Gebed van ‘n Matriekmamma.

 

Liewe vriendin, hierdie gebed is sommer vir alle eksamens, wanneer die eksamen tyd jou asem en vrede wil steel, wanneer dit té besig raak en jy baie bid. (Meer as huis skoonmaak, stryk en kosmaak gekombineerd!)

Liewe Heer,

Hier is ons nou, die laaste jaar van al die jare van skoolgaan. Hoe het dit gebeur Heer? Dat die tyd so onder ons uitgehardloop het? Ek onthou nog goed die babatyd, toe sy knus en veilig op my bors kon slaap. Die kleurvolle kleuterjare en die baie blinkertjies wat ek oral moes opsuig in die huis, ek onthou van die tweens, en die wíl grootword en die strewe na klein stukkies onafhanklikheid, van kunsprente teen die yskas, padpatrollies, wag voor die dansklas, die eerste sokkie en dan die Hoërskool jare wat soos ‘n gedagte verbygegaan het.

Here, onthou U hoe opgewonde-bang sy was vir gr 8, hoe ons gespoeg en gespartel het met die slakkie kostuum, van krulle en linte na grimering en strepies in die hare. Van verlief wees tot oor die ore? Tot teleurstellings van nie gekies word nie?

Here, en ek dank U vir elke stadium van grootword, van elke stadium van mens word, van ‘n baba wat só afhanklik is van my, na ‘n jongvrou met groot drome in haar oë wat wil vlerke sprei en vlieg…

So hier is my gebed vir hierdie kosbare matriekkind van my:

Here, skenk haar U wysheid, wysheid om goeie besluite te neem, wanneer om in te sit, maar ook wanneer om te rus. Leer haar om met onderskeiding te leef, om U stem te hoor bo die geraas van die wêreld. Here, U het haar geseën met ongelooflike talente, vorm haar. Dankie vir haar sagmoedigheid. Vul haar met U liefde, liefste Here. Heilige Gees mag sy U aangesig soek in alles wat sy aanpak, Jesus mag sy leef met U wysheid wat haar lei.  (Jak. 1:5)

Hier is ‘n groot ene Here, met hierdie ene moet U asb help. Vervang alle angs met U vrede wat oor haar hart en gedagtes waak. Here, wanneer sy die druk voel van eksamen, en besig-wees, mag sy altyd onthou waar haar hulp vandaan kom. (Ps. 121) U sê in U woord, bring jou bekommernis vir my… hier is hy Here, WISKUNDE, en ek weet daar is soveel mammas wat bekommer oor skeinat, biologie, verbruikers, rekeningkunde… so miskien is my gebed sommer vrede vir ons as mammas. Here, weet U waarvoor is ek elke keer diep dankbaar, dat U in die eksamenlokaal inloop en langs my meisiekind gaan staan, afbuk en fluister: “Skuif bietjie op sussie, Ek is… gaan bietjie by jou kom sit…” Dankie Jesus. Jesus U het die storm aangespreek en stil gemaak, ek bid maak die angs en storms stil in elke matriekkind se hart en lewe!

Jesus ek wil sommer Jesaja 40:31 in hierdie oomblik oor my kind bid: Here, leer my kind om op U te wag, mag sy die wonderwerk beleef van krag wat herwin word, nuwe vere soos wat arende kry. Here laat sy hardloop en nie afgemat word nie, laat haar loop, sonder om moeg te word. Ek bid vooruit vir elke vroeë oggend, vir elke laat nag, vir elke vraestel wat uitgewerk moet word. Dankie dat U genade ook vir haar genoeg is wanneer sy swak en moedeloos voel. (2 Kor. 12:9)

Abba, U weet waarmee elke kind op hierdie aardbodem mee sukkel, waarmee sy of hy stoei. U ken hulle gedagtes nog voor dit by hulle opkom, U ken hulle… van agter en van voor omsluit U hulle elkeen, U plaas U handpalms op elkeen van hulle. (Psalm 139: 2,5) Jesus ek bid vir my kind se identiteit in U. Here my gebed vir my kind, dat sy sal onthou:

Ek is veel meer as my punte.
Ek is meer as my prestasies.
God is by my en ek is nooit alleen nie.

Here, ek bid vir volharding en dissipline. Vir eelte op die agterstewe, vir aandag en konsentrasie. Vir ‘n: wat jy saai sal jy maai mentaliteit. Dat harde werk altyd beloon word en ook dat spyt altyd te laat kom. Here, moeilike lessies om in die lewe te leer. Here ek bid vir getrouheid, selfs wanneer die lus ontbreek. Here meer as enige iets anders bid ek vir veerkragtigheid, ‘n aanhou en ‘n uithou.

Jesus ek bid vir hierdie kosbare kind van my vir gesond-wees. Dat sy slaap sal prioritiseer, ek bid teen moegheid en uitbranding. Ek bid vir helder denke en ‘n gebalanseerde lewens uitkyk. Ek bid vir ‘n hemelse perspektief, vir waarheid en genade. Here, ek bid sommer die perspektief vir myself en elke mamma wat hier lees, ek dink ons kort dit soms.

Ek bid vir godvresende vriende wat mekaar sal oplig, aanmoedig en ondersteun. Daar is soveel genade in die wete dat 750 000 ander kinders iewers in die land ook hierdeur gaan, laat nie een van die kinders geisoleer of alleen voel nie!

Abba, ek bid U beskerming oor haar, ek weet met sekerheid dat U haar met U vlerke sal bedek, dat onder U vleuels sal sy skuiling vind. U trou is haar skans en skild. (Ps. 91: 4) Ek bid U hand van beskerming oor haar, liggaam, siel en gees.

Ek bid vir haar toekoms, Jesus U is reeds in die toekoms, en daarom gaan ek my nie bekommer oor haar toekoms nie. Dit weet ek: U planne vir haar is goed en gevul met hoop. (Jer. 29:11) Ek weet ook dat my hoop nie is in ‘n opleidingsinstansie, of ‘n beroep nie, maar op U wat reeds haar toekoms pad ken.

My finale, maar belangrikste vra vandag is: Hou my kind veilig in die holte van U hand. Ek bid dat haar verhouding met U sal groei na nuwe hoogtes soos sy die laaste stukkie van haar matriekjaar navigeer.

In die Naam van Koning Jesus bid en vra ek dit uit ‘n moederhart wat onvoorwaardelik liefhet.

AMEN