
Dis nogals ‘n kontras? Ek kan nie naby God se hart leef, en selfgesentreed ingestel wees nie. Nader aan God, verder van my… lyk my lewensprentjie radikaal anders.
Die ek-sal-self mentaliteit om alles self uit te sorteer, om God net bietjie te vertrou, net soms op Sy knoppie te druk, gewoonlik as die paw-paw die waaier tref… en dan sit ons met paniek, angs en lewensmoegheid. Martha-bekommernis oor al die dingetjies waaroor ons geen beheer het nie. Miskien moet ek en jy anderkant onsself kom en die moeilike vraag vra: Hoe kan God my gebruik? Maar nog meer… hoe gewillig is ek om deur God gebruik te word?
En hoekom wonder ek soms is mense se goedkeuring vir ons tog so belangrik, maar ons is nie so ingestel op God se goedkeuring nie? Wanneer ons God se goedkeuring begin soek beweeg ons weg van ego en hoogmoed, dan raak ons fokus nederigheid, dankbaarheid, diensbaarheid, ‘n ware omgee vir die mensdom. Wanneer menslike opinies voorkeur geniet, bou ons juis ons identiteit en menswees op hierdie einste: “wat die mense van my sê en dink”!


