die nuwe lewe geskenk deur die opstanding. Nou dierbare kind het jy ‘n lewende hoop. (1 Pet. 1:3) Sien uit na die gelukkige dag wat Ek en jy mekaar van aangesig tot aangesig kan sien. (Tirus 2:13) Ek weet wat Ek vir jou beplan: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11) Vertrou My! Ek is tot in ewigheid vir jou ‘n veilige vesting… (Jer. 17:7) en ‘n lewende hoop.