Waar GENADE aan Tafel sit.

Ek loop nou al langer as ‘n week met die Lukas 7:36–50 verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane was en salf, in my hart. En ek wonder: Hoekom?

Hierdie gebeurtenis speel af in Simon se huis om ‘n etenstafel. Die rolspelers in hierdie verhaal is:

Jesus die Verlosser.
Die Naamlose, sondige vrou wat die Verlosser liefhet,
Simon die Fariseër, met ‘n hart vol oordeel en hoogmoed.
Die gaste wat alles oopmond aanskou.

Mense het haar nie raakgesien nie, Jesus het.
Mense het haar geignoreer en draaie om haar geloop, nie Jesus nie.
In die storie, was sý vir Jesus, die heel belangrikste karakter.

Ek voel jammer vir haar, want vir altyd sal sy die naamlose vrou wat vasgevang is tussen die blaaie van die Woord wees. Miskien is dit met opset? Miskien moet ons fokus skuif van haar identiteit na wat sy gedoen het… en hoekom?

Jesus het geen probleem daarmee dat ‘n onrein, sondige vrou Hom aanraak nie. Al is dit teen die voorskrifte van daardie tyd. Jesus kies, soos altyd, genade bo oordeel. Simon kyk vas teen die vrou se verlede en haar sondige beroep, maar Jesus… Hy sien net haar hart vol berou. Onverdiende genade het aanbidding en dankbaarheid tot gevolg, vergifnis verander mense onherroeplik.

Die Vrou wys groot liefde, want groot was haar sondes wat vergewe word. Sy kom gebroke en eerlik voor God te staan, sy maak nie verskonings nie, daar is geen trots om op jou knieë vuil, stowwerige voete te was nie. Sy kom soos sy is… nederig.

En wat doen Jesus?

Jesus sien haar diepste binneste raak, saam met Sy vergifnis, herstel Hy haar waardigheid met die twee sinne:

“Jou sondes is vergewe.” (Luk. 7:48 [2020])

Kan jy hoor hoe almal om die tafel hulle asems gelyk skerp intrek? Al wat hulle hoor is die woorde, hulle besef nie, hulle het hier met die God van die hemel en die aarde te doen nie… is Hy nie die enigste ene wat sondes kan vergewe nie?

“Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” (Luk. 7:50 [2020])

Hierdie vrede is veel meer as net ‘n gevoel. Dit beteken, gaan en wees heel, jy is herstel. En net so staan die naamlose, sondige vrou in ‘n liefdesverhouding met haar Jesus.

En ek wonder sommer, watter tipe moed het dit gevat om in daardie vertrek in te stap? Wat het haar gedryf? Desperaatheid? Liefde? Berou? En was sy bang?

Ons almal se sondes is nie so oop en bloot nie, maar almal in die omgewing het presies geweet wie sy is en wat sy doen! Dink jy mens kon haar hart in haar kuiltjie sien bons van pure bang? Nie vir Jesus nie, maar vir mense wat kon klippe optel… nêrens hoor ons haar storie nie. Die hoekoms en waaroms nie.

Ek dink nie as klein dogtertjie het enige meisie ‘n droom om eendag op ‘n reëndag jou liggaam te verkoop om geld te verdien nie. Ons ken eenvoudig nie haar motivering vir hierdie beroep nie… tussen die lyntjies van hierdie gebeurtenis lê haar hart se storie waarvan ons niks van weet nie!

Haar fokus is Jesus, en Jesus alleen!

En Jesus stel nie teleur- vergifnis en heling en vrede is haar porsie.

Dan is daar, Simon die Fariseër: ‘n man met invloed, ‘n gesiene figuur in die gemeenskap. Jesus het gedurig die Fariseërs voor stok gekry, hulle selfs gekritiseer, want vir hulle was uiterlike nakoming van reëls veel belangriker as liefde en barmhartigheid. Hulle was bietjie skynheilig ook, hulle sê en doen nie altyd so lekker op dieselfde lyn nie. Miskien as ons Simon, met die opgetrekte neus en houding, ‘n stem kon gee sou dit so ietsie klink:

Ek is beslis, defnitief beter as jy, jou sondes is te baie, ek daarteenoor is blaamloos, ek kom die wette en reëls stiptelik na, tot op die punt en die komma. Maar my hart is doer, ver van God af, maar ten minste kom ek al 613 wette na.

Ek wonder so gedurende die week, wat was Simon se motivering vir die uitnodiging? Wou hy net gesien word saam met Jesus? Hy was beslis in sy eie oë waardiger en beter as Jesus en die sondige vrou. Hy kom nie eers die minimum gasvryheids reël na nie- geen water vir Sy stowwerige voete nie, geen kus van verwelkoming nie, geen olie vir Sy hoof nie. Simon is minder gehinder.

En weet jy wat het ek by Simon geleer… ons moet bitter versigtig wees en diep soek vir die Simon wat in ons harte woon, daai deeltjie wat krities is en wil oordeel omdat ons darem beter is as die sondige vrou… ons is nie.

Ek en jy sien etikette, Jesus sien die mens agter die storie. Jou verlede definieër jou nie. Miskien gaan ek dit weer sê sodat ek en jy dit net weer kan hoor: jou verlede definieër jou nie. Niemand staan buite God se genade nie. Genade het ons almal nodig… soms ‘n bietjie meer, soms ‘n bietjie minder, maar genade nietemin.

WWJD? Ons moet dit meer gereeld vir ons selwers vra as ons met mense en hulle stories gekonfronteer word. Wat sou Jesus doen met hierdie gebroke mens voor my? Wat sou Hy sê? … is dit nie dan presies wat ek moet doen… moet sê nie? Ons tradisionele geloof fokus soms so op sonde- maar ‘n opregte glo sien die grootheid van die ÉÉN wat vergewe, herstel en heelmaak.

Nader aan U, Verder van My!

Dis nogals ‘n kontras? Ek kan nie naby God se hart leef, en selfgesentreed ingestel wees nie. Nader aan God, verder van my…  lyk my lewensprentjie radikaal anders.

Die ek-sal-self mentaliteit om alles self uit te sorteer, om God net bietjie te vertrou, net soms op Sy knoppie te druk, gewoonlik as die paw-paw die waaier tref… en dan sit ons met paniek, angs en lewensmoegheid. Martha-bekommernis oor al die dingetjies waaroor ons geen beheer het nie. Miskien moet ek en jy anderkant onsself kom en die moeilike vraag vra: Hoe kan God my gebruik? Maar nog meer… hoe gewillig is ek om deur God gebruik te word?

En hoekom wonder ek soms is mense se goedkeuring vir ons tog so belangrik, maar ons is nie so ingestel op God se goedkeuring nie? Wanneer ons God se goedkeuring begin soek beweeg ons weg van ego en hoogmoed, dan raak ons fokus nederigheid, dankbaarheid, diensbaarheid, ‘n ware omgee vir die mensdom. Wanneer menslike opinies voorkeur geniet, bou ons juis ons identiteit en menswees op hierdie einste: “wat die mense van my sê en dink”!

Continue reading “Nader aan U, Verder van My!”

Die God wat my sien.

Wanneer ek met enige situasie gekonfronteer word vra ek altyd drie goed van my Vader in die hemel… Perspektief (‘n drie treë terug, vir ‘n vars perspektief op die situasie of probleem), insig (‘n dieper verstaan vol empatie en genade) en laaste vra ek vir hope wysheid (hemelse wysheid vars uit die skatkamers van die hemel).

Wanneer hierdie situasie of probleem egter ‘n tiener in die mengsel het, lyk my gebed groter. Ek vra ook vir perspektief, maar ek vra: “Vader herinner my hoe ek gevoel het op daardie presiese ouderdom”. Ek vra vir insig: “Vader laat my voel wat in die ene wat voor my staan se hart aangaan”. Wysheid lyk so bietjie anders as ek vra: “Vader, gee my die regte woorde, maar ook die wysheid wanneer om stil te wees, wanneer die ‘woorde’ eerder ‘n rugkrap of ‘n draairoomys moet wees.” Want soms het ek nie woorde wat troos, beter maak of op lig nie!

Teleurstellings is deel van grootword, die woordjie wat hand aan hand loop met teleurstelling is veerkragtigheid of die mooie engelse woordjie: Resilience.

Resilience: (noun) the capacity to withstand or to recover quickly from difficulties; toughness. ‘Toughness’ is taaiheid wat eintlik maar beteken: kan buig, maar breek nie. Uithouvermoë, sterk. Om ontbering en stres te weerstaan.

The oak fought the wind and was broken, the willow bent when it must and survived. ― Robert Jordan, The Fires of Heaven

Een van my girls moes hierdie jaar deur ‘n paar teleurstellings werk… Ek gaan nie haar storie vertel nie, want dis nie my storie om te vertel nie. Ek kan wel getuig, daar was baie trane, en rugkrappe en tot draairoomys by betrokke. En as ek so deur die trane, en baie vrae help hart-stukkies optel, bly die woordjie veerkragtigheid by my opkom. ‘n Duur woord, dit kos jou altyd iets om veerkragtigheid te leer.

En ons gesels oor God se planne wat nie altyd soos ons planne lyk nie. Tog is die seer ‘n werklikheid… en die is-ek-goed-genoeg gevoel…

So kort  anderkant nóg ‘n teleurstelling, maar ‘n grote, gaan koop ek 12 broodrolletjies by die winkel en die dame agter die kasregister gee vir my ‘n bos geel rose… ek kry sommer dadelik ‘n knop in my keel, want ek weet dis nie vir my nie, dis ‘n bos blomme, vir my dogter met die gebreekte hartjie, uit die hemel.

En ek wonder oor die geel en voor ek by die huis stop soek ek dit gou vir haar: Geel simboliseer glorie, lig, heiligheid, vreugde en die wysheid van God. Dit kan ook hoop verteenwoordig. Maar meer as enigiets anders, skree hierdie bos blomme… Ek sien jou… Ek weet van jou… Ek het verseker nie van jou vergeet nie!

Ek gee die blommetjie by die huis vir die girl met die seer hart, eers glo sy my glad nie, ek wys vir haar die slippie, 12 broodrolletjies, dis waarvoor betaal het. Die blomme kom uit die hemel…

Die blomme het mooi gehou vir 2 weke, nou is die gedroogde blaartjies in ‘n bottel gebêre in haar kamer as ‘n herinnering aan die God wat haar raaksien!

Vriendin ek weet nie waar jy jou tans op die lewenspad bevind nie, ek ken nie die afdraai paadjies wat jy hierdie jaar moes loop, en hoeveel keer die pad deur die woestyn gekronkel het nie. Ek ken nie jou teleurstellings se name en hoe dit jou geaffekteer het nie, maar onthou jy vir Hagar?

Hagar, wat weggeloop het van Sarai, met Abram se eersteling veilig onder haar hart? Hoe sy by die fontein gevind is deur God? Wie het ‘n ontmoeting gehad met die Samaritaanse vrou, wie is die Goeie Herder wat die 99 gelos het om die verlorene te gaan soek?

Hagar het nie gebid en gesmeek nie… Sy het net gesit en gewag… sonder plan, sonder heenkome. Moeg, moedeloos, swanger, alleen, oorgelaat aan genade en self. God daag op in die woestyn, want dit is waar Hagar Hom nodig het. Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” (Gen. 16:13)

Mag jy my liewe vriendin, vir El Roi ontmoet in die woestyn van teleurstelling. Mag jy eerstehands ervaar hoe jy raakgesien word, dat jy saakmaak. Dat Hy jou nie net sien nie, maar dat Hy jou innig liefhet.

Hoor wat God vandag vir jou wil sê: Ek sien oral… Ek sien jou. (Spr. 15:3) My oë deurkruis die hele aarde, om jou wie se hart volkome by My is, kragtig by te staan. (2 Kron. 16:9 [2020]) Met ‘n ewige liefde het Ek jou lief, daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek. (Jer. 31:3 [2020]

Kan jy Sy arms om jou voel?
Kan jy Sy ken op jou kop voel rus?
Kan jy Sy hart hoor klop teen jou oor?

God really does have it all worked out.
The gaps are filled.
The heartache is eased.
The provision is ready
The needs met.
FULLY.
Completely.
Perfectly.
In HIM.
With HIM.
By HIM.
(Lysa Terkeurst)