Wat doen ek?

In verlede week se blog het ek belowe dat ek hierdie week bietjie wil gesels oor: Doen ek wat ek wil, of doen ek wat God wil? En dit gaan nie oor die wil van God per sy nie. Of oor sonde nie, glad nie. Dit gaan oor: Doen ek wat God se hart vir my begeer. Doen ek waarvoor ek geskep is? Iets kan in God se wil wees, maar steeds baie sleg wees vir ons… ja dit klink heeltemal verkeerd en vreemd nê?

Kom ek verduidelik: na die afloop van my onlangse studie en my splinternuwe kwalifikasie as Narratiewe Pastorale Berader (ja dis ‘n mondvol!) Het ek by die kerk gaan aanmeld vir diens… en ek het geregistreer as berader, MAAR ek het heel vergeet om God se opinie te vra. Ek het heel vergeet om te vra: Is dit wat U wil hê ek moet doen? Gits om mense te help kan mos nou onmoontlik nie nie deel wees van God se plan nie?

Pleks ek steek net bietjie vas by versies soos Psalm 25:4-5 wat sê: HERE, maak U paaie aan my bekend; leer my U weë. Lei my deur U waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag. En soms is dit nodig om geduldig te wag op die hart van die HERE.

Ek kry geen niks vrede na my besluit nie, dit voel die heeltyd of iets aan my siel krap! En vriendin, dit is nie dat ek nie in myself glo en my vermoë om mense te help op só manier nie. Daar is net nie vrede in my hart oor die besluit nie. Dis so eenvoudig soos dit.

Ek lê weer een oggend 4 uur wakker en ek vra: Here, waar het ek nou weer my vrede loop staan en verloor? En jy weet mos daai sagte stem in jou binneste wat net so klein waarheidjie kom neersit? Al wat ek hoor… onthou weer bietjie jou ICU dae…OH!

Sien, want toe kom herinner God my aan ‘n situasie 20+ jare terug toe ek nog werksaam was in ICU. Ek het die werk verskriklik baie geniet, dit was uitdagend, gevul met soms aksie, soms adrenalien… maar baie keer gevul met menslike, ekstreme lyding en natuurlik onvermydelik, die dood…

Ek onthou van die pasiënte nog soos gister, ek onthou hulle families. ‘n Ou omie wat vir drie maande oggend en middag aangeskuifel kom in die gang  af om vir sy sterwende lewensmaatjie te kom kuier. Traumatiese beserings na ‘n skietvoorval, ‘n omie wat sy gehoor verloor het na ‘n plaasaanval. Jy word gekonfronteer met al die sleg van die lewe. En dit kan nie anders as om stukkies van jou hart te breek nie! (Ek dink ook nie ons bid hoegenaamd genoeg vir mense wat in ICU werk, met trauma werk, ons paramedici en Traumatoloë nie!)

Ek moes skuif na ‘n ander afdeling waar daar minder eina en trauma was. Maar daar het ek gefloreer, dit was goed! Alles wat ons aanpak, of dink ons moet doen is nie noodwendig goed vir ons nie. Na my gesprekkie met my Pa in die hemel het ek besluit om net weer mooitjies op my spore terug te loop… Deur God se wil te doen ervaar ons vrede. (Dante)

Ons liewe predikant, met baie wysheid, het tereg gesê, die wêreld kort beraders, maar ook bemoedigers. Sien, as Berader, sou ek self in die slag gebly het. Maar as Bemoediger kan ek floreer. Kan ek doen wat God van my vra: Bemoedig dié wie se hande slap hang, help die wié se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier…” (Jes. 35:4)

Weet jy wat besef ek toe net weer. God ken ons deur en deur. Hy sien alles, Hy is reeds daar waar ek en jy nog droom om te wees. Hy ken ons binne en buitekant. Hy ken ons struikelinge, Hy ken ons hartsbegeertes. Hy ken die diepste hoekies van my en jou harte… en Hy het ons bitterlik lief.

Om in God se wil te wandel moet ons na die stem van die Heilige Gees luister. As ‘n saak in God se wil is, sal Hy vrede in ons hart gee en ons onrustigheid sal verdwyn. (Arnold Mol)

So liewe vriendin, miskien is jy by hierdie vurkie in die pad wat jy nie heeltemal weet of jy doen wat jy wil doen of doen wat God wil hê nie. Dis ‘n ongemaklike plekkie om te wees. Ek bid vir jou vir klinklare antwoorde. Ek bid vir jou vir vrede, en bowenal bid ek dat God jou sal plant op ‘n plekkie waar jy met oorgawe kan blom! Vir HOM, vir ander… maar ook vir jouself!

W A T O O K A L.

Ek het nog selde vir ‘n nuwe jaar, ‘n woord, ‘n vers, ‘n nuwejaars voorneme gehad…

Ek droom die anderdag ek skryf die volgende versie neer op ‘n stukkie papier: 1 Korintiërs 10:31. En jy weet ek ken die Bybel so-so, maar nie só goed dat ek net versverwysings links en regs kan aanhaal en rondgooi nie. Of jule eet en of julle drink of WAT julle OOK AL doen, doen dit ALLES tot eer van God. –sê die versie… en ek lees dit so paar keer deur- en gaan bêre dit toe in my hart, want dis karavaan opslaan dag by die see.

So sit en skryf ek op pad huistoe in die motor, na ‘n lekker see-vakansie, waar hart, liggaam en siel net weer kon ontmoet en bymekaar kom. Continue reading “W A T O O K A L.”

Op Pad.

Die afgelope week of wat het elke tweede vers wat ek lees iets te doen met rigting, koers of met ‘n pad… Ek het nou al die versies wat ek oor rigting en koers kon kry gaan opsoek! En sjoe daar is hordes, die gaan ‘n laaang post wees, hoop jy sit gemaklik!

My liewe man, vir wie ek bitter-baie lief is, vra nie vir rigting aanwysings nie. Ek dink dis ‘n alleman ding- ek wil net vandag sê ek is bitter dankbaar vir die engelse tannie op my selfoon wat vir my sê of ek links of regs moet draai. Sonder daai tannie sou ek al menige male diep verdwaal het! Is dit nie ook so bietjie met ons op die lewenspad nie? Het ons nie juis op hierdie belangrike pad aanwysings nodig nie. En as jy soos ek of ousus nie juis rigting vas is nie, kan dit net ‘n gelol afgee.

Ons kan soveel tyd mors op die lewenspaaie, vir maande beur ons voort op die onbekende, te skaam om rigting te vra, te moedeloos, te hardkoppig. Ons bevind ons soms op die pad van dwaasheid, waar ons rondploeter en kosbare tyd vermors. Spreuke 19:3 sê dit so mooi! Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here. Hoe waar is dit my liewe vriendin? Soms blameer ons vir God vir die verkeerde afdraai pad wat ons self gekies het. Wanneer ons die stem agter ons geïgnoreer het, die stem wat gesê het:

“Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Continue reading “Op Pad.”