
Ek het jou gemaak na My beeld, (Gen. 1:27) volmaak in alle opsigte. Die hare op jou kop het ek getel (Matt. 10:30), jou naam is in My handpalms gegraveer en niemand sal jou ooit uit My genadige, regterhand kan uitruk nie. (Jes. 49:16)
Niks kan jou skei van My liefde nie, geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die Skepping nie, want jy is Myne. (Rom. 8:38)
Jy is die appel van my oog (Sag. 2:8), Ek is ORAL waar jy gaan, wees vasberade, wees sterk want ek die Here jou God is by jou, (Jos. 1:9)
Toe jy gedink het jou voete gly het My liefde jou regop gehou. (Ps. 94:18-19) Omdat jy regverdig is en al jou sorge aan My oorggelaat het, het ek jou nog NOOIT in die steek gelaat nie. (Ps. 55:23) Geseёnd is jy, Gekroonde vrou, wat weet hoe afhanklik jy van God is, want aan jou behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:3)
Ek het jou nog altyddeur gelei, selfs in die moeilike hartseer tye, het ek in jou behoeftes voorsien. Ek het jou sterk gemaak, want jy is soos ‘n fontein met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jes. 58:11) My genade was nog atyd vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.(2 Kor. 12:9)
Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles, maar omdat jy My dien, verdien jy om geprys te word. (Spr. 31:30) Jou skoonheid is die van die innerlike mens, blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by My groot waarde. (1 Pet. 3:4)
Jy leef in die Lig! Uit die Lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. (Ef. 5:8) Ek is jou Herder en jy het nog nooit niks kort gekom nie. (Ps. 23:1) Net by My vind jy rus. (Ps. 62:1) Ek is by jou, Ek die krygsman wat red is vol vreugde oor jou, Ek is stil-tevrede in My liefde vir jou. Ek jubel en juig oor jou, My dogter. (Sef. 3:17) Net goedheid en guns sal jou lewe lank by jou bly. (Ps. 23:6)
Ek bemin jou, jy is veilig by MY! Jy leef onder My beskerming! (Deut. 33:12) Uit My oorvloed het jy nog altyd genade op genade ontvang. (Joh. 1:16) Dit was altyd vir jou net goed om naby My te wees, My op te soek, My aangesig te soek, My geselskap. (Ps. 73:28) My stem het jy nog altyd goed herken wanneer jy die koers verlaat het, het ‘n stem agter jou gesê “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21)
Maar Ek seёn jou en beskerm jou, Ek verskyn tot jou redding en is jou genadig. Ek verhoor jou baie gebede en gee aan jou My vrede. (Num. 6: 24-26) Ek het jou lief, liewe dogter. (Jes. 62:4)
(Opgedra aan ouma, wat nou in die hemel woon.)

So mooi
Soooo mooi geskryf Martha. Ouma en die engeltjies is baie trots.