
Ek het al gewonder oor hierdie vraag, en sekerlik jy ook? ‘n Goeie ma vra die vraag, want ‘n goeie ma weet daar is altyd spasie vir verbetering.
Dis vir my soms vreesaanjaend om ‘n mamma te wees, regtig! As ouers het ons eenvoudig nie altyd die antwoord, of die perfekte raad, of genoeg wysheid nie. Wat ons wel weet is dat die verantwoordelikheid van ma-wees vierkantig op ons skouers rus.
Met hierdie stukkie het ek besluit om my ore toe te druk vir die wêreld en sy opinie van hoe ‘n goeie ma behoort te lyk, te doen, te praat, op te tree. Ek het gereik na die Handleiding van die lewe.
Sy lei haar kinders na Jesus.
Dis makliker om te lei as jy terselftertyd volg en watter beter voorbeeld om te volg as Jesus? Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Jesus volg. (1 Kor. 11:1 [2020])
Die Vreugde van die Here is haar toevlug. (Neh. 8:10 [2020])
Daarom waak sy daarteen om heeltyd gestres, kortaf en oorweldig te leef. En wanneer ‘n goeie ma so begin voel, want sy sal verseker, dan weet sy met sekerheid: God is haar toevlug en daarin lê haar vreugde.
Sy soek sonder ophou na Vrede.
Die tipe vrede wat Jesus belowe het, die vrede wat oor haar hart en gedagtes waak. (Filip. 4:7 [2020]) Sy gee ook nie sommer net haar vrede weg vir die taxi wat voor haar inswaai, of in die lang tou by Checkers nie. Sy klou verbete vas aan vrede en Jesus wat haar vrede is.
Sy bid vir wysheid.
Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte… (Jak. 3:17 [2020]) en liewe mede-mamma, weet jy wat is die kosbaarste van wysheid, wanneer jy voel: Ek kort nog ‘n bietjie… Dan antwoord Abba: “Vra net, Ek het ‘n goeie voorraad hier by My…” (Jak. 1:5 [2020])
Sy kies haar woorde oordeelkundig.
’n Sagte antwoord keer woede weg… (Spr. 15:1 [2020]) Daar is krag in woorde. Ek en jy moet ons woorde tel, want woorde kan wond, maar woorde kan ook heel en opbou. En soms moet stilte na vore tree… want wysheid word gebore in stiltes. Om ‘n tree terug te gee met vrede aan die hand gee perspektief…
The way we talk to children becomes their inner voice~ Peggy o’ Mara
Genade is deel van haar persoonlikheid.
‘n Goeie ma weet sy is wat sy is deur die genade van God alleen. (1 Kor. 15:10 [2020]) Daarom het sy genade met haarself, en sy het genade met woelige kleuters, halstarrige tieners en jongmense wat al die antwoorde het. Sy het al soveel genade ontvang as ma, dat sy vir haar kinders kan leer om genade met ander mense ook te hê.
Sy wag vir haar nuwe vere, en krag.
Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. (Jes. 40:31 [2020]) ‘n Goeie mamma weet, sy kan nie gee wat sy nie het nie. Sy moet mooi na haarself kyk, want om ma te wees vat fisiese krag, maar ook emosionele en geestelike krag. Haar krag kom van haar Pappa in die hemel.
Sy luister om te hoor, nie om te antwoord nie.
‘n Ma moet flink wees om te luister, stadig om te praat… (Jak. 1:19 [2020]) Sy luister met oorgawe, sy hoor nie net die woorde nie, maar sy ‘hoor’ wat in die hartjie agter die woorde aangaan.
Sy bid sonder ophou. (1 Thes. 5:17 [2020])
Haar kinders is nooit ver van haar gebede af nie.
Sy bid vir Wiskunde vraestelle om tog net nie grieks te wees nie…
Sy bid vir veiligheid terwyl sy Life360 dophou…
Sy bid langs die sportveld… teen beserings en vir goeie sportmanskap
Sy bid vir haar kinders se verhoudings… vir hulle mans en vrouens van eendag…
Sy bid vir geduld vir die ene onder haar vlerk wat ongeduldig is…
Sy bid dat die matriekafskeid rok tog asb net sal lyk soos die prentjie in die kop…
Sy bid vir reinheid…
Sy bid vir harte wat gerig is op God…
Sy bid dat bestuurslisensies deurgekom moet word… en dan bid sy nog harder wanneer hulle die eerste keer solo van die huis af wegry.
Sy bid vir hulle toekoms, vir studierigtings en dat hulle eendag gelukkig sal wees…
Sy sit terug eerste rat toe wanneer dit kom by eksamen… dan bid sy dat die spoeg spat!
‘n Ma ken van bid, maar Sy ken ook vir HOM wat haar kinders liewer het as Sy. En in HOM is haar vertroue alleen.
Sy leef die Vrug van die Gees uit.
Liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. (Gal 5:22 [2020])
Die wonderlike van die vrug van die Gees is dat dit nie beteken ‘n ma is altyd geduldig, altyd kalm of altyd vriendelik nie. Dit beteken dat sy elke dag nader aan Jesus leef, sodat Sy karakter al hoe meer deur haar lewe sigbaar word. Wanneer sy struikel, hardloop sy nie weg van God af nie, maar terug na Hom toe. Sy weet haar kinders het nie ‘n volmaakte ma nodig nie; hulle het ‘n ma nodig wat wys waar volmaakte genade gevind kan word.
Sy gee verantwoordelikheid oor aan haar kinders, soos hulle gereed raak om dit oor te vat.
‘n Goeie ma kan baie dinge wees of nie wees nie. Sy doen nie alles vir, en namens haar kinders nie, want hoe op aarde gaan hulle self leer?
Sy laat gaan…
en dan bid sy net ‘n bietjie harder.
‘n Ma gee spasie vir foute om gemaak te word, en sy staan bietjie terug, sodat haar kinders uit daai selfde foute kan leer. Sy fokus ook nie vir jare daarna op foute van die verlede nie.
Sy wil kinders grootmaak met veerkragtigheid.
Wanneer dit rof gaan, dan moedig sy aan, dra eet- en drinkgoedjies aan. En wanneer die rof-seisoen verby is, dan is sy die ene wat om die kamerdeur loer en sê: “Sjoe mamma is woes beindruk met jou… kyk wat het jy vermag, kyk hoe het jy gegroei in hierdie rowwe-seisoen! As ek na jou kyk besef ek jy ken van veerkragtigheid en uithouvermoë! Ek kan nie trotser wees nie.”
Motherhood is a million little moments that God weaves together with grace, redemption, laughter, tears and, most of all, love. ~Lysa TerKeurst
Miskien is dit hoe ‘n goeie ma lyk. Nie een wat alles reg doen nie, maar een wat elke dag weer haar hand in haar Vader s’n sit. Een wat struikel, maar weer opstaan. Een wat liefhet, bid, vergewe, leer en aanhou. Nie omdat sy altyd sterk is nie, maar omdat haar God getrou is.
En dalk is dit juis die grootste geskenk wat sy vir haar kinders kan gee.

Dankie Martha vir hierdie diep mooi boodskap. Onthou jy is n baie goeie mamma hoor. Jy is diep kosbaar ❤️❤️. Die lied is net so mooi ❤️❤️🙏🙏
So pragtig en elke mamma het nodig om dit sommer weer in vrouemaand te lees/hoor.
Dankie liefste Martha