‘n Vier Sekonde Soen.

Tydens my onlangse studies het ek ‘n kosbare waarheid raakgeloop, of miskien kan mens dit ‘n ‘tip’ noem? Ek het besluit om dit te ‘toets’ op manlief. En die effek wat dit op ons huwelik kan hê. En hy was ‘n gewillige deelnemer aan my impromptu narvorsings projekkie.

So die naam van my navorsingsprojekkie, sou dit nou ‘n naam moes kry, sou ietsie wees soos: Die Effek van ‘n vier sekonde soen op ‘n oud, maar nie koud, getroude paartjie- dit klink baie wetenskaplik nê?

Iedergeval, dit is wat ‘n soen doen as dit ten minste vier sekondes duur:

Dit verhoog Oksitosien, ‘n hormoon wat jou nader aan jou maat laat voel.
Dopamien vlakke verhoog. Dit is jou belonings-hormoon en dit gee ‘n gevoel van opwinding.
Verhoogde Serotonien gee ‘n gevoel van emosionele stabiliteit.
Verlaagde Kortisol -wat om sy beurt jou stresvlakke verminder.

En glo dit as jy wil, of nie- dit is wat gebeur as jy vir 4 sekondes soen! En werk dit? Ja beslis! En natuurlik sal jy dit moet toets- jy kan later dankie sê! So, wat sê ons eintlik? Beide die man en vrou se breine verander tydens ‘n soen. Ten goede, vir die beter.

Sien ons sukkel om met mekaar te ‘connect’, op emosionele vlak, daar is soveel goedjies wat ons aandag aflei en hou van dit wat werklik belangrik is. Daar is werk, lewe, kinders, skool, sosiale media, skerms, kerk, vriende… regtig eintlik te veel goedjies om op te noem! En vriendin, ons moet bemoeienis maak met ons huwelike… as al ons kindertjies uit die nes geval en weggevlieg het, raai wie bly oor? Net jy en hy… en dan wil ek en jy nie na die vreemdeling voor ons kyk en wonder … nou wat op aarde nou nie!

So hoe werk die implimentering van hierdie navorsings projekkie. Goeie begin is soen hom hallo en soen hom totsiens… vir 4 sekondes… onthou jou brein het darem tyd nodig om al die hormone in plek te kry en af te skei. (En ek belowe jou dit raak so belangrik, dat ‘n vriendin se man omgedraai het op pad werk toe, want hulle het vergeet om vir 4 sekondes te soen!)

Hierdie eenvoudige gebaar dra dan by tot ‘n gevoel van emosionele veiligheid… Dit beteken, jy is vir my belangrik genoeg dat ek hierdie paar sekondes kan stilstaan by net ons twee. Dat hoor en sien kan vergaan in hierdie oomblik, want al wat op die oomblik vir my belangrik is, is jy. Eintlik dra die gebaar veel meer gewig as net die fisieke naby wees, dit verklaar. Jy is vir my genoeg dat ek vir nou net naby jou wil wees, naby jou hart waar ek hoort. ‘n Innige soen sê sonder woorde, vir jou het ek lief, jy is vir my belangrik, jy is vir my genoeg!

When husband and wife are united in marriage, they no longer seem as something earthly, but as the image of God Himself.
(St. John Chrysostom)

Daar is soveel hoop vir huwelike! Daar is soveel klein goedjies wat so groot impak kan hê op ons huwelike, maar ons moet nie oorgerus raak in ons strewe na ‘n gelukkige huwelik nie. Dis harde werk om ‘n huwelik te laat werk.

Kom ons noem dit ‘n intensionele huwelik. Wanneer alles wat jy sê en doen tot voordeel strek van jou maat! Wanneer jy soen met intensie, nie omdat dit ‘n gewoonte is om so in die verbygaan mekaar so skrams op die wang te piksoen nie. Is ons teenwoordig? Is ek en jy in die oomblik dáár, in liggaam, siel en gees. Of dink ons aan alles wat nog gedoen moet word, aan ‘n kind wat siek is, aan die inkopies wat later nog moet gebeur?

Then Adam said: “At last! One like me! Her bones were formed from my bones, and her flesh from my flesh! This one will be called ‘Woman,’ for she was taken from man.” For this reason, a man leaves his father and his mother to be unselfishly attached to his wife. They become one flesh as a new family! (Genesis 2:23-24 [TPT])

Ek dink die mooiste vertaling van hierdie versie, is steeds die 1953 weergawe 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

En om een vlees te wees beteken eenheid, emosioneel en fisies. Dit beteken daar is ‘n geestelik verbondenheid, want ek, en die man wat ek liefhet, het ‘n belofte afgelê teenoor mekaar, maar nog belangriker in die teenwoordigheid van God teenoor God. In hierdie een vlees wees, kan ek myself wees, kan ek kwesbaar wees.

In hierdie eenheid wat verseël word deur soene en aanraking, is daar altyd wedersydse respek. Groei ware intimiteit nie juis daar waar ek veilig voel, waar selopofferende liefde ‘n gegewe is, waar vergifnis en genade in oorvloed is nie? Is ware intimiteit nie dat ek Jesus vir my maat word nie? Dat wie Hy is, reflekteer en deurskyn na my beste maatjie toe…

Because with the right person, sometimes kissing feels like healing. (Lisa McMann)

4 Replies to “‘n Vier Sekonde Soen.”

  1. Wow! Dis presies wat ons gaan probeer!
    Mens raak so gou in die lewe se “rat-race” vasgevang!!
    Dankie vd deel hiervan🍃

  2. What a powerful strong message to all married couples. I would love to read more

Comments are closed.