Genade vir ‘n Ma.

Kom ek skinder bietjie van jou ma, nee miskien ken ek haar nie persoonlik nie, maar luister alle mammas is maar dieselfde aanmekaar gesit. So min of meer. Jou ma was ook eens op ‘n tyd ‘n tiener… jip, kan jy dit in jou lewe oorvertel! Ons as mammas ly net soms so bietjie aan geheueverlies, ons vergeet so met tyd hoe moeilik dit was om tiener te wees, hoe ons soms deurmekaar gevoel het, soms hartseer, soms kwaad, baie alleen met ‘n gevoel dat niemand ons regtig verstaan nie. Voel jy soms so bietjie so sussie?

Ek wil jou nog ‘n geheim vertel van jou ma wat so gedurig op jou ‘case’ is, jy is haar hart wat buitekant rondloop. Regtig! Eers het sy jou onder haar hart rond gedra vir nege lange maande, toe moet sy gewoond raak aan jou buite haar en nie binne haar, maar haar hart was nooit weer dieselfde nie. ‘n Groot deel van haar hart het jy saam met jou geneem toe jy uitklim, ‘n deeltjie is altyd bekommerd oor jou… al is jy die soetste kind wat jyself ken. ‘n Deeltjie van haar hart behoort vir altyd net aan jou.

Jy kry baie verskillende tipe ma’s, kom ek verduidelik. Ek het ‘n biologiese ma, die een na wie ek lyk en wie se gene ek dra (die mamma van my was net ‘n baie kort deel van my lewe en toe het Jesus haar kom haal) Vir ‘n rukkie het ek ‘n in staan ma gehad wat eintlik sommer my ouma ook was. Daarna het Jesus vir my ‘n regte egte mamma gegee. Die een wat my grootgemaak het, die een wat vir my lief is soos haar eie, die een wat nogsteeds dag en nag vir my bid. Veel later het ek nog ‘n ma bygekry toe ek getroud is. Jou ma hoef nie jou biologiese ma te wees om jou regte egte ma te wees nie. As jy ook so ma het, dank die Vader elke liewe dag vir haar… (Dankie Ma!)

Ons mammas is net so gelukkig soos ons ongelukkigste kind in die huis. Wanneer jy stres, stres ons, wanneer jy nie lekker voel nie, voel ons harte ongemaklik en nie so heeltemal reg nie. Dis okay met ons, want ons grootste wens en droom vir jou is dat jy gelukkig moet wees… regtig gelukkig, in die beroep wat jy kies, ‘n gelukkige huwelik en kinders by dosyne, maar bowenal ‘n intense gelukkig diep in jou hart.

Ek en jou ma het nie ‘n handleiding met jou geboorte ontvang wat sê wat ons wanneer moet doen nie. Soms moet jy net vir mamma ‘n bietjie ‘genade’ gee, ek vermoed regtig dat sy haar beste doen, maar sy weet en jy weet sy is nie perfek nie, net soos jy nie perfek is nie.

Ek wil so ietsie sê oor vertroue, nee relax dis nie ‘n preek nie. As jy soms voel jou ma vertrou jou soos in glad nie, dan wil ek vir jou sê vertroue word mos verdien, maar jy is ‘n slim meisie, ek is seker jy is betroubaar, weet jy wie ons nie vertrou met jou, ons kosbaarste ietsie ooit nie? Die wêreld, want jy sien jou ma het al bietjie geleef en beleef. Sy het al seer gekry en sy moes al meer as een keer die stukkies van haar lewe optel. So, die ‘nie-vertrou’ is eintlik ‘n ‘Ek het jou liewer as wat jy ooit sal verstaan’.

Soms raas jou ma erg met jou wanneer sy jou eerder wou vasdruk… onthou jy die keer toe jy 5 keer nie jou selfoon geantwoord nie? Ek wed toe jy dit uiteindelik sien het jy geweet… hier kom ‘n ding… hier kom groot moeilikheid. Die ding is, sy is so gevul met angs en paniek teen die tyd wat sy jou stemmetjie hoor raas sy erg, maar eintlik wil sy jou net vasgryp en jou nooit weer laat gaan nie. Jy moet verstaan die sê nou maars en wat asse wat in daai paar minute in haar kop rondgedraai het is iets absoluut afgrysliks.

Jou ma sal altyd maar altyd jou grootste ondersteuner wees, jy sal haar altyd daar langs die lewenspad sien staan, sy is die een wat nooit ophou hande klap en aanmoedig nie. Sy is ook die een wat jou dra in haar gebede, dag en nag. Haar liefde vir jou sal nooit opraak nie, al voel jy soms haar liefde versmoor jou. As jy wil weet hoe lyk onvoorwaardelike liefde… dis die liefde wat jou ma vir jou het!

Ag weet jy wat en as jy nie alles glo wat ek sê, of nog nie so lekker verstaan nie, dis ook okay, want ek dink mens verstaan regtig eers die hart van ‘n ma as jy die dag self ‘n ma word. So intussen my liewe sussie, tot jy self die voorreg smaak van mamma-wees, hê maar ‘n bietjie genade vir jou  ma.