Is Ek ‘n Goeie Ma?

Ek het al gewonder oor hierdie vraag, en sekerlik jy ook? ‘n Goeie ma vra die vraag, want ‘n goeie ma weet daar is altyd spasie vir verbetering.

Dis vir my soms vreesaanjaend om ‘n mamma te wees, regtig! As ouers het ons eenvoudig nie altyd die antwoord, of die perfekte raad, of genoeg wysheid nie. Wat ons wel weet is dat die verantwoordelikheid van ma-wees vierkantig op ons skouers rus.

Met hierdie stukkie het ek besluit om my ore toe te druk vir die wêreld en sy opinie van hoe ‘n goeie ma behoort te lyk, te doen, te praat, op te tree. Ek het gereik na die Handleiding van die lewe.

Sy lei haar kinders na Jesus.

Dis makliker om te lei as jy terselftertyd volg en watter beter voorbeeld om te volg as Jesus? Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Jesus volg. (1 Kor. 11:1 [2020])

Die Vreugde van die Here is haar toevlug. (Neh. 8:10 [2020])

Daarom waak sy daarteen om heeltyd gestres, kortaf en oorweldig te leef. En wanneer ‘n goeie ma so begin voel, want sy sal verseker, dan weet sy met sekerheid: God is haar toevlug en daarin lê haar vreugde.

Sy soek sonder ophou na Vrede.

Die tipe vrede wat Jesus belowe het, die vrede wat oor haar hart en gedagtes waak. (Filip. 4:7 [2020]) Sy gee ook nie sommer net haar vrede weg vir die taxi wat voor haar inswaai, of in die lang tou by Checkers nie. Sy klou verbete vas aan vrede en Jesus wat haar vrede is.

Sy bid vir wysheid.

Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte… (Jak. 3:17 [2020]) en liewe mede-mamma, weet jy wat is die kosbaarste van wysheid, wanneer jy voel: Ek kort nog ‘n bietjie… Dan antwoord Abba: “Vra net, Ek het ‘n goeie voorraad hier by My…” (Jak. 1:5 [2020])

Sy kies haar woorde oordeelkundig.

’n Sagte antwoord keer woede weg… (Spr. 15:1 [2020]) Daar is krag in woorde. Ek en jy moet ons woorde tel, want woorde kan wond, maar woorde kan ook heel en opbou. En soms moet stilte na vore tree… want wysheid word gebore in stiltes. Om ‘n tree terug te gee met vrede aan die hand gee perspektief…

The way we talk to children becomes their inner voice~ Peggy o’ Mara

Genade is deel van haar persoonlikheid.

‘n Goeie ma weet sy is wat sy is deur die genade van God alleen. (1 Kor. 15:10 [2020]) Daarom het sy genade met haarself, en sy het genade met woelige kleuters, halstarrige tieners en jongmense wat al die antwoorde het. Sy het al soveel genade ontvang as ma, dat sy vir haar kinders kan leer om genade met ander mense ook te hê.

Sy wag vir haar nuwe vere, en krag.

Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. (Jes. 40:31 [2020]) ‘n Goeie mamma weet, sy kan nie gee wat sy nie het nie. Sy moet mooi na haarself kyk, want om ma te wees vat fisiese krag, maar ook emosionele en geestelike krag. Haar krag kom van haar Pappa in die hemel.

Sy luister om te hoor, nie om te antwoord nie.

‘n Ma moet flink wees om te luister, stadig om te praat… (Jak. 1:19 [2020]) Sy luister met oorgawe, sy hoor nie net die woorde nie, maar sy ‘hoor’ wat in die hartjie agter die woorde aangaan.

Sy bid sonder ophou. (1 Thes. 5:17 [2020])

Haar kinders is nooit ver van haar gebede af nie.

Sy bid vir Wiskunde vraestelle om tog net nie grieks te wees nie…
Sy bid vir veiligheid terwyl sy Life360 dophou…
Sy bid langs die sportveld… teen beserings en vir goeie sportmanskap
Sy bid vir haar kinders se verhoudings… vir hulle mans en vrouens van eendag…
Sy bid vir geduld vir die ene onder haar vlerk wat ongeduldig is…
Sy bid dat die matriekafskeid rok tog asb net sal lyk soos die prentjie in die kop…
Sy bid vir reinheid…
Sy bid vir harte wat gerig is op God…
Sy bid dat bestuurslisensies deurgekom moet word… en dan bid sy nog harder wanneer hulle die eerste keer solo van die huis af wegry.
Sy bid vir hulle toekoms, vir studierigtings en dat hulle eendag gelukkig sal wees…
Sy sit terug eerste rat toe wanneer dit kom by eksamen… dan bid sy dat die spoeg spat!

‘n Ma ken van bid, maar Sy ken ook vir HOM wat haar kinders liewer het as Sy. En in HOM is haar vertroue alleen.

Sy leef die Vrug van die Gees uit.

Liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. (Gal 5:22 [2020])

Die wonderlike van die vrug van die Gees is dat dit nie beteken ‘n ma is altyd geduldig, altyd kalm of altyd vriendelik nie. Dit beteken dat sy elke dag nader aan Jesus leef, sodat Sy karakter al hoe meer deur haar lewe sigbaar word. Wanneer sy struikel, hardloop sy nie weg van God af nie, maar terug na Hom toe. Sy weet haar kinders het nie ‘n volmaakte ma nodig nie; hulle het ‘n ma nodig wat wys waar volmaakte genade gevind kan word.

Sy gee verantwoordelikheid oor aan haar kinders, soos hulle gereed raak om dit oor te vat.

‘n Goeie ma kan baie dinge wees of nie wees nie. Sy doen nie alles vir, en namens haar kinders nie, want hoe op aarde gaan hulle self leer?

Sy laat gaan…
en dan bid sy net ‘n bietjie harder.

‘n Ma gee spasie vir foute om gemaak te word, en sy staan bietjie terug, sodat haar kinders uit daai selfde foute kan leer. Sy fokus ook nie vir jare daarna op foute van die verlede nie.

Sy wil kinders grootmaak met veerkragtigheid.

Wanneer dit rof gaan, dan moedig sy aan, dra eet- en drinkgoedjies aan. En wanneer die rof-seisoen verby is, dan is sy die ene wat om die kamerdeur loer en sê: “Sjoe mamma is woes beindruk met jou… kyk wat het jy vermag, kyk hoe het jy gegroei in hierdie rowwe-seisoen! As ek na jou kyk besef ek jy ken van veerkragtigheid en uithouvermoë! Ek kan nie trotser wees nie.”

Motherhood is a million little moments that God weaves together with grace, redemption, laughter, tears and, most of all, love. ~Lysa TerKeurst

Miskien is dit hoe ‘n goeie ma lyk. Nie een wat alles reg doen nie, maar een wat elke dag weer haar hand in haar Vader s’n sit. Een wat struikel, maar weer opstaan. Een wat liefhet, bid, vergewe, leer en aanhou. Nie omdat sy altyd sterk is nie, maar omdat haar God getrou is.

En dalk is dit juis die grootste geskenk wat sy vir haar kinders kan gee.

Waar GENADE aan Tafel sit.

Ek loop nou al langer as ‘n week met die Lukas 7:36–50 verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane was en salf, in my hart. En ek wonder: Hoekom?

Hierdie gebeurtenis speel af in Simon se huis om ‘n etenstafel. Die rolspelers in hierdie verhaal is:

Jesus die Verlosser.
Die Naamlose, sondige vrou wat die Verlosser liefhet,
Simon die Fariseër, met ‘n hart vol oordeel en hoogmoed.
Die gaste wat alles oopmond aanskou.

Mense het haar nie raakgesien nie, Jesus het.
Mense het haar geignoreer en draaie om haar geloop, nie Jesus nie.
In die storie, was sý vir Jesus, die heel belangrikste karakter.

Ek voel jammer vir haar, want vir altyd sal sy die naamlose vrou wat vasgevang is tussen die blaaie van die Woord wees. Miskien is dit met opset? Miskien moet ons fokus skuif van haar identiteit na wat sy gedoen het… en hoekom?

Jesus het geen probleem daarmee dat ‘n onrein, sondige vrou Hom aanraak nie. Al is dit teen die voorskrifte van daardie tyd. Jesus kies, soos altyd, genade bo oordeel. Simon kyk vas teen die vrou se verlede en haar sondige beroep, maar Jesus… Hy sien net haar hart vol berou. Onverdiende genade het aanbidding en dankbaarheid tot gevolg, vergifnis verander mense onherroeplik.

Die Vrou wys groot liefde, want groot was haar sondes wat vergewe word. Sy kom gebroke en eerlik voor God te staan, sy maak nie verskonings nie, daar is geen trots om op jou knieë vuil, stowwerige voete te was nie. Sy kom soos sy is… nederig.

En wat doen Jesus?

Jesus sien haar diepste binneste raak, saam met Sy vergifnis, herstel Hy haar waardigheid met die twee sinne:

“Jou sondes is vergewe.” (Luk. 7:48 [2020])

Kan jy hoor hoe almal om die tafel hulle asems gelyk skerp intrek? Al wat hulle hoor is die woorde, hulle besef nie, hulle het hier met die God van die hemel en die aarde te doen nie… is Hy nie die enigste ene wat sondes kan vergewe nie?

“Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” (Luk. 7:50 [2020])

Hierdie vrede is veel meer as net ‘n gevoel. Dit beteken, gaan en wees heel, jy is herstel. En net so staan die naamlose, sondige vrou in ‘n liefdesverhouding met haar Jesus.

En ek wonder sommer, watter tipe moed het dit gevat om in daardie vertrek in te stap? Wat het haar gedryf? Desperaatheid? Liefde? Berou? En was sy bang?

Ons almal se sondes is nie so oop en bloot nie, maar almal in die omgewing het presies geweet wie sy is en wat sy doen! Dink jy mens kon haar hart in haar kuiltjie sien bons van pure bang? Nie vir Jesus nie, maar vir mense wat kon klippe optel… nêrens hoor ons haar storie nie. Die hoekoms en waaroms nie.

Ek dink nie as klein dogtertjie het enige meisie ‘n droom om eendag op ‘n reëndag jou liggaam te verkoop om geld te verdien nie. Ons ken eenvoudig nie haar motivering vir hierdie beroep nie… tussen die lyntjies van hierdie gebeurtenis lê haar hart se storie waarvan ons niks van weet nie!

Haar fokus is Jesus, en Jesus alleen!

En Jesus stel nie teleur- vergifnis en heling en vrede is haar porsie.

Dan is daar, Simon die Fariseër: ‘n man met invloed, ‘n gesiene figuur in die gemeenskap. Jesus het gedurig die Fariseërs voor stok gekry, hulle selfs gekritiseer, want vir hulle was uiterlike nakoming van reëls veel belangriker as liefde en barmhartigheid. Hulle was bietjie skynheilig ook, hulle sê en doen nie altyd so lekker op dieselfde lyn nie. Miskien as ons Simon, met die opgetrekte neus en houding, ‘n stem kon gee sou dit so ietsie klink:

Ek is beslis, defnitief beter as jy, jou sondes is te baie, ek daarteenoor is blaamloos, ek kom die wette en reëls stiptelik na, tot op die punt en die komma. Maar my hart is doer, ver van God af, maar ten minste kom ek al 613 wette na.

Ek wonder so gedurende die week, wat was Simon se motivering vir die uitnodiging? Wou hy net gesien word saam met Jesus? Hy was beslis in sy eie oë waardiger en beter as Jesus en die sondige vrou. Hy kom nie eers die minimum gasvryheids reël na nie- geen water vir Sy stowwerige voete nie, geen kus van verwelkoming nie, geen olie vir Sy hoof nie. Simon is minder gehinder.

En weet jy wat het ek by Simon geleer… ons moet bitter versigtig wees en diep soek vir die Simon wat in ons harte woon, daai deeltjie wat krities is en wil oordeel omdat ons darem beter is as die sondige vrou… ons is nie.

Ek en jy sien etikette, Jesus sien die mens agter die storie. Jou verlede definieër jou nie. Miskien gaan ek dit weer sê sodat ek en jy dit net weer kan hoor: jou verlede definieër jou nie. Niemand staan buite God se genade nie. Genade het ons almal nodig… soms ‘n bietjie meer, soms ‘n bietjie minder, maar genade nietemin.

WWJD? Ons moet dit meer gereeld vir ons selwers vra as ons met mense en hulle stories gekonfronteer word. Wat sou Jesus doen met hierdie gebroke mens voor my? Wat sou Hy sê? … is dit nie dan presies wat ek moet doen… moet sê nie? Ons tradisionele geloof fokus soms so op sonde- maar ‘n opregte glo sien die grootheid van die ÉÉN wat vergewe, herstel en heelmaak.

Ma van die Jaar.

There’s no way to be a perfect mother, and a million ways to be a good one. (J Churchill)

Hierdie stukkie het ek ‘n paar jare terug geskryf, en ek het dit so bietjie afgestof, want ek dink ons mammas moet meer as gereeld hoor: Dis OKAY as jy nie perfek is nie… geen ma is perfek nie!

Kleinsus was nog iewers in die laerskool toe ek haar een oggend skool toe vat. Ons is nie laat nie, ons is nie gejaag nie, ons is net lekker. Hier voor my trek ‘n groot voertuig met ‘n ruk op die sypaadjie op en daar vlieg ‘n mamma uit, maar sy is nie vies nie, sy is nie kwaad nie… sy is woedend. Sy gooi haar kinders se tasse op die sypaadjie, klim terug en ry weg… sonder ‘n baai, ‘n drukkie… en die ou dogtertjie loop so skrams verby ons en die gesiggie is besmeer met trane… en ewe skielik voel ek sommer ook na huil… Continue reading “Ma van die Jaar.”