
Ek weet die volgende van ‘n woestyn: dis warm, sanderig en ongemaklik. Ek raak sommer dors as ek net aan ‘n woestyn dink, maar dis ook mooi, Namibië met sy eindelose duine, Sossusvlei met sy dooie-boom woud wat getuig van uithouvermoë en genade onbeskryflik groot. Daar is min woorde wat die mooiheid van die niksheid kan beskryf.
Soms, wanneer ons ons oë uitvee bevind ons onsself pens en pootjies in die spreekwoordelike woestyn, of ek en jy bevind ons op die rand van die woestyn, en daar is geen keuse nie, dis deur die woestyn, geen kortpad, ompad nie. Die beste wat ons voor kan hoop is lafenis in ‘n onverwagse oase in die woestyn.
Een ding weet ek verseker van ‘n woestyn belewenis, dis wanneer my ore en oë die oopste is, wanneer ek My Verlosser die duidelikste hoor en sien. Vraag? Gaan jy die God van die hemel en die aarde toelaat om jou te versorg in die woestyn? Hom toelaat om jou hart te genees, jou geseslskap te hou in jou woestyn? God se natuur is voorsiening… Ek het jou in die woestyn gevind, opgeraap, omhels en vertroetel. Ek sal jou versorg, want jy is die appel van My oog. (Deut. 32:10)
Wat is jou woestyn se naam? Eensaamheid, egskeiding, bankkrotskap, siekte, dood van ‘n geliefde, bekommernis oor jou kinders? Jou woestyn en die belewenis van jou woestyn is jou eie… jou en my woestyn lyk ook nie dieselfde nie, maar die God van Abraham, Isak en Jakob is alomteenwoordig in jou en my woestyn. Steek jou arms en jou menswees uit na Jehovah Jireh, God wat versorg, en Hy sal jou opraap en jou deur jou woestyn dra.
Jesus was self 40 dae in die woestyn, sonder kos en sonder water. (Gaan lees weer bietjie Matteus 4) So as jy by Sy voete gaan sit en sê, “Here ek kan nie meer nie, die woestyn is eindeloos groot en onoorkombaar” dan sal jy Hom saggies in jou hart hoor fluister: “Jy is nie alleen nie, Ek verstaan, Ek is by jou.” Daar is drie kosbare lesse om by Jesus te leer oor sy Woestyn-beproewing. Trek die Woord van God nader, stuur die mannetjie met die horings weg en laat God toe om jou te versorg.
Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug, ‘n skuilplek in tye van nood. (Ps. 10:10) So wanneer jou woestyn jou oorweldig en jy op moedverloor se vlakte inmekaar sak. Vlug na die Here, in Sy arms in.
God sal jou kom red, hou moed, hou uit, hou aan. Liefste vriendin wat in die woestyn vasgevang is, God sê vanoggend vir jou: “Wees sterk, moenie bang wees nie, Ek is hier! Daar sal ‘n grootpad deur jou woestyn loop, en dit sal bekend staan as die gewyde pad. (Jes. 34:4, 8) Kom saam liewe kind, Ek sal vir jou die pad wys. Ek dra jou teen My bors, Ek sorg vir jou. (Jes. 40:11)
Ek gaan jou woestyngedeeltes maak soos Eden, die barre wêreld verander in My tuin. Daar sal vreugde en blydskap wees. (Jes. 51:3) Wanneer jy blinkoog en verfris uitstap uit jou woestyn sal jy opnuut besef jy was nooit alleen nie. Jou krag was altyd genoeg en jy was sterk genoeg om met die hulp van God Almagtig die woestyn in jou lewe te oorkom.
My wens en die begeerte van my hart vir jou my liewe vriendin in Jesus is dat:
Jy by die Allerhoogste sal skuil en dat Hy jou sal beskerm.
Dat die God van die hemel en die aarde jou sal beskut onder Sy vleuels en
Sy trou sal jou beskerm van alle kante.
Bang hoef jy nie langer te wees nie, want
God self gee Sy engele opdrag om jou te beskerm
op jou tog deur jou woestyn.Omdat jy God liefhet sal Hy jou red,
omdat jy Hom ken sal Hy jou beskerm.
Hy sal jou smeek-huil-gebede hoor en verhoor.
Hy sal jou red en jou eer herstel. (Ps. 91)
