Ek is al beskuldig van Volstruispolitiek. Wat is Volstruispolitiek vra jy? Dis nie om ‘n draadsitter te wees nie, nee, dis meer om jou kop in die grond te druk en te maak of jy nie sien wat om jou aangaan nie. Dis my definisie in elk geval. Dis nie ontkenning van gebeurtenisse nie, maar eerder ‘n siening van ‘ek sien dit nie raak houding nie’. Ek stem natuurlik glad nie saam nie, ek sien baie goed te alle tye wat om my aangaan, in die ons mooie land, politiek en die wyer wêreld om ons.
Verskil is net ek weet ten alle tye wie is in beheer, nie die President, of NATO of enige ander persoon of instansie nie, net God. Hy is en was nog altyd in beheer. Ons vergeet dit net soms so bietjie, en dan bekommer ons weer so vir ‘n slaggie oor die dinge waaroor ons regtig, as ons eerlik met onsself is, geen beheer oor het nie.
So vir my is dit net om van ‘n ander hoek af dinge dop te hou. Ek moet bieg ek lees vreeslik baie nuus. Ek het seker bietjie FOMO- Fear of missing out. My kinders ly ook daaraan, seker ‘n ooreflikheid die FOMO-ding. Ek wil weet waar, wanneer en hoekom! As huismamma en tuisteskepper moet daar darem een onderwerp wees wat ek darem weet wat aangaan. Jy weet ‘Conversation starters’.
Mens kan seker redeneer dat dit nie gesond is nie, jy is so oorbewus van al die korrupsie, en die ZONDO kommisie en die Politieke manne en hulle mannewales en al daai lekker dinge en dan praat ons nie eers van al die moord en doodslag in ons land nie. Wat nog te sê van oorloë tussen lande soos wat ons tans beleef. Gits wat kan ek en jy ook doen? Ons hande is redelik stomp afgekap! Jy sien dis waar ons die foutjie maak, ons kan baie doen. Ons kan bid!! Bid en baklei en swaard swaai in die geestelike realm waar die oorlog eintlik woed.
Soos ek deur die nuusberigte ‘scroll’ so bid ek vir die families betrokke, bid ek teen korrupsie, bid ek teen geslagsgeweld, bid ek vir die misdadigers. Bid ek vir die mensies in Oekraiëne, bid ek vir verwarring onder die Russe. MAAR en dis die groot MAAR, wanneer ek klaar vir die omie gebid het wat se vrou vermoor is, dan besorg ek hom weer terug aan die voete van Jesus, veilig in die arms van Jesus. Soms dra ek hulle ‘n paar dae in my hart rond, maar ek gee hulle altyd weer terug in die bekwame hande van Jesus.
Ons het in ons Verpleegkunde opleiding geleer om onderskeid te tref tussen simpatie en empatie. Simpatie is ‘n gevoel en uitdrukking van bekommernis teenoor jou medemens. Voel vir maar nie saam nie. Jy maak nie hulle hartseer jou hartseer nie. Empatie is om te voel wat die ander persoon voel, om in hulle skoene en emosies in te klim. Nooit ‘n goeie idee nie. Jy kan onmoontliik nie die hele wêreld se seer en lyding op jou skouers dra nie. Is jou eie bondeltjie op aarde nie swaar genoeg nie?
Natuurlik word ‘n mens soms moedeloos! Kyk hoe lyk die wêreld, die regering. Korrupsie, moord en doodslag, verkragting is die hoofopskrifte wat na jou terug staar. Ek weet al die dinge, maar raai wat? GOD IS STEEDS IN BEHEER! Of dit vir jou so voel of nie. Niks het verander nie. Ek gaan my nie moeg maak en God se werk namens Hom probeer doen nie.
BID, BID, BID… Dit is wat ek en jy kan doen. Onophoudelik, aanmekaar. My en jou knie koppies moet al vol eelte wees. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. (Jak. 5:16) Ons moet bid vir ons mooie land, die regering en die mense van SA. Ons moet bid vir samehorigheid. Ons grootste stryd is nie in die wêreld nie, maar lig teen donker. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. (Ef. 6:12)
God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. (2 Kor. 3:4) In hierdie bid-bediening van ons raak ek en jy nie moedeloos nie, ons het HOOP, Sy naam is JESUS. Hy wat gister en vandag dieselfde is, en tot in ewigheid. Hy sal jou hart deur genade versterk. (Heb. 13:8-9) Wanneer moedeloosheid en vrees jou oorweldig, hou jou oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof. (Heb. 12:2) Reik uit en raak aan die soom van Jesus… (Luk. 8:44)
