
Dit was een van my ouma Martha se gunsteling sê goed: Blom waar jy geplant is. Sy het die mooiste kussing gemaak met die aanhaling daarop, om haar elke dag aan hierdie kosbare geheim te herinner.
Dit klink so maklik… Wat is die geheim dan? Is die geheim dalk om die beste jy te wees wat jy kan wees in alle omstandighede?
Met die onlangse storms in die Kaap het twee van ons groot bome moed opgegee en sommer net omgeval… ek vermoed hulle wortels het nooit die diepte bereik om stewig te staan nie. Dit is verseker met blomme en mense ook so- storms laat ons omval- of dit kweek ‘n veerkragtigheid in my en jou wat maak dan ons wil blom ten spyte van storms en ongemak.
The flower that blooms in adversity is the most rare and beautiful of all. —Mulan
Jou beste is nog altyd genoeg, selfs vir God. Ek hoor jou… soms is dit moelik om die BESTE jy te wees in die alledaagse bestaan van jou lewe. Die alledaagse lewe kan tog so saai en eentonig wees… so elke dag dieselfde storie oor en oor. Kos, skottelgoed, wasgoed, werk, kinders rond ry. Al die balle wat mooitjies in die lug gehou moet word. Ek dink die geheim is om vreugde te vind in die alledaagse, klein dingetjies. Om te kan blom ten spyte van…
Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. (Kol. 3:23 [1983]) God het aan elkeen van ons ‘n spesifieke, unieke stel talente en gawes gegee. God sal nie van jou verwag om jou sang te gebruik om Sy koninkryk te bevorder as jy eintlik toondoof is nie.
Dit is God wat jou gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer. Tree onder ander op as ligdraers vir die wêreld. (Fil 2:13 [1983]) Besef jy, jy is soms die enigste straaltjie lig tussen mense in ‘n andersins pikdonker wêreld? Tree dan so op kind van Jesus. God het nie geheime agente nodig nie. Laat dit wat jy sê en doen direk in lyn wees met God se woord. Blomme het LIG nodig om te oorleef. Ek, maar beslis jy ook.
Leer om weer goed te doen. (Jes. 1:17 [1983]) Aangeleerde gedrag, dis nie inherent in ons natuuur om ander te help nie. Dis ‘n bewuste besluit om ‘n dankbare lewe te lei en uit dit uit kom die goeie werke. Is geloof sonder goeie werke nie maar eintlik net ‘n dooie geloof nie?
1 Korintiërs 7:17 sê dit so mooi: Bly in die omstandigheid wat die Here vir jou gegee het. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. (Ef. 5:16) Sê nou maar ek blom hier in die stukkie grond waar ek geplant is, en jy blom in die stukkie grond waar jy geplant is. Dit sal lyk soos die Weskus in Lente in sy volle blommeprag en glorie. Dit sal die wêreld ‘n beter plek maak. Een blom wat in die Weskus blom is nie baie indrukwekkend nie, om die waarheid te sê wie gaan die een blommetjie raak sien?
Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (Miga 6:8 [1983]) Hoe lyk ‘n bedagsame lewe voor God? Dit is wanneer jy jou kop bewustelik optel en met nuwe oë na die wêreld om jou begin kyk. Liewe vrou na aan God se hart, het dit nie tyd geword dat jy begin blom net daar waar God jou geplant het nie?
A flower does not think of competing with the flower next to it. It just blooms. —Koshin Ogu
Dis sekerlik nie maklik om te blom as ons nie weet wat ons gawes en talente is nie. Wanneer ons ons gawes en talente kan uitleef, dan sal God se droom en plan vir ons lewe soveel meer sin maak… en die bonus… ek en jy sal vervuld en gelukkig daarna uitsien. Gee jouself oor aan God se plan vir jou lewe. Ek wed op die wagkamer van jou lewe staan…WATCH THIS SPACE!!
Ons spandeer dikwels soveel tyd om te wens ons omstandighede was anders, dat ons vergeet om raak te sien wie God reeds op ons pad geplaas het. Ons kyk na die grond waarin ons geplant is en sien die klippe, die droogte en die uitdagings. God kyk egter na dieselfde plek en sien die potensiaal vir ‘n blom.
Om te blom waar jy geplant is, beteken nie dat jou lewe perfek is nie. Dit beteken om getrou te wees in die seisoen waarin jy jou bevind. Dit beteken om vriendelikheid te wys waar daar onvriendelikheid is, om hoop te bring waar daar moedeloosheid is, en om liefde uit te leef waar mense dit die nodigste het.
Jy hoef nie ‘n groot verskil te maak om iets vir iemand anders te beteken nie. Soms is dit ‘n luisterende oor, ‘n bemoedigende woord, ‘n gebed, ‘n boodskap of ‘n eenvoudige daad van omgee. Wat vir jou klein lyk, kan vir iemand anders die bewys wees dat God hulle nie vergeet het nie.
Blom waar jy geplant is. Jy weet nooit hoeveel hoop jou lewe in iemand anders se wêreld kan laat groei nie. 🌸🌿
‘n Blom kies nie sy plek nie. Dit groei waar dit geplant is en bring kleur en skoonheid na sy omgewing. Mag ons ook elke dag kies om God se liefde uit te leef presies waar Hy ons geplaas het, sodat ander deur ons iets van Sy goedheid, liefde en vrede kan ervaar.
