Die Stories wat ons Vertel.

Dit is nou die stories wat ons vir onsselwers en ander vertel so in die verbygaan. Ek moet bieg! Nie te lank terug nie, was ek nog ‘n sê-nou-maar en wat-as tipe meisie. En dit was die kern van baie van my stories. Dan verval my gedagtes in ‘n lekker nimmereindigende spiraal. Lieflik! Ek moet bysê, in hierdie spiraal het ek selde, indien ooit vir God raakgeloop! Nee, meermale sal jy eerder die vyand hier raakloop!

My oudste is tans op Stellies. Van hierdie jaar af is dit ‘n heen en weer geryery, en ja dis lekker om vir ousus knus en veilig onder dieselfde dak te hê snags, MAAR ook, Life360 raak soos ‘n betroubare vriendin met wie jy wíl tyd spandeer, en jou gebede raak, groter… en meer.

Nie te lank terug nie kom ousus, asvaal geskrik, by die huis aan. By die Kayamandi verkeerslig het iemand haar pasasiersdeur probeer ooppluk… Haar woorde aan my? “Mamma, ek dink nie eers ek het my deur gesluit nie!”

En al wat ek kan sê is: Dankie Jesus! Dankie Jesus! Dankie Jesus!

En toe dink ek: Miskien is dit wat ‘n ouer se gebed doen? Dit vrywaar nie, dit hou nie weg nie, maar wanneer daar gevaar is, het die gebede al so opgehoop dat Vader God self die deure sluit, en meisiekinders wat weerloos is onder Sy vlerke intrek en beskerm.

Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sê vir die HERE: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” Met Sy vlerke sal Hy jou bedek, onder Sy vleuels sal jy skuiling vind. ‘n Skild en ‘n skans is Sy trou. (Ps. 91:1-2, 4 [2020])

En dis waar die stories wat ons vertel in kom…

Hierdie aanhaling sê dit so mooi: Feed your Faith, and your Fears will starve to death! (Max Lucado)

Ongeag die uitkoms van die storie is daar steeds maniere om by die uitkoms uit te kom. Die een storie vol sê-nou-maars en wat-asse. ‘n Storie deur vrees gedryf en aangevuur.

Dan is daar die storie waar God altyd teenwoordig is, te midde van ongemak en storms, waar God in die storie is, die middelpumt van die storie is.  In die middelpunt van hierdie storie sal jy geloof en hoop ook vind! In ousus se storie is Hy die een wat die deur toegemaak het, gesluit het, vasgehou het. Ook dieselfde God wat die leeus se bekke toegesluit het, dis Hy wat haar beskerm het toe sy nie lekker geweet het hoe om haarself te hoor dink bo ‘n hart wat heeltemal te woes klop nie.

Ons lewenspad is vol stories. Miskien is dit wat God vir my wou wys, dat die stories wat ons vir mekaar vertel saak maak. Want ‘n storie wat ‘n getuienis raak van God se grootheid en goedheid, het ‘n heel ander impak as dieselfde storie verweef met vrees en alles wat moontlik kon gebeur het.

Jy weet vriendin, die stories wat ons lewe opmaak is nie net ‘n getuienis van God nie, maar ook deel van ons geloofsverhaal. Onthou jy daai stukkie in die die Nuwe Testament van die geloofshelde? (Hebreërs 11) Sal dit nie wonderlik wees as ons eendag tuis kom en Jesus self wys vir my en jou waar ons geloofsverhale opgeteken is nie?

En natuurlik, my en jou geloofsstorie bestaan nie net altyd uit sekerheid en ‘n standvastige geloof nie, ons stories bestaan soms uit worsteling, en vrae en groei. As ons dit kan regkry om die spirale te vermy, en die vyand in ons gedagtegange te systap, dan sal ons uiteindelik verstaan: God is goed, in alle omstandighede. God is alomteenwoordig. Soos ek hier sit en tik, loer Hy oor my skouer. Soos jy daar sit en koffie drink, sit God langs jou.

God is aan my en aan jou kant… en ja natuurlik, ons is nog nie in die hemel nie, ons bly in ‘n gebroke wêreld vol sonde, waar gebroke mense verkeerde besluite neem. Soos om aan karre se deure te pluk… (en weet jy wat, hulle kort ons gebede, want ons ken nie die stories wat hulle harte vertel nie!)

Ek het nie eers wakker gelê en gewonder daai nag nie, want ek het net weer besef, ek kan onmoontlik nie 24 uur van elke dag by albei my meisiekinders wees nie. Ek kan nie alles voorkom, en keer en regop hou nie. Ek het regtig egtig geen beheer hoegenaamd nie. Maar GOD… Hy is 24/7 by hulle tweetjies. Hulle is Sy meisiekinders, wie Hy intens liefhet. As ons net weer sal besef, God hou regtig egtig baie van my en jou!

Daar waar ek nie kan bykom en beskerm nie… is Hy reeds. En ons gebede vriendin, moet nie die gebed van ‘n ma gering skat nie, daar is krag in gebed. Daar waar jy nie kan wees nie, daar wag God en jou gebede jou kinders in. Ons gebede hardloop meermale vooruit… Selfs al weet ons nie eers altyd waarvoor dit is waarvoor ons spesifiek behoort te bid nie, God weet.

Ek is ‘n fyn waarnemer van my meisiekinders. Ek het geleer om diep in hulle oë te kyk… en ek hou sussa fyn dop vir enige tekens van trauma. Vir bang vir bestuur… vir sleg slaap en drome wat haar teister… Maar ousus slaap soos ‘n klip, want haar storie vertel van ‘n God wat opgedaag het, wat deure gesluit het en haar bewaar het in haar benoudheid.

Liewe vriendin, wat is die stories wat ek en jy oor ons lewens en ons geloof vertel? Stories kan ons vreugde en vrede steel, of stories kan ons stig en versterk. Stories kan ons verhouding met ander en God opbou of afbreek. Stories het mag oor ons lewens. Die stories wat ons van onsself vir onsself vertel, maak saak. Positief of negatief… dit het ‘n groot impak op ons harte en lewens… en op die harte en lewens van die mense wat ons spasies deel.

4 Replies to “Die Stories wat ons Vertel.”

  1. Dankie liewe Martha. Daar is soveel waarheid in jou storie…julle het besluit om nie te fokus op die persoon wat aan haar motor se deur gepluk het en wat kòn gebeur het nie. Julle fokus was op GOD wat beskerm het.

  2. Martha
    Ek het geweet ons het nie per ongeluk bymekaar beland het in ‘n zoom-kamer nie!
    Jou raakvat woorde, verwoord wat mense beleef. Dit maak belewenisse deur Sy genade sigbaar.
    Die genade-bril se lense waardeur jy kyk, is gratis beskikbaar vir gebruik – sodat elkeen Sy 24/7 Teenwoordigheid oral en in alles kan leer raaksien.
    Opgewonde oor jou Blog!!
    Barbara

  3. Dankie Martha weereens vir hierdie mooi boodskap. Jou boodskappe laat my altyd met soveel diep vrede. Gesëende naweek vir julle xx❤️❤️🙏🏻🙏🏻

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *