Nader aan U, Verder van My!

Dis nogals ‘n kontras? Ek kan nie naby God se hart leef, en selfgesentreed ingestel wees nie. Nader aan God, verder van my…  lyk my lewensprentjie radikaal anders.

Die ek-sal-self mentaliteit om alles self uit te sorteer, om God net bietjie te vertrou, net soms op Sy knoppie te druk, gewoonlik as die paw-paw die waaier tref… en dan sit ons met paniek, angs en lewensmoegheid. Martha-bekommernis oor al die dingetjies waaroor ons geen beheer het nie. Miskien moet ek en jy anderkant onsself kom en die moeilike vraag vra: Hoe kan God my gebruik? Maar nog meer… hoe gewillig is ek om deur God gebruik te word?

En hoekom wonder ek soms is mense se goedkeuring vir ons tog so belangrik, maar ons is nie so ingestel op God se goedkeuring nie? Wanneer ons God se goedkeuring begin soek beweeg ons weg van ego en hoogmoed, dan raak ons fokus nederigheid, dankbaarheid, diensbaarheid, ‘n ware omgee vir die mensdom. Wanneer menslike opinies voorkeur geniet, bou ons juis ons identiteit en menswees op hierdie einste: “wat die mense van my sê en dink”!

Now, if anyone is enfolded into Christ, he has become an entirely new creation… (2 Kor. 5:17 [TPT]) Hoe kosbaar is dit? Ingevou in Christus Jesus.

Hoe nader ons aan God leef, hoe meer kry ons dit reg om in die hier en nou te leef, leef ons met vertroue en geloof in ‘n God wat nooit verander nie. Hoe meer ons op onsself staatmaak en beheer oor alles probeer uitoefen, hoe swaarder kry ons. Oorgawe aan God vereis vertroue en om die beheervraat wat in my hart woon aftedank.

Hoe nader ek en jy aan God se hart leef hoe helderder is Sy LIG in en om ons. Hoe meer reflekteer ons Sy waarheid en heerlikheid. En selfs al het die lewe ons al ‘n paar krakies besorg, hoe meer, en beter skyn God se lig deur ons imperfeksies. Hy moet meer word, en ek minder. (Joh. 3:30 [2020])

Vader help my om U in die donker te vertrou. Maak my geloof ‘n lig wat oor my pad skyn, al weet ek nie waarheen dit sal lei nie. Die Líg is genoeg om U reeds daar aan die einde van die pad te sien staan. (D Quisenberry)

By God kry ons genade, vergifnis en herstel. Genoeg genade wanneer ons swak is. (2 Kor. 12:9 [1983]) Ek en jy moet leer floreer op God se krag. Deur hierdie krag beleef ons genade-gedrewe transformasie. En op ‘n dag begin stukkies van Jesus in ons deurskyn. Verder van Sy hart ploeter ons voort in ons eie sonde met skuldgevoelens as metgesel, ‘n metgesel wat aankla en beskuldig. Skaamte hou ons meermale weg uit die troonkamer uit.

Vrede vind ons by Jesus se voete! Nie daar doer in die woeste wêreld nie! Hierdie vrede is nie afhanklik van omstandighede nie, nee, hierdie vrede is ‘n anker wanneer die lewe ons heen en weer pluk. Dieselfde Vrede wat verklaar: “Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.”  (Joh. 14:27 [2020]) Hierdie vrede is inderdaad ‘n hartsvrede.

En vreugde! Ek en jy moet nie vergeet van die vreugde van die Here wat deel van ons sterkte is nie. Vind ek my vreugde in die Here, vind ek ‘n nuwe manier van dink en leef. Is daar vreugde in klein genadetjies wat na my kant toe kom. Oorwinnings, al is dit hoe gering! Leef ek met ‘n tevredenheid, want Jesus is vir my genoeg!

Ek en jy is nooit alleen nie, want Jesus sê so: “En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt. 28:20 [2020]) Dis die belofte, maar wanneer ons op ons eie insigte staatmaak, dan voel God ver…

Ons vra vir klein kindertjies: Waar bly liewe Jesus? En dan tik hulle vol bravado op hulle hartjies… maar miskien vergeet ons dit soms, dat Jesus vir ons Sy Gees gegee het, wat in ons bly. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. (Joh. 15:5 [2020]) In hierdie ‘bly in Hom’, bly ons onder die beskerming van die Leeu van Juda, is Hy die Een wat vir ons sorg!

Naby aan God se hart beteken ook jy ervaar die onvoorwaardelike liefde wat Hy teenoor jou koester eerstehands. Jy voel Sy hartklop vir jou. Hierdie liefde verander ons menswees, dit laat selfs jou eie hart anders klop vir mense. Lord, keep pouring out your unfailing love on those who are near you. (Ps. 36:10 [TPT])

‘n Naby-aan-God-se-hart-leef kom net van ‘n intieme verhouding met Hom, nie deur die nakom van wette, kerk toe gaan of selfs Bybel kennis nie. Jy kan die Boek ken en die Outeur heeltemal mis!

God maak bemoeienis met my en jou, en dis nie oor die algemeen en onpersoonlik nie. Hy noem jou: My kind, die een wat aan My behoort, Myne. Jy is uitverkies, genoeg, wonderbaarlik geskape.

Soek Hom.
Bly in Hom.
Volg Hom.
Naby aan Jesus is…
‘n Stille teenwoordigheid.
‘n Kosbare nabyheid.

Ek los jou vandag met hierdie twee gedeeltes:

Ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. (Gal. 2:20 [2020])

I was so stupid. I was senseless and ignorant, acting like a brute beast before You, Lord. Yet, in spite of all this, you comfort me by your counsel; You draw me closer to You. You lead me with your secret wisdom. And following you brings me into your brightness and glory! Whom have I in heaven, but You? You’re all I want! No one on earth means as much to me as you… Forever you’re all I need! (Ps. 73:22-26 [TPT])