
God calls us to obey Him. God does not call us to obey every wish and whim of other people. God calls us to love other people. God does not call us to demand that they love us back and meet every need we have. (Lysa Terkeurst)
Ek het onlangs ‘n wonderlike boek gelees van Lysa Terkeurst, en dis ‘n absolute MOET lees. Die boek se naam is Good Boundaries and Goodbyes. Vandag se blog is nou nie ‘n opsomming van die boek nie, so jy sal dit maar moet gaan lees.
Lysa skryf uit ‘n plek van diep pyn, persoonlike verlies… en al die lessies wat sy langs die seer-pad geleer het. Die eerste gedagte wat vir my uitgestaan het in hierdie boek, is dat grense Bybels is, en ek dink nie ek het al ooit so daaraan gedink nie, want ons leer: jy moet jou naaste lief hê soos jouself, ons leer ook in 1 Korintiërs 13 presies hoe hierdie liefde moet lyk! Verhoudings wat werk het grense met gevolge!
As ons dink aan grense in die Bybel dan dink mens onwillekeurig aan Adam en Eva en die boom van goed en kwaad. Hier was ‘n grens wat oortree is met geweldige nagevolge, wat vandag nog geld! Ek dink ‘n grenslose verhouding het ‘n rippel-effek, maar op geen manier is dit ‘n goeie ding nie. Dink ‘n bietjie aan ‘n vrou wat in ‘n toksiese verhouding of huwelik vasgevang is, sal hierdie toksisiteit nie oorvloei na haar kinders nie? Sal dit nie direk en indirek hulle toekomstige verhoudings beïnvloed nie?
Ek dink die tweede gedagte wat my aandag getrek het, wat vir my pragtig was is die oorspronlike betekenis van Goodbye. It’s interesting that the original phrase in the late 1500s was “God be with Ye.” The contraction of that phrase was “Goodbwye” which eventually became “goodbye”. (Lysa Terkeurst) So wanneer ons op die punt kom waar ons mense moet groet vir hulle en ons eie beswil, dan laat ons hulle in die bekwame hande van God terwyl ons bietjie terugstaan, terwyl ons bietjie afstand toelaat.
Tydens my studies die afgelope twee jaar was my gunsteling module by verre verhoudings. Want is God nie ‘n God van verhouding nie? Verhoudings is belangrik, gesonde verhoudings nog belangriker. So ek het gewik en geweeg om hierdie stukkie ‘Koningin van my Kasteel’ te noem, ousus het besluit Grense en Groete klink beter, seker oor die Alliterasie!
(Sommige verhoudings, soos ‘n huwelik wat uitermatig toksies is, waar verslawing ‘n rol speel, waar persoonlikheids uitdagings ‘n ding is- ek praat nie van dit nie, lees die boek, dit sal jou lewe verander)
Sommige mense, die met hulle eie stories en seer, en trauma wat nie lekker verwerk is nie, wat naby my en jou leef, naby ons harte leef, is soms die mees uitdagendste van alle verhoudings, en selfs hierdie verhoudings (en miskien eerder veral hierdie verhoudings), het grense nodig. Soms meer in hart as woord en daad.
So hoe werk die Koningin van my Kasteel beginsel? Net wat dit sê, dit beteken jy kies: wie is in, wie is uit, wie is naby, wie is ver… wie kan ek vertrou naby my hart, met my hart. Watter verhouding bly eerder, liewerste oppervlakkig- ‘n koeitjies en kalfies verhouding. Wie is in die binnesirkel, wie is in die buitesirkel en wie het die sirkel gemis.
Jou kasteel, jou hart, jou keuse… en net ter verduidelik, die kasteel is jou hart. Wat het ‘n kasteel? ‘n Wag, of ‘n soldaat of iemand wat net die mense wat binne hoort, binne toe te laat.
Ek bly op die derde verdieping van my kasteel, want die uitsig is die mooiste van daar af. Almal wat ek 100% met my hart vertrou het ‘n kamer op hierdie vlak, almal wat al gewys het, hulle dra my belange op die hart is welkom hier. Hulle het die grootste sê, en wanneer hulle praat luister ek graag.
Die mense op die laer vlak is nie minder belangrik nie, maar hulle het nie vrye toegang tot my hart nie. Wat hulle sê mag en kan my nie affekteer soos die mensies op die boonste verdieping nie. Hulle het nie direkte toegang tot my hart nie.
My kasteel het ook buite geboue, natuurlik, en perdestalle… en raai wat sommige mense bly daar. Wat hulle sê het GEEN effek op my hart nie, want hulle staan buite. Nou wat nou van om in vrede met almal te leef, en hê genade met jou medemens en wees lief vir jou naaste? Dit geld 100% nogsteeds, want ek en jy gaan nie wyd en syd verkondig, wie bly waar, en wie is in en wie is uit nie. Nee, jy gaan almal met uitermatige respek en liefde hanteer, nogsteeds, soos altyd.
Maar jy gaan jou hart beskerm, en jy gaan nie toelaat dat die outjie wat in die perdestal bly, jou vrede steel nie, want hy kan nie, want sien hy bly nie op die derde verdieping naby jou hart nie. Dit wat hy sê en wat hy doen, is soos water op ‘n eendjie se rug.
Vriendin, ons laat toe dat wat ander mense se doen en sê ‘n geweldige groot effek op ons het, ons gee ons vrede gratis en verniet weg, gits dit raak soms so erg dat dit ons geestes-gesondheid negatief beïnvloed- en dit alles vir die outjie wat in die perdestal slaap tussen die mis en die hooi!
Ek dink ons kort bietjie oefening, ‘n stukkie papier en pen. Teken jou kasteel, dink mooi wie kry watter kamer, wie bly waar. En weet jy vriendin, jou kasteel, jou reëls, wanneer jy sien iemand op die derde vlak gedra hom nie soos iemand wat jou belange op die hart dra nie, pak gerus sy tassie, hy raak dan ‘n perdestal bewoner tussen die mis en die hooi, en miskien eendag op ‘n reëndag, bewys hy homself weer as iemand wat ten minste op die eerste vloer kan kom woon van jou kasteel.
En hoe hartseer dit ookal is, soms is die perdestal bewoners juis dié wat veronderstel is om aan jou kant te wees, iemand wat veronderstel is om jou vangnet te wees. Stel vandag jou grense in plek, skop die vreugde- en vrede stelers uit die boonste vloer en begin leef met ‘n nuwe vryheid en ‘n heel hart.
Boundaries aren’t meant to shove love away. Quite the opposite. We set boundaries so we know what to do when we very much want to love those around us really well without losing ourselves in the process. Good boundaries help us preserve the love within us even when some relationships become unsustainable and we must accept the reality of a goodbye. (Lysa Terkeurst)
Ek nooi jou uit vriendin, as jy voel jy het iemand nodig wat net bietjie na jou hart te luister, jou storie te hoor…sonder oordeel… Ek luister graag…

Dankie jou dierbare mensie vir hierdie boodskap. Ek gaan beslis:
Stel vandag jou grense in plek, skop die vreugde- en vrede stelers uit die boonste vloer en begin leef met ‘n nuwe vryheid en ‘n heel hart.
Jy beteken sooooo baie vir my met jou mooi diep boodskappe. Ek is so dankbaar vir jou in my lewe. 🙏🏻🙏🏻