Kinders van die Silwerrandjie.

God wants full possession of the soul. He does not merely want to tame our thoughts; He wants to transform them. AW Tozer

As jy na ‘n halwe glas water  kyk, noem jy dit halfleeg of halfvol? Ek dink dit sê nogals iets van mens se ingesteldheid so oor die algemeen. Laat mens bietjie dink, nê? Ek is geneig om meer na die halfvol kant toe te leun. Dis makliker op my gees en verstand om ‘n halfvol gesindheid te hê as ‘n halfleeg gesindheid. My ouma het ‘n oulike sê-ding gehad, as mens oor enige iets ongelukkig is of selfs bietjie klaerig gevoel het, het ouma altyd gesê: “Dit kon baie erger gewees het.”

Negatitiwiteit en negatiewe mense het ‘n manier om mens totaal en al uit te put. Negatiewe mense is geneig tot lewensmoegheid. Natuurlik voel ons almal van tyd tot tyd negatief. Ons is mos maar net mens- van stof gemaak. Maar negatiwiteit kan net nooit deel raak van ons DNA nie.

Hoe gemaak om negatiwiteit hok te slaan? Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Kor. 10:5) Dit wat jy dink, dit is jy ook. So wees versigtig wat in jou gedagtes omgaan. Dit bepaal jou gesindheid teenoor die lewe en die mense om jou.

Vermy negatiewe mense…want slegte geselskap bederf goeie sedes. (1 Kor. 15:33) kort voor lank klink jy soos hulle, dink jy soos hulle en klim negatiwiteit pens en pootjies in jou menswees in. As jy voel negatiwiteit bekruip jou van agter… Herinner jouself net weer aan die waaheid: God is steeds in beheer.

Miskien moet ons eenvoudig alles wat negatief is omkeer en omdop in iets positiefs. Dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (Spr. 3:7-8) Elke donker wolkie het ‘n silwerrandjie. Ons instelling moet verander sodat ons ophou vaskyk in die donker wolk, maar dat ons naarstigtelik soek na die silwerrandjie, maak nie saak hoe gering of klein. Ons moet nie net die silwerrandjie soek nie, wanneer ons om die braaivleisvuur staan moet ons die silwerrandjie bespreek en nie die donker wolk nie.

Wanneer ek en jy saam met ‘n vriendin koffie drink moet ons ‘n punt daarvan maak om die silwerrandjie te bespreek want hoekom? Ek en jy is kinders van die Lig, kinders van die silwerrandjie nie kinders van die donkerwolk nie. Ons moet aspris en met opset positief wees, positiewe dinge spreek en nie deel raak van die negatiewe massas om ons wat ons wil verswelg nie. Negatiwiteit steel HOOP… en wie wil tog nou sonder hoop leef? Beslis nie ekke nie!

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Kor. 4:18) Ons het ‘n vars perspektief nodig op die lewe. Ons uitkyk moet ewigheidswaarde hê, in plaas daarvan om te fokus op alles wat verkeerd is, nie lekker is nie. Ek en jy is nog nie in die hemel nie!

You cannot have a positive life and a negative mind.
Where the mind goes, the man follows.
Think about what you’re thinking about. Joyce Meyer

Jy kan kies waaraan jy dink, wat in jou kop aangaan is wat by jou mond uitkom, wat uit jou hart uitborrel. Ons kan onsself moedeloos redeneer die kant toe en daai kant toe, maar al wat ons regtig moet doen is om Filippense 4:8 in ons harte vas te maak en dit te lééf:

Verder, alles wat waar is,
alles wat edel is,
alles wat reg is,
alles wat rein is,
alles wat mooi is,
alles wat prysenswaardig is-
watter deur of lofwaardige saak daar ook mag wees-
daarop moet julle julle gedagtes rig.

Leef ‘n dankbare dankie-sê lewe. Gaan Sy poorte binne met dankliedere, Sy tempel met lofsange, dank Hom, prys Sy Naam, want die Here is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie. (Ps. 100:4-5) ‘n Dankbare hart vol van Jesus se liefde en genade wat uitreik na ander en die verskil maak in ander se lewens al is dit hoe gering.

As jy negatiwiteit uit jou lewe wil uitsny bly weg van FB, Instagram, Twitter en al die sosiale media platforms vol misleidende feite en baie maal leuens verskans as die waarheid. Mense maak mense negatief en sosiale media is ‘n uitstekende hulpmiddel om totaal en al negatief te voel. Moenie die lewe vooruit hardloop en alle scenario’s in jou kop leef van wat moontlik kan gebeur nie.

Vernuwe jou gedagtes daagliks, onthou ons gedagtes is waar die vyand die meeste steel, maar regtig net as ons dit toelaat. Moenie tob en verdwaal op verwoestende gedagtes nie- dis net glad nie goed vir my of vir jou nie. Gedagtes raak emosies en uiteindelik bepaal dit hoe ons optree of selfs nie optree nie. Vrede kom om te bly wanneer ek en jy dit regkry om ons gedagtes te onderwerp aan Christus.

As ons ons gedagtes weer en weer terugbring na God Drie-Enig, sal ons geleidelik die sentrale plek aan Hom gee, nie net in ons binneste nie, maar ook in ons praktiese, alledaagse lewe. Paul Tournier.

Jou lewe is in die hande van die God van hemel en aarde. Hy het jou! Die ewige God is ‘n skuilplek, jou skuilplek. Onthou: Sy arms is altyd onder jou. (Deut. 33:27)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *