Die Kat kom Weer…

Vroeër die jaar is ons Jack Russel van 13 jaar oorlede. Grietjie was ‘n goeie maat, veral vir kleinsus. Daar was ‘n band tussen die twee, ‘n kameraadskap. Vanaf Januarie het Grietjie se gesondheid net begin verswak, teen Maart was sy heeltemal blind. Ek wou regtig gehad het sy moet saam met kleinsus haar matriekjaar deursien. Soms word ons gebede net eenvoudig nie beantwoord soos ons gehoop of gebid het nie.

‘n Jaar of wat terug het ons nuwe bure gekry met ‘n nuuskierige kat. Soos dit gaan met katte en honde, het Grietjie en Lily nie oor die weg gekom nie. Lily het soms ‘n draai gemaak… maar dit was kort en skelmpies.

Die dag voor kleinsus se 18de verjaarsdag is Grietjie oorlede, ai wat ‘n droewige dag. Kleinsus se hart was stukkend, ons almal sin eintlik, maar kleinsus sin veral. Ek en Jannie het toe reeds lankal besluit om nie weer ‘n diertjie te kry nie. En nou is mens in twee geskeur, oor hierdie kind van jou met die gebreekte hart, en die regtig nie kans sien vir nog ‘n hond nie.

Weet jy wat? Soms beantwoord God ‘n gebed wat jy nog nie eers gebid het nie, soms voorsien Hy in Sy Almagtigheid ‘n behoefte van ‘n meisiekind wat swaarkry sonder haar beste maatjie. Dis asof Lily die opdrag verstaan het. Skielik was Lily baie meer by ons huis, het sy kleinsus begin uitsonder. Op haar skoot kom spring terwyl sy leer of IGO tekeninge maak. Het sy soms ‘n middagslapie kom vang, opgekrul in kleinsus se arms…

Turn your situation over to God because He can do more in a moment than you can do in a lifetime. -Joyce Meyer

En ja dis nie ‘n plaasvervanger vir Grietjie nie, maar dis tog ‘n bietjie van ‘n troos… en dit het my sommer laat dink aan hoe intiem-bewus God is van alles wat in ons lewens aangaan. Die groot goed, die klein goed, die alles-in-die-middel goed.

En dan skielik onthou jy van belofte-versies soos die ene in Filippense 4:19 [2020]: En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met Sy heerlike rykdom in Christus Jesus. En toe vang my oog vers 20: Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! Amen.

Ons moenie vergeet om dankie te sê vir hierdie Voorsiener van ons nie, om Hom te eer nie.

All of us have daily needs and wants. Do you realize that sometimes what you want might not be what you need? Thank God that He knows exactly what you need and He will be faithful to provide. -Joyce Meyer

Hy is teenwoordig in ons pyn en alleenheid, maar ook in ons blydskap en oorwinning. Hy gaan my en jou vooruit… jy weet mos… daar waar Hy alles ten goede laat meewerk vir my en jou. (Rom 8:28) Die God van die heelal gaan ons vooruit met Sy goedheid, guns en voorsiening. En luister ons moet versigtig wees om nie ons definisie van goedheid, guns en voorsiening te verwar met God sinne nie. Dit lyk meermale anders…

Wanneer ek en jy God eerste sit, val al die ander goed mooi netjies in plek, al voel dit soms verseker nie so nie, maar ons sien nie die groter prentjie nie, ons verstaan nie die plan nie. Miskien sal ons die kant van die hemel dit nie verstaan nie, maar ons vertroue is in ‘n onveranderlike God. Ons geloof stewig gevestig op God wat reeds in die toekoms is. God het reeds die oplossing, nog voor die probleem sy opwagting maak.

Ek sê dit baie, vir my self, vir my kinders en man, eintlik sommer vir almal, maar ek sê dit weer: God is in BEHEER. Hy sal voorsien… Hy sal die uitkoms gee. Hy is…

Aan U, HERE, behoort die grootheid en die sterkte, die luister, die roem en die majesteit- ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, HERE, behoort die koningskap, en U is as hoof verhewe bo alles. (1 Kron. 29:11 [2020]) Dít is die God wat ek en jy dien!!!

Ons mis soms …
Die “daaglikse brood”.
Die sagte antwoord.
Die oop deur.
Die mens wat onverwags daar is.
Die kat wat skielik op jou kind se skoot kom lê.

Fokus op God en Sy goedheid, want Hy is goed! Die wêreld is soms ‘n tawwe, onvriendelike plek, maar God is my en jou Sterkte, ons Rotsvesting en Voorsiener.

En verseker is dit so dat God se voorsiening nie onmiddellik beskikbaar of sigbaar is nie…

Soms is daar stilte.
Soms is daar ‘n wagtyd.
Soms verstaan ons glad nie.
Maar selfs in daardie stiltes, selfs in die wag, is God daar.
Sy liefde het nie verdwyn nie.
Sy genade het nie opgedroog nie.
Sy voorsiening het nie opgehou nie.

Die woorde van Psalm 23:1 kry dan vir my ’n nog dieper betekenis:

“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.”
— Psalm 23:1 (1983)

Die Herder weet wat Sy skape nodig het.
Hy voorsien.
Hy beskerm.
Hy lei.

Soms bid ons vir ’n deur wat moet oopgaan en God maak ’n ander deur oop. Soms vra ons vir iets om te bly, en God laat dit gaan. En soms, net soms, stuur Hy ’n kat wat op ’n meisiekind se skoot kom krul wanneer haar hart nog seer is.

En soms wanneer Lily onverwags om die hoek van die huis aangestap kom dan hoor ek hoe God fluister:

Ek sien jou.
Ek ken jou behoeftes.
Ek is hier.
… En Ek sal voorsien.

5 Replies to “Die Kat kom Weer…”

  1. Sjoe, ek het hoendervleis èn trane in my oë. Jy het emosies en eie besluite so mooi verwoord en toe uitgekom by God se Emosies en Besluite, wat BAIE beter is as ons sin juis omdat Hy verder kyk en weet.
    Life is not fair, but God is Good!

  2. Sjoe,ja sommer net so maklik vir Hom.LIily sommer net‐daar! Nie gesoek na n kat, of op n advertensie reageer nie.Ook nie by die DBV gaan n draai maak nie.Sy was net daar!! Is Hy nie wonderlik nie?!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *