Die Taal van Weerloosheid.

Ek het bietjie gekou aan die tema van weerloosheid en hoekom ons skrikkerig is om weerloos te wees voor ander mense. Ek bedoel nie dat ek en jy moet weerloos wees voor elke Jan Rap en sy maat nie, want netnou raak hierdie ontbloting ammunisie in die hand van ‘n ander. Wat natuurlik maklik kan gebeur, ‘n weerloosheid wat omgeskakel word in ‘n: “Het jy gehoor?”

Ons hou daarvan om ons kaarte naby die bors te speel. Miskien is ons bang ander kom agter ons sukkel ook maar? Miskien het dit iets te doen met hierdie perfekte beeld wat ons graag na buite wil dra. Dat dit met ons goed gaan, altyd en in alle omstandighede.

Dit het my sommer laat dink aan die versie in Matteus 7:6 wat praat oor die pêrels wat jy nie voor die varke gooi om vertrap te word nie. Miskien is weerloosheid ook soos pêrels, dit is nie verkeerd om jou weerloosheid te bewaak en nie sommer met elkeen te deel nie.

Ook die versie in Johannes 16:33 [2020] waar Jesus sê: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”

Jesus sê eintlik in soveel woorde, dit gaan verseker nie altyd met jou goed gaan nie. Soms gaan jy in ‘n put wees, soms in die vuur, soms vasgevang in ‘n storm, soms voor ‘n toe deur. Hoekom is dit dan vir ons moeilik om weerloos te wees en te erken as ons soms sukkel? Soms te moet erken, dit gaan nie heeltemal so goed met my, anders as die beeld wat ek na buite dra, die maskertjie wat ek soms nadersleep en dra.

Dit is juis weerloosheid wat die deur op ‘n skrefie oopmaak vir opregte hartsgesprekke. Ons almal kort hulp, kort genade, kort gebed- en wanneer almal hulle maskertjies opvergeet, dink ons niemand worstel nie, dat almal om ons alles uitgepluis het, en dis net ons wat klei trap en struikel. Al wat ons dan om ons sien, is ‘n klomp Spreuke 31 vrouens wat met elegansie en oorwinning deur die lewe gaan.

As vrouens, wat baie balle met ‘n glimlag na buite in die lug hou, dink ek tog ek en jy moet onsselwers soms toestemming gee om weerloos te wees. Dat wanneer ons sien ‘n mede-sussie sukkel met iets waarmee ons ook stoei of gestoei het, dit dan te erken, want al wat sy dink is: ek voel ook so, ek sukkel ook daarmee. Dit bring alreeds ‘n bietjie verligting vir ‘n mamma en vrou wat se arms begin moeg raak van al die balle wat in die lug gehou moet word.

Most people believe vulnerability is weakness. But really vulnerability is Courage. We must ask ourselves…are we willing to show up and be seen. ~ Brené Brown

Om weerloos te wees is nie om swak te wees nie. Dit beteken maar net, ek is eerlik oor waar ek my tans bevind, teenoor die mensies wat vir my liefhet, diegene wat my in die hart dra.

Ander se stories maak saak, en ons moet die weerloosheid raaksien en eintlik vier, want die oorwinning lê soms versteek in die weerloosheid wat onsself soms miskyk.

En vriendin, as jou storie te swaar is en jy sien nie kans vir hierdie weerloosheid-besigheid nie, daar is Iemand met wie jy 100% eerlik en weerloos kan wees. Sluip gerus in Sy troonkamer in met jou weerloosheid en al! 3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! 4Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings… (2 Kor. 1[2020])

Met versigtige, eerlike weerloosheid kan ons mense ‘n ander taal gee, ander woorde gee om hulle eie sukkel en struikel te verwoord. As mammas, helpers vir ons manne, en al die ander rolle wat ons met soveel oorgawe vertolk, dra ek en jy soms swaarder as wat die wêreld sien… amper soos ‘n eendjie wat grasieus en moeiteloos oor die oppervlak van die dam gly, maar niemand sien die moeë, besige beentjies wat onder die water trap nie.

Soms, as ons kan erken, my beentjies is moeggerig, dan soek ons ook nie eintlik raad en antwoorde nie. Ons wil net eintlik hoor: Ek hoor jou, Ek sien jou, jy is nie die enigste eendjie in die dam met moeë beentjies nie! Jy is nie alleen nie!

Weerloosheid beteken ook nie ek ‘gooi’ al my probleme op almal om my nie. Weerloosheid is nie ‘n kla-sessie nie. Ver daarvan. Dis eintlik ek wat vir jou sê: ‘You are seen’. Daar is verligting in die besef dat ek nie die enigste ene is wat met ‘n sekere probleem of emosie stoei nie! So kan ons soms die maskers aflos en net wees?

Miskien is weerloosheid nie die afwesigheid van grense nie, maar die wysheid om te weet waar jou hart veilig kan oopmaak. Nie vir almal nie, maar ook nie vir niemand nie. Want ons is nie gemaak om alles alleen te dra nie. En dalk is die grootste genesing nie om altyd antwoorde te hê nie, maar om iewers, by iemand, of by God self, net eerlik te kan sê: “Ek is moeg. Ek sukkel. Ek is hier.” En om dan te hoor: “Jy is nie alleen nie!”

Iewers tussen stilte en waarheid, tussen maskers en genade, word ons weer mens. En in daardie eerlike plekke gebeur iets heiligs: ons word nie net gesien nie—ons word gedra.

People tend to consider being vulnerable a bad thing. It’s not. Vulnerability reminds us that we’re human. It keeps us open to giving and receiving love. Without at least a little, we can become someone living in a prison of our own making, where the walls are so thick that no one can get in or out. ~ Jodee Blanco