Uit die Nes Uit.

Om ‘n kind wat moet vlieg onder jou dak te hê, bring ‘n warboel onwelkome emosies eensklap in jou geselskap in. Sommige van die emosies ou bekendes, ander wat jy liefs wil vermy as dit enigsins ‘n moontlikheid was.

Min ma’s praat oor die  half voel van kinders wat die nes verlaat, en al weet ons dit kom, is mens nie regtig daarop voorbereid nie. Daar is te min ma’s wat rondborstig erken dat dit nie die wonderlikste tyd van jou lewe is nie. Daar is te min ma’s wat eerlik genoeg is om te sê, dit ‘suck’ nogals.

Vriendin ek wil jou nie oortuig dat dit maklik gaan wees nie, maar ek wil jou verseker dat jy OKAY gaan wees. Dat jou kind OKAY gaan wees, en dat hierdie net ‘n hobbel in die lewenspad is wat oorkom moet word. Continue reading “Uit die Nes Uit.”

Om te laat gaan…

Ek dink die afgelope paar weke vreeslik aan die tema… ‘om te laat gaan’, hoe ongemaklik en moeilik dit soms is. Miskien is dit omdat ousus Universiteit toe gaan, en dis weer laat gaan van voor af…

Kleinsus was 6 jaar oud toe beland sy per ongeluk in ‘n  huisbak, van die sesde vloer af sien ek die liggie beweeg af, af, af tot op die grondvloer. Op daai spesifieke oomblik het ek nie geweet of ek moet afhol met die trappe, of net so bietjie moet vasstaan vir ‘n oomblik nie. Na paar minute, wat absoluut soos ‘n ewigheid gevoel het, maak die huisbak oop en ek kyk in die verskrikte ogies van kleinsus vas en al wat sy uitasem uitkry is: “Mamma, ek het nou ‘n hartaanval in my kop gehad.” Nou ja, ek dink partykeer  om te laat gaan voel so  bietjie soos ‘n hartaanval in jou kop.

Ek onthou baie goed toe altwee die girls moes klein skooltjie toe gaan, vir die eerste keer na kraamverlof, moes manlief hulle vat, ek het eenvoudig nie kans gesien om hulle in die vreemde te los, om te draai en weg te stap nie, ek het aande voor die tyd al begin huil oor die moeilike laat gaan. Continue reading “Om te laat gaan…”

Soms Voel Ek soos ‘n Boetebessie.

Ja, is dit nie net die mooiste afrikaanse woord nie? As jy wonder, dis ‘n vroulike verkeersbeampte, beslis beter as die woord spietkop. Het jy al ‘n boetebessie in aksie gesien tydens ‘n kragonderbreking met ‘n te-veel fase robot. Sy moet kophou soos ‘n dronk weerluis. Dis ‘n diepe konsentrasie besigheid. Sy kan nie aan alllerhande dinge staan en dink nie. Sy moet konsentreer en doplet (dis nou dophou en oplet). Die oomblik as sy misbeduie of net vir ‘n oomblik aan ander dinge dink, dan kom daar groot ongelukke.

Nou vriendin, soms voel ek so bietjie soos ‘n boetebessie. Met al die baie emosies wat mammas en vrouens elke dag moet hanteer, en meermale in die regte rigting stuur. Jy probeer ook jou bes om die verkeer in die huishouding te bestuur, jy probeer jou bes om ongelukke te vermy en te voorkom, maar soms met twee meisiekinders in die huis wat party dae net uit hormone en emosies bestaan, en jy wat 100% vrou is ook uit emosies gemaak, raak dit soms ‘n onbegonne taak. Continue reading “Soms Voel Ek soos ‘n Boetebessie.”