Om te laat gaan…

Ek dink die afgelope paar weke vreeslik aan die tema… ‘om te laat gaan’, hoe ongemaklik en moeilik dit soms is. Miskien is dit omdat ousus Universiteit toe gaan, en dis weer laat gaan van voor af…

Kleinsus was 6 jaar oud toe beland sy per ongeluk in ‘n  huisbak, van die sesde vloer af sien ek die liggie beweeg af, af, af tot op die grondvloer. Op daai spesifieke oomblik het ek nie geweet of ek moet afhol met die trappe, of net so bietjie moet vasstaan vir ‘n oomblik nie. Na paar minute, wat absoluut soos ‘n ewigheid gevoel het, maak die huisbak oop en ek kyk in die verskrikte ogies van kleinsus vas en al wat sy uitasem uitkry is: “Mamma, ek het nou ‘n hartaanval in my kop gehad.” Nou ja, ek dink partykeer  om te laat gaan voel so  bietjie soos ‘n hartaanval in jou kop.

Ek onthou baie goed toe altwee die girls moes klein skooltjie toe gaan, vir die eerste keer na kraamverlof, moes manlief hulle vat, ek het eenvoudig nie kans gesien om hulle in die vreemde te los, om te draai en weg te stap nie, ek het aande voor die tyd al begin huil oor die moeilike laat gaan. Continue reading “Om te laat gaan…”

Soms Voel Ek soos ‘n Boetebessie.

Ja, is dit nie net die mooiste afrikaanse woord nie? As jy wonder, dis ‘n vroulike verkeersbeampte, beslis beter as die woord spietkop. Het jy al ‘n boetebessie in aksie gesien tydens ‘n kragonderbreking met ‘n te-veel fase robot. Sy moet kophou soos ‘n dronk weerluis. Dis ‘n diepe konsentrasie besigheid. Sy kan nie aan alllerhande dinge staan en dink nie. Sy moet konsentreer en doplet (dis nou dophou en oplet). Die oomblik as sy misbeduie of net vir ‘n oomblik aan ander dinge dink, dan kom daar groot ongelukke.

Nou vriendin, soms voel ek so bietjie soos ‘n boetebessie. Met al die baie emosies wat mammas en vrouens elke dag moet hanteer, en meermale in die regte rigting stuur. Jy probeer ook jou bes om die verkeer in die huishouding te bestuur, jy probeer jou bes om ongelukke te vermy en te voorkom, maar soms met twee meisiekinders in die huis wat party dae net uit hormone en emosies bestaan, en jy wat 100% vrou is ook uit emosies gemaak, raak dit soms ‘n onbegonne taak. Continue reading “Soms Voel Ek soos ‘n Boetebessie.”

Genade vir ‘n Ma.

Kom ek skinder bietjie van jou ma, nee miskien ken ek haar nie persoonlik nie, maar luister alle mammas is maar dieselfde aanmekaar gesit. So min of meer. Jou ma was ook eens op ‘n tyd ‘n tiener… jip, kan jy dit in jou lewe oorvertel! Ons as mammas ly net soms so bietjie aan geheueverlies, ons vergeet so met tyd hoe moeilik dit was om tiener te wees, hoe ons soms deurmekaar gevoel het, soms hartseer, soms kwaad, baie alleen met ‘n gevoel dat niemand ons regtig verstaan nie. Voel jy soms so bietjie so sussie?

Ek wil jou nog ‘n geheim vertel van jou ma wat so gedurig op jou ‘case’ is, jy is haar hart wat buitekant rondloop. Regtig! Eers het sy jou onder haar hart rond gedra vir nege lange maande, toe moet sy gewoond raak aan jou buite haar en nie binne haar, maar haar hart was nooit weer dieselfde nie. ‘n Groot deel van haar hart het jy saam met jou geneem toe jy uitklim, ‘n deeltjie is altyd bekommerd oor jou… al is jy die soetste kind wat jyself ken. ‘n Deeltjie van haar hart behoort vir altyd net aan jou. Continue reading “Genade vir ‘n Ma.”