
As jong volwassene het ek nie omgegee om in ‘n argument betrokke te raak nie, nogals gedink my opinie is belangrik en behoort te alle tye gehoor te word. Boonop het ek in my voortvarendheid gedink ek doen God en die Koninkryk ‘n reuse guns. Ek bedoel regtig, ‘n mens moet opstaan vir dit waarin jy glo en vir jou geloof en vir God. Of hoe? Want as jy dit nie gaan doen nie wie sal dan?
Maar toe raas God bietjie met my, hard en duidelik. Drie keer in een week kry ek dieselfde boodskap, jy moenie argumenteer oor die evangelie nie, dit stoot mense weg, dit sit mense af, jy doen net ‘n klomp skade, geen goed nie. Ek voel bietjie bek-af en wil-wil met my armpies vererg gevou sit, maar besluit dit sal dalk nie slim wees nie, ek gooi toe maar my arms in die lug op, okay Here ek kry die boodskap… maar hoe dan gemaak as ek tog net so bietjie wil verskil, bietjie wil argumenteer en bietjie wil reghelp? Continue reading “Soms raas God ‘n bietjie met my en jou!”

Ek is al beskuldig van Volstruispolitiek. Wat is Volstruispolitiek vra jy? Dis nie om ‘n draadsitter te wees nie, nee, dis meer om jou kop in die grond te druk en te maak of jy nie sien wat om jou aangaan nie. Dis my definisie in elk geval. Dis nie ontkenning van gebeurtenisse nie, maar eerder ‘n siening van ‘ek sien dit nie raak houding nie’. Ek stem natuurlik glad nie saam nie, ek sien baie goed te alle tye wat om my aangaan, in die ons mooie land, politiek en die wyer wêreld om ons.
Middeljare is volgens Mnr Google tussen 40 en 60 jaar. Plus minus 10 jaar aan elke kant dit maak dit dan 50, nê? Phew dan is ek darem nog 5 jaar weg van offisiële middeljarigheid. Hoekom dink ek nou daaraan? Ousus het die ander dag dit gewaag om na my en Jannie te verwys as middeljarig? Wat? Ek weet, as sy nader was het ek haar met een veeg van haar voete afgeklap. Kleinsus weer het so week of terug albums deur gegaan op soek na ‘n baba foto van haarself. So kom sy af op ons jongmens en trou foto’s. Sy sê nogals ewe onskuldig… sjoe mamma WAS beautiful toe mamma jonk was. Verlede tyd, vervloëe dae se dinge.