Eerstens wil ek net sê ek het ‘n probleem. My brein is geneig om my met tye te pootjie en my hart het die gewoonte om my te bedrieg. Sjoe vriendin, kan ek net sê, hierdie blog het my amper ondergekry. Dit was ‘n gesukkel soos min. Ek het later my hande moedeloos opgegooi en gesê: “Here, help tog ‘n bietjie, ek laaik nie van so sukkel nie!” Ek het ‘n een woord antwoord gekry: Inhoudsopgawe. So vriendin, die blog het ‘n: Inhoudsopgawe.
- Die Wenners.
- ‘n Oorloggeteisterde gebied.
- ‘n Bedrieglike hart.
- Die Aanklaer.
- Die Probleem.
- Lief van Altyd af tot in Ewigheid.
- Die Oplossing.
- Ten Slotte.

Onthou jy toe ons klein was het die oumense goed gesê soos: ‘Kinders word gesien en nie gehoor nie’ en moet tog nie waag om binne sien-afstand te sit nie, dan het jy tande getel. Nee, buitentoe met jou… of jy is kombuis toe gedelegeer om te gaan tee maak.
Ek wou hierdie stukkie al verlede week post, maar God het gesê: “Ek wil jou eers ietsie wys.” Vriendin, en dit wat Hy my gewys het was die klein dogtertjie met die wit rokkie in my, maar met ‘n heel hart. Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. (Mal. 4:2) Sy Woorde, Sy liefde het die Dogtertjie met die wit rokkie volkome genees. Vriendin, ek wil jou regtig net vandag kom bemoedig… hou uit, hou aan om genesing vir die kind in jou te soek… tot jy dit vind by die voete van Abba.