Waar GENADE aan Tafel sit.

Ek loop nou al langer as ‘n week met die Lukas 7:36–50 verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane was en salf, in my hart. En ek wonder: Hoekom?

Hierdie gebeurtenis speel af in Simon se huis om ‘n etenstafel. Die rolspelers in hierdie verhaal is:

Jesus die Verlosser.
Die Naamlose, sondige vrou wat die Verlosser liefhet,
Simon die Fariseër, met ‘n hart vol oordeel en hoogmoed.
Die gaste wat alles oopmond aanskou. Continue reading “Waar GENADE aan Tafel sit.”

Nader aan U, Verder van My!

Dis nogals ‘n kontras? Ek kan nie naby God se hart leef, en selfgesentreed ingestel wees nie. Nader aan God, verder van my…  lyk my lewensprentjie radikaal anders.

Die ek-sal-self mentaliteit om alles self uit te sorteer, om God net bietjie te vertrou, net soms op Sy knoppie te druk, gewoonlik as die paw-paw die waaier tref… en dan sit ons met paniek, angs en lewensmoegheid. Martha-bekommernis oor al die dingetjies waaroor ons geen beheer het nie. Miskien moet ek en jy anderkant onsself kom en die moeilike vraag vra: Hoe kan God my gebruik? Maar nog meer… hoe gewillig is ek om deur God gebruik te word?

En hoekom wonder ek soms is mense se goedkeuring vir ons tog so belangrik, maar ons is nie so ingestel op God se goedkeuring nie? Wanneer ons God se goedkeuring begin soek beweeg ons weg van ego en hoogmoed, dan raak ons fokus nederigheid, dankbaarheid, diensbaarheid, ‘n ware omgee vir die mensdom. Wanneer menslike opinies voorkeur geniet, bou ons juis ons identiteit en menswees op hierdie einste: “wat die mense van my sê en dink”!

Continue reading “Nader aan U, Verder van My!”

Die God wat my sien.

Wanneer ek met enige situasie gekonfronteer word vra ek altyd drie goed van my Vader in die hemel… Perspektief (‘n drie treë terug, vir ‘n vars perspektief op die situasie of probleem), insig (‘n dieper verstaan vol empatie en genade) en laaste vra ek vir hope wysheid (hemelse wysheid vars uit die skatkamers van die hemel).

Wanneer hierdie situasie of probleem egter ‘n tiener in die mengsel het, lyk my gebed groter. Ek vra ook vir perspektief, maar ek vra: “Vader herinner my hoe ek gevoel het op daardie presiese ouderdom”. Ek vra vir insig: “Vader laat my voel wat in die ene wat voor my staan se hart aangaan”. Wysheid lyk so bietjie anders as ek vra: “Vader, gee my die regte woorde, maar ook die wysheid wanneer om stil te wees, wanneer die ‘woorde’ eerder ‘n rugkrap of ‘n draairoomys moet wees.” Want soms het ek nie woorde wat troos, beter maak of op lig nie!

Teleurstellings is deel van grootword, die woordjie wat hand aan hand loop met teleurstelling is veerkragtigheid of die mooie engelse woordjie: Resilience.

Resilience: (noun) the capacity to withstand or to recover quickly from difficulties; toughness. ‘Toughness’ is taaiheid wat eintlik maar beteken: kan buig, maar breek nie. Uithouvermoë, sterk. Om ontbering en stres te weerstaan.

The oak fought the wind and was broken, the willow bent when it must and survived. ― Robert Jordan, The Fires of Heaven

Een van my girls moes hierdie jaar deur ‘n paar teleurstellings werk… Ek gaan nie haar storie vertel nie, want dis nie my storie om te vertel nie. Ek kan wel getuig, daar was baie trane, en rugkrappe en tot draairoomys by betrokke. En as ek so deur die trane, en baie vrae help hart-stukkies optel, bly die woordjie veerkragtigheid by my opkom. ‘n Duur woord, dit kos jou altyd iets om veerkragtigheid te leer.

En ons gesels oor God se planne wat nie altyd soos ons planne lyk nie. Tog is die seer ‘n werklikheid… en die is-ek-goed-genoeg gevoel…

So kort  anderkant nóg ‘n teleurstelling, maar ‘n grote, gaan koop ek 12 broodrolletjies by die winkel en die dame agter die kasregister gee vir my ‘n bos geel rose… ek kry sommer dadelik ‘n knop in my keel, want ek weet dis nie vir my nie, dis ‘n bos blomme, vir my dogter met die gebreekte hartjie, uit die hemel.

En ek wonder oor die geel en voor ek by die huis stop soek ek dit gou vir haar: Geel simboliseer glorie, lig, heiligheid, vreugde en die wysheid van God. Dit kan ook hoop verteenwoordig. Maar meer as enigiets anders, skree hierdie bos blomme… Ek sien jou… Ek weet van jou… Ek het verseker nie van jou vergeet nie!

Ek gee die blommetjie by die huis vir die girl met die seer hart, eers glo sy my glad nie, ek wys vir haar die slippie, 12 broodrolletjies, dis waarvoor betaal het. Die blomme kom uit die hemel…

Die blomme het mooi gehou vir 2 weke, nou is die gedroogde blaartjies in ‘n bottel gebêre in haar kamer as ‘n herinnering aan die God wat haar raaksien!

Vriendin ek weet nie waar jy jou tans op die lewenspad bevind nie, ek ken nie die afdraai paadjies wat jy hierdie jaar moes loop, en hoeveel keer die pad deur die woestyn gekronkel het nie. Ek ken nie jou teleurstellings se name en hoe dit jou geaffekteer het nie, maar onthou jy vir Hagar?

Hagar, wat weggeloop het van Sarai, met Abram se eersteling veilig onder haar hart? Hoe sy by die fontein gevind is deur God? Wie het ‘n ontmoeting gehad met die Samaritaanse vrou, wie is die Goeie Herder wat die 99 gelos het om die verlorene te gaan soek?

Hagar het nie gebid en gesmeek nie… Sy het net gesit en gewag… sonder plan, sonder heenkome. Moeg, moedeloos, swanger, alleen, oorgelaat aan genade en self. God daag op in die woestyn, want dit is waar Hagar Hom nodig het. Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” (Gen. 16:13)

Mag jy my liewe vriendin, vir El Roi ontmoet in die woestyn van teleurstelling. Mag jy eerstehands ervaar hoe jy raakgesien word, dat jy saakmaak. Dat Hy jou nie net sien nie, maar dat Hy jou innig liefhet.

Hoor wat God vandag vir jou wil sê: Ek sien oral… Ek sien jou. (Spr. 15:3) My oë deurkruis die hele aarde, om jou wie se hart volkome by My is, kragtig by te staan. (2 Kron. 16:9 [2020]) Met ‘n ewige liefde het Ek jou lief, daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek. (Jer. 31:3 [2020]

Kan jy Sy arms om jou voel?
Kan jy Sy ken op jou kop voel rus?
Kan jy Sy hart hoor klop teen jou oor?

God really does have it all worked out.
The gaps are filled.
The heartache is eased.
The provision is ready
The needs met.
FULLY.
Completely.
Perfectly.
In HIM.
With HIM.
By HIM.
(Lysa Terkeurst)