
Kan ons op water loop? En die antwoord is inderdaad nee, ons kan nie. Twee slim fisikuste, Glasheen en McMahon het uitgewerk dat as ‘n mens teen 108km/h hardloop met bene twee keer soos groot soos die waarmee ons uitgereik is, doer daar in die begin met geboorte, dan is dit moontlik.
Maar nou lyk ons bene soos dit lyk, en ons kan verseker nie so vinnig hardloop nie. Jannie sê in elk geval die enigste verskil tussen my stadig en vinnig hardloop is my gesigsuitdrukking! So die kans dat ek op water loop is seker dan nog skraler… Hoekom verveel ek jou met die brokkie nuttelose inligting?
Sien, hier is die ding waaroor ek wonder… kyk in Matteus 14:22-33 loop Jesus op die water, en dan steek Petrus sy hand op, hy wil ook… en dis waar dinge interessant raak, hy loop tog ‘n stukkie op water, maar dan skop sy brein en denkprosesse in, want sjoe die golwe om hom is groot, en dan verdamp sy dapperheid en geloof in Jesus en hy begin sink…
Miskien is dit ook belangrik om te weet, net ‘n paar uur voor Jesus op water loop het Hy 5000 mans +’n klompie vroue en kinders kos gegee met 5 brode en 2 vissies. Dít alleen ‘n reusagtige wonderwerk…
Hier sit die dissipels in ‘n boot, besig om te roei en te stoei in die onstuimige waters op pad na Kapernaum. Dis tussen 3 en 6 in die vroeë oggendure, die tyd waar alles altyd donkerder en moeiliker voel. Jesus is agtergelaat aan wal, op Sy versoek, Hy wou eers die skare wegstuur en bietjie alleen-tyd op die berg saam met Sy Vader spandeer.
En dan wonder mens: hier gebeur so baie goed gelyk, maar wat wil die stukkie vir ons sê? Moenie op water loop nie, want jy kan nie? Dis nie ‘n goeie idee om sonder Jesus te roei nie? Moenie tussen 3 en 6 in die oggend op ‘n boot wees nie?
Dis seker hoekom ek al so lank oor die stukkie wonder en tob. En dit kom altyd terug na Petrus, Petrus is vir my so eg menslik, voortvarend, impulsief, dapper. (Ek dink sommer aan die oor wat hy afgekap het in die tuin van Getsemane.)
Jesus kom aangestap en praat met die asvaal-geskrikte dissipels, wat oortuig is Hy is ‘n spook! Jesus stel hulle gerus met hierdie woorde 27“Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” En Petrus toets bietjie die waters met die stelling: 28 “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom” en wat antwoord Jesus? 29 “KOM!” Net die een woordjie, en Petrus klim summier uit die boot uit. Hy dink nie oor die wetenskap en die onmoontlikheid om oppie water te loop nie, maar Hy ken die Een wat die woordjie spreek, en in daardie oomblik is dit genoeg.
Die storm is ook nie stil en die water kalm toe Petrus uit die boot klouter nie! Te midde van hoë golwe besluit Petrus, heel waarskynlik teen sy beter wete, om uit die boot te klim. Hy staan en redeneer nie met Jesus en vra om eers die storm stil te maak nie. Midde die storm klim Petrus tog uit die boot uit. Petrus besef ‘n belangrike ding, Jesus is veel groter as enige storm… weet jy dit vriendin? Weet jy dat Jesus veel groter as jou storm, omstandigheid, siekte, seer of moedeloosheid is?
Petrus klim uit die boot en loop op die water terwyl hy diep in die oë van sy Vriend en Leermeester kyk- die wonderwerk gebeur… ‘n mens, ‘n gewone mens soos ek en jy, loop oppie water. Wanneer begin Petrus sink? Hy haal sy oge van Jesus af, en ewe skielik sien hy die wind en die storm… en begin sink… die storm het nie verander nie, sy omstandighede presies dieselfde as 10 sekondes terug… wat wel verander het, is sy fokus. Wanneer jou fokus verander van Jesus na die wêreld, die storms en die omstandighede… dit is wanneer ek en jy begin sink.
Weet jy wat is vir my die aangrypendste gedeelte van hierdie hele gebeurtenis? Die oomblik toe Petrus in sy bang en benoudheid skree: 30 “Here, red my!” (al was hy besig om in sy eie ongeloof te sink) het Jesus Sy hand uitgesteek en hom gered. Hy het hom nie eers ‘n stukkie laat spoeg en spartel nie, hom bietjie gestraf vir sy ongeloof nie. Nee! Jesus tree dadelik op en gryp sy hand en red hom!
Petrus het met geloof uit die boot geklim en toe laat sy geloof hom skielik in die steek… het dit al met jou gebeur vriendin, dat jy met groot geloof iets aangepak het, met jou oë gefokus en gevestig op Jesus? En as jy omdraai is geloof nêrens te vinde nie? En dis hoekom ek so baie van ou Petrus hou. Hy was mens soos ek en jy. Sien jy hoe Genade hom te hulp snel toe Geloof die hase pad kies? En dis hoekom ek so lief is vir Jesus, Hy staan nie en toekyk hoe ek keer op keer sink nie. Hy steek Sy hand uit en gryp my stewig vas.
Van die einde van die aarde roep ek na U, wanneer my moed my begewe. Lei my na ‘n rots wat vir my te hoog is… (Psalm 61:3 [2020])
Hierdie verhaal is so gefokus op Jesus en Petrus wat op die water loop, maar tog ook sink… maar ek wonder wat van die ander 11 dissipels wat alles gade slaan uit die redelike veiligheid van die boot? Is daar ‘n besluit om te neem? Bly ek soos die ander dissipels in die boot en wag vir Jesus om my te kom red? Of vat ek die kans om saam met Jesus op die water te loop?
Die Bruidegom nooi jou vandag uit:
Kom dans saam met My op die branders, moet nie net op die water loop nie! Dans saam met My op die golwe!
Luister mooi na die woorde van die lied.

Amen 🙏. Dankie Martha vir die diep boodskap. Ek het dit nodig gehad vandag.
Dis die mooiste liedjie ♥️