
Ek loop nou al langer as ‘n week met die Lukas 7:36–50 verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane was en salf, in my hart. En ek wonder: Hoekom?
Hierdie gebeurtenis speel af in Simon se huis om ‘n etenstafel. Die rolspelers in hierdie verhaal is:
Jesus die Verlosser.
Die Naamlose, sondige vrou wat die Verlosser liefhet,
Simon die Fariseër, met ‘n hart vol oordeel en hoogmoed.
Die gaste wat alles oopmond aanskou.
Mense het haar nie raakgesien nie, Jesus het.
Mense het haar geignoreer en draaie om haar geloop, nie Jesus nie.
In die storie, was sý vir Jesus, die heel belangrikste karakter.
Ek voel jammer vir haar, want vir altyd sal sy die naamlose vrou wat vasgevang is tussen die blaaie van die Woord wees. Miskien is dit met opset? Miskien moet ons fokus skuif van haar identiteit na wat sy gedoen het… en hoekom?
Jesus het geen probleem daarmee dat ‘n onrein, sondige vrou Hom aanraak nie. Al is dit teen die voorskrifte van daardie tyd. Jesus kies, soos altyd, genade bo oordeel. Simon kyk vas teen die vrou se verlede en haar sondige beroep, maar Jesus… Hy sien net haar hart vol berou. Onverdiende genade het aanbidding en dankbaarheid tot gevolg, vergifnis verander mense onherroeplik.
Die Vrou wys groot liefde, want groot was haar sondes wat vergewe word. Sy kom gebroke en eerlik voor God te staan, sy maak nie verskonings nie, daar is geen trots om op jou knieë vuil, stowwerige voete te was nie. Sy kom soos sy is… nederig.
En wat doen Jesus?
Jesus sien haar diepste binneste raak, saam met Sy vergifnis, herstel Hy haar waardigheid met die twee sinne:
“Jou sondes is vergewe.” (Luk. 7:48 [2020])
Kan jy hoor hoe almal om die tafel hulle asems gelyk skerp intrek? Al wat hulle hoor is die woorde, hulle besef nie, hulle het hier met die God van die hemel en die aarde te doen nie… is Hy nie die enigste ene wat sondes kan vergewe nie?
“Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” (Luk. 7:50 [2020])
Hierdie vrede is veel meer as net ‘n gevoel. Dit beteken, gaan en wees heel, jy is herstel. En net so staan die naamlose, sondige vrou in ‘n liefdesverhouding met haar Jesus.
En ek wonder sommer, watter tipe moed het dit gevat om in daardie vertrek in te stap? Wat het haar gedryf? Desperaatheid? Liefde? Berou? En was sy bang?
Ons almal se sondes is nie so oop en bloot nie, maar almal in die omgewing het presies geweet wie sy is en wat sy doen! Dink jy mens kon haar hart in haar kuiltjie sien bons van pure bang? Nie vir Jesus nie, maar vir mense wat kon klippe optel… nêrens hoor ons haar storie nie. Die hoekoms en waaroms nie.
Ek dink nie as klein dogtertjie het enige meisie ‘n droom om eendag op ‘n reëndag jou liggaam te verkoop om geld te verdien nie. Ons ken eenvoudig nie haar motivering vir hierdie beroep nie… tussen die lyntjies van hierdie gebeurtenis lê haar hart se storie waarvan ons niks van weet nie!
Haar fokus is Jesus, en Jesus alleen!
En Jesus stel nie teleur- vergifnis en heling en vrede is haar porsie.
Dan is daar, Simon die Fariseër: ‘n man met invloed, ‘n gesiene figuur in die gemeenskap. Jesus het gedurig die Fariseërs voor stok gekry, hulle selfs gekritiseer, want vir hulle was uiterlike nakoming van reëls veel belangriker as liefde en barmhartigheid. Hulle was bietjie skynheilig ook, hulle sê en doen nie altyd so lekker op dieselfde lyn nie. Miskien as ons Simon, met die opgetrekte neus en houding, ‘n stem kon gee sou dit so ietsie klink:
Ek is beslis, defnitief beter as jy, jou sondes is te baie, ek daarteenoor is blaamloos, ek kom die wette en reëls stiptelik na, tot op die punt en die komma. Maar my hart is doer, ver van God af, maar ten minste kom ek al 613 wette na.
Ek wonder so gedurende die week, wat was Simon se motivering vir die uitnodiging? Wou hy net gesien word saam met Jesus? Hy was beslis in sy eie oë waardiger en beter as Jesus en die sondige vrou. Hy kom nie eers die minimum gasvryheids reël na nie- geen water vir Sy stowwerige voete nie, geen kus van verwelkoming nie, geen olie vir Sy hoof nie. Simon is minder gehinder.
En weet jy wat het ek by Simon geleer… ons moet bitter versigtig wees en diep soek vir die Simon wat in ons harte woon, daai deeltjie wat krities is en wil oordeel omdat ons darem beter is as die sondige vrou… ons is nie.
Ek en jy sien etikette, Jesus sien die mens agter die storie. Jou verlede definieër jou nie. Miskien gaan ek dit weer sê sodat ek en jy dit net weer kan hoor: jou verlede definieër jou nie. Niemand staan buite God se genade nie. Genade het ons almal nodig… soms ‘n bietjie meer, soms ‘n bietjie minder, maar genade nietemin.
WWJD? Ons moet dit meer gereeld vir ons selwers vra as ons met mense en hulle stories gekonfronteer word. Wat sou Jesus doen met hierdie gebroke mens voor my? Wat sou Hy sê? … is dit nie dan presies wat ek moet doen… moet sê nie? Ons tradisionele geloof fokus soms so op sonde- maar ‘n opregte glo sien die grootheid van die ÉÉN wat vergewe, herstel en heelmaak.


