Liefde in Onbeantwoorde Gebede…

As ‘n dogtertjie van 12 jaar oud, was ek klaar broeis, regtig! Ek wou opsluit my eie babatjie hê, gits op daardie stadium het ek nie eers geweet ‘it takes two to tango’ nie. Dit was my hartsbegeerte… dit het gehelp dat my ma ‘n dagsorg by die huis bedryf het, man ek het lekker pop gespeel! Ek is so bly God het nie my gebed beantwoord om op 12 al ‘n mamma te wees nie.

Tydens my opleiding as jong verpleegstudent het ek in Universitas se SSE eenheid gewerk, dis ‘n Spesiale Sorg Eenheid vir premature babas. Sjoe!  Daar het ek eers lekker pop gespeel, van daai klein baba-lyfies was so bitter klein en cute en oulik. Ek praat van minder as 1,5kg klein. ‘n Skamele botter en ‘n half. Dit was die lekkerste ding om hulle te voed, en te bad en te versorg. Dis soos om ‘n kleuter in ‘n speelgoedwinkel of lekkergoedwinkel vrye teuels te gee. Ek het gebid dat ek ook eendag so klein babatjie kon hê, sjoe ek is so dankbaar God het besluit om my versoek te ignoreer en vir my ‘n meisiekind wat twee keer plus soveel weeg af te lewer. Continue reading “Liefde in Onbeantwoorde Gebede…”

Ode aan Vader.

“Heilig, heilige, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. Here, ons God, my God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep.” (Openb. 4:8,11)

Here, tye soos nou, wanneer die wêreld ‘n vyandige plek is, tye van vrees en onsekerheid, dis tye soos dié dat ek net U goedheid en vrede wil in adem, tot ek tot oorlopens toe vol is van U teenwoordigheid en liefde. Here, wat ek met onsekere treë U troonkamer ongesiens wil inkruip net om te wees, naby aan U hart te wees… Continue reading “Ode aan Vader.”

Sproetjies.

Sjoe! Dankie Kleinsus vir Sproetjies. Ek eer die Here vir die talent waarmee Hy jou vir nou toevertrou het!

Ek is mal oor musiek. Ek luister omtrent altyd na musiek. Sonder musiek sal ek nie ek wees nie! Ek luister die meeste Christelike musiek, maar regtig enige musiek kan gaan. (Behalwe klassiek, boeremusiek en die Briels, daar trek ek ‘n defnitiewe streep) Die beste geskenk wat Jannie nog ooit vir my gegee het, is ‘n draagbare speaker. (Dankie my engel!) Ek vat die speaker oral saam waar ek gaan. As ek skryf, stryk, wasgoed ophang… die werke. Die ergste is ek sing kliphard saam… Jannie sê hoeka ek klink soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat… arme bure!

Gister is ek oppad skool toe vir my daaglikse me-time. Dis nou die 30-minute wat ek voor die Hoërskool sit en boek lees! Oppad luister ek Sproetjies. Ek raak sommer nostalgies, want dit is mos musiek waarmee ons grootgeword het. Ek raak sommer so bietjie opstandig en ongeduldig met Sproetjies wat haar self nie deur sy oë gesien kan kry nie. Ai en dis mooi goed hoor:

“Sproetjies, daars ‘n reënboog in jou oë, almal wil graag soos jy wees, want jy’s pragtig, lieflik”. En die jare stap aan en Sproetjies verander van ‘n lelike eendjie in die mooiste swaan, ‘n swaan wat kan dans ook nog, met ‘n gehoor wat sy bekoor, maar wat sê Sproetjies? “Ek wens ek kon my deur jou oë sien…” Continue reading “Sproetjies.”