‘n Veilige, Heilige Ruimte.

(Hierdie stukkie is op geen manier van toepassing op jou, of jou huwelik, as jy vasgevang is in ‘n huwelik waar mishandeling van enige vorm voorkom nie, kry groot asseblief hulp, vertel vir iemand.)

No one else should have access to you
the same way your husband [or wife] does-
that kind of closeness,
that kind of knowing,
that kind of presence…
is sacred. (@littlegraceph)

Hierdie aanhaling, op sosiale media, het my lank en intens laat nadink… oor hierdie veilige, heilige ruimte wat ons huwelik noem. Oor die kosbaarheid daarvan, die waarde van so ‘n spasie. Ek glo vir geen oomblik dat dit is hoe almal saamwees en eenwees ervaar nie, ongelukkig nie, maar is dit nie wat God met huwelike bedoel het nie? Wat ek wel besef het is dat hierdie spasie nie met ‘n wonderwerk ontstaan die oomblik wat jy in die kerk in ‘n gewyde oomblik ‘ja’ sê nie. Hierdie ruimte word geskep en in stand gehou deur twee onperfekte mense wat mekaar liefhet.

En dan dink mens onwillekeurig aan beloftes wat afgelê word teenoor mekaar, en moenie glo nie, God staan nie apart op die grense van hierdie beloftes nie. God staan sentraal binne hierdie beloftes, en dis waar verbond inkom. En verbond beklemtoon vergifnis, en om jou maat se behoeftes voor jou eie in te skuif.

God raak en is deel van ons eenheid. Hierdie is nie ‘n afgewaterde rympie wat ons soos ‘n skaap agter die predikant aansê nie, nee dis beloftes wat ons aan mekaar, maar voor God aflê wat strek tot in die hemel, tot in die hiernamaals. Hier onderneem ons om Jesus te wees vir mekaar, in liefde, in genade en vergifnis.

Dit is beloftes wat vertel van nou-se-liefde, ja ek sal jou liefhê, vandag hier in my wit rokkie en mooi gedoende naeltjies, maar dit is ook beloftes wat sê: ook op die dae wat ek nie van jou hou nie, op die dae wat dit nie lekker gaan tussen my en jou nie, sal ek jou steeds liefhê. ‘n Toekomstige liefde wat sterk staan ten spyte van die lewe wat soms stormagtig tussenbeide tree.

Om jou maat lief te hê is nie ‘n sterk, intense gevoel nie. Dit is ‘n wilsbesluit, dit is ‘n waardebepaling, dit is ‘n belofte. (Erich Fromm)

5Verder sê Hy (Jesus): “‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees,’ 6sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het het, moet ‘n mens nie skei nie.” (Matt. 19)

Hoe skep ons dan hierdie veilige, heilige ruimte? Deur mekaar lief te hê met ‘n lewe-aflê-liefde en deur God lief te hê- want omdat Hy deel is van hierdie ruimte beskerm Hy hierdie huwelik. Veg Hy saam met ons vir ons huwelik op ‘n bo-natuurlike, Godellike manier.

Ware liefde is die samekoms van raaisels, geheimenisse en verrassings wat veroorsaak dat twee één word. (Thomas Browne)

In hierdie ruimte gebeur dingetjies wat die wêreld salig van onbewus is. Waar ons alleen bestaan vir mekaar en vir God. En dis die klein goedjies wat hierdie ruimte vol maak. Nie blomme, geskenke en duur wegbreek naweke nie. Wat hierdie ruimte vul is om jou maat se drome en aspirasies te ken. Om jou maat se vrese te ken, en te help dra. Om jou maat se swakpunte raak te sien en stilletjies te ondersteun. Om geduldig te wees met mekaar.

Om op te offer, om te gee, om vas te hou, om regop te hou… om onvoorwoordelik, ten spyte van lief te hê! Ware liefde is nie ‘n emosie, ‘n gevoel nie, dis ‘n houding teenoor die een wat jy liefhet. ‘n Ingesteldheid.

In hierdie veilige, heilige ruimte is ons nuuskierig oor wat in mekaar se lewens aangaan. Staan ons lank genoeg stil om te vra: Hoe so? Regtig? Vertel my meer… met wie het jy vandag gepraat? In hierdie ruimte het ons alle tyd op aarde vir mekaar. Praat ons oor lewensraaisels, maar ook koeitjies en kalfies. Is ons soms laf en soms hartseer- maar altyd saam. Deel ons onsekerhede.

Hierdie ruimte boesem vertroue in en is waar emosionele veiligheid sy lê-plekkie kry. Dit is hier waar ons kwesbaar is, waar ons ons diepste menswees met mekaar kan deel. Intimiteit voel hier veilig en reg. Hierdie ruimte is ‘n vangnet, ‘n skuilplek teen die lewensstorms. Hier groei ons as individue maar ook as eenheid nader aan mekaar en ook nader aan God.

My skat, as ek God die liefste het, het ek jou lief soos jy liêfgehê behoort te word. (George MacDonald)

En natuurlik is daar goedjies wat nie in hierdie veilige, ruimte hoort nie. Soms sal mens dink dit behoort seker voorhandliggend te wees… Elektronika kan hierdie spasie oorneem en vernietig… selfone, speletjies, TV, sport, FB, Tik Tok, Instagram… Daar is min goed so vernietigend vir hierdie spasie soos pornografie. Daar is geen plek vir pornografie in ‘n verbondshuwelik nie. GEEN PLEK NIE!

Vriende, ouers en kinders is ook nie welkom in hierdie spasie nie. As jy hierdie spasie van jou beknop wil laat voel bring net bietjie van hierdie ongewenste elemente in. Wanneer ons die ruimte beskerm, die integriteit en die eenheid daarvan, dan beskerm hierdie ruimte ons… en selfs ons kinders. Want watter groter geskenk kan jy aan jou kinders gee as ‘n gelukkige huwelik waarin God die middelpunt is?

Soms ontdek twee mense mekaar en vul mekaar perfek aan. Hulle leer geduld met mekaar se swakhede; kweek deernis vir mekaar se irritasies; lag meer as wat hulle oordeel- vir só ‘n liefde verlaat die engele die hemel om op die dak van daardie huis te sit en sing. (Francis Schaeffer)

Mag die Engele op jou dak sit en sing…