
Aan hulle vrugte sal julle hulle uitken… ‘n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. (Matt. 7:16, 18)
Ek moet bieg, soms gebruik ek Chat GPT as woordeboek, of as ek ‘n stukkie wil vertaal, of as ek nuuskierig is oor ‘n onderwerp. En dis als goed en wel, want ons moet sekerlik byhou by tegnologie en die vinnige verandering van die lewe, MAAR- en is daar nie altyd ‘n maar nie? Ek en jy moet baie versigtig wees wanneer ons die opinie van AI inwin wat geestelike sake aanbetref, ons kan en moet verseker nie alles soos soetkoek opeet nie! Hoekom nie? Want ChatGPT het nie die Heilige Gees van God nie.
Daarmee saam, ook nie onderskeiding, wysheid en insig uit die skatkamers van die hemel nie! Soos sommige mense, het Chat GPT baie kop kennis, maar geen persoonlike verhouding met God nie. Ek het toe besluit ek gaan sommer vir ChatGPT self gaan vra: Het jy die Heilige Gees van God in jou? Kort antwoord: Nee.
Ek is ’n kunsmatige intelligensie en het nie ’n gees, siel, bewussyn of geloofservarings nie. Ek kan wel help om oor geloof, die Bybel, teologie of die Heilige Gees te praat — maar ek ervaar dit nie self nie.
Ek dink hierdie is vir ons almal ‘n vermaning tot versigtigheid… ons moet versigtig wees waar ons ons inligting vandaan kry, wat ons glo, wie ons glo… ek dink die allerbelangrikste bron van God en oor God is die Woord self. En ek weet, daar is soveel goed in die Woord wat ons nie verstaan nie, wat soms wel… Grieks lyk. Ek en jy het wel die Heilige Gees van God, en Hy kan ons bystaan om die Woord oop te breek, soveel soos ons kan verstaan. Ons het werklikwaar nie nodig om na Chat GPT te hardloop vir die antwoorde nie.
My liefste vriendin wat in JHB woon, het anderdag vir my gesê, haar gedagtes en brein is soos ‘n Eekhoring sin, bietjie hier, bietjie daar, besig met dit, dan besig met dat… en ek moes lag, want ek vermoed ek ly ook aan die Eekhoring-sindroom. Elk geval, toe spring my gedagtes sommer van Chat GPT na mense, wat soms so bietjie soos ChatGPT is, hulle weet alles… het altyd die antwoord, maar as jy na die vrug van hulle lewe kyk, dan wonder jy: Het hulle nou die Heilige Gees, of het hulle nie die Heilige Gees nie?
En dan vra ek myself af, is my vrug van Maandag-Saterdag dieselfde as Sondag? Die vrome-ek wat sing in die kerk, stil sit en mooi luister wat die Dominee sê? Is dit dieselfde ek wat Maandag misluk en ongeduldig was met die kassier by Checkers, wat tussen Dinsdag en Donderdag my kinders verskree, skel op die dromkrapper, en die stilstuipe tussen my en my beterhelfte tot ‘n kuns vervolmaak? Hoe lyk my middel van die week vrug wat ek dra, lyk dit min of meer asof die Heilige Gees in my woon?
As jy my Vrydagaand raakloop in een of ander kuierplek, en Saterdag tussen rugby, brandewyn en braai? Is daar darem ‘n deeltjie, ‘n vruggie, ‘n getuienis wat skree ek behoort aan HOM? Loop ek teen die einde van die week steeds oor van die Heilige Gees, of vra ek HOM om eerder tuis te bly hier van Vrydag laat, tot net voor kerk Sondag? Dis beter vir HOM en vir my?
Ek is ‘n fyn waarnemer van die lewe, ek sien en beleef dinge soms, miskien te intens, miskien is my lyn tussen reg en verkeerd, lig en donker te rigied? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ek die Heilige Gees van God nie wil bedroef, deur dit wat ek sê, dit wat ek doen nie. Ek wil regtig leef soos een wat in ‘n lewendige verhouding met die God van die hemel en die aarde staan… en ek wil verseker hê mense moet nou nie gaan wonder of ek die Heilige Gees het… of nie!
So hierdie is nie ‘n aantyging nie, dis ‘n wonder… baie vrae en te min antwoorde… miskien het dit so klein ietsie te doen met ‘n boodskappie wat ek onlangs op FB gekry het, ‘n persoon wat my van geen kant af ken nie wat skryf: ‘In my hart voel ek jy is ‘n Hipocrite…’
Ek moes lag, want ek moes eers doodseker maak wat die woord beteken, eintlik beteken dit maar skynheilig, jy sê iets, maar doen iets anders… eintlik beteken dit net jou vrug vrot of is afwesig.
Ek glo aan seën en blok… want soms moet mens duidelike grense hê, waar mense nie jou hart kan bykom nie. Tog, agterna, het ek so bietjie gewonder, en gevra: Heilige Gees wys my as daar iets is wat vrot is, vrug wat nie soos vrug lyk nie, dinge wat nie daar behoort te wees nie…
Miskien is dit waaroor al die wonder en vrae dan vandag eintlik gaan? Hoe lyk die vrug wat ek dra, hoe lyk die oes? Is dit mooi, is dit goed in die oë van my Meester en Heer?
Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God… (Kol. 1:10)
Lyk dit wat ek sê en doen asof ek aan God behoort, want daar moet nie spasie vir wonder wees nie. Ek praat veral van die mense na aan my en jou hart, kan hulle die Heilige Gees in ons sien? Kan hulle die Heilige Gees eerstehands beleef in ons doen en late… Is ek en jy Jesus vir die mense wat ons bemin?
My gebed vir jou, en beslis vir my ook asseblief, is mooi vasgevang tussen die woorde van Filippense 1:9-11,
Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag wat Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.

Hi Martha,
As ek my eerlike opinie mag gee…. jy is verseker nie ‘n hipocrate nie! Jy is en was nog altyd anders as meeste mense, en nooit kon ek my vinger daarop le nie!, Vandag weet ek hoekom! Dit is die Gees van God binne-in jou wat ek nog altyd kon raaksien! Jou wandel met en bewustheid van die Heilige Gees!!!
Weet dat jy GENOEG is!
Baie liefde en God’s rykste seen!!!
Pannie.
Liefste Pannie,
Jou woorde beteken vir my baie. ♥️