Plekkie in die Son.

Ons was vroeër vanjaar in die Kgalagadi Transfrontier Park vir ‘n paar dae. Ons gesinnetjie van vier het eintlik heel uiteenlopende belangstellings en  is half dieselfde, maar ook heel verskillend. So hou ek die spulletjie dop en besef eintlik ‘n baie belangrike ding. Ons almal kyk vir presies dieselfde goed maar vanuit elkeen se unieke oogpunt lyk die Park en die wêreld om ons heel anders.

Kleinsus is die grond-kyker, sy kyk letterlik (meestal) in ‘n radius van 2m om die bakkie. Met die gevolg sy sien al die muise, grond eekhorings en meerkatte raak. Goeie, skerp ogies, haar naam beteken nie verniet fyn waarnemer van die lewe nie. Ousus sit met die verkyker, sy is die roofdier-spotter wat op die kliprandjies soek vir leeus, luiperds en jagluiperds. Ons was baie gelukkig en het sommer al drie gesien. Continue reading “Plekkie in die Son.”

Baklei net Mooi!

Eintlik kan ek nie raad gee oor mooi baklei nie, ek het hopeloos te min ondervinding. Hoekom? Ek is defnitief-beslis ‘n nie-bakleier, ‘n konflikvermyder! So in ons huwelik lyk dit mooi want so trou ek toe met ‘n mede-wil-nie-baklei-want-ek-hou-nie-daarvan maatjie. So ons baklei stil-stil, ek kan dalk op my een hand tel hoeveel keer ons baklei het. Regtig vasgesit het. Dis natuurlik ‘n persoonlikheids ding en nie oordat ons so oulik is nie!

Ek kan ook nie stilstuipe doen nie… geen verrassing daar nie, want ek het 7000+ woorde wat ek per dag moet gebruik. Die eerste en enigste keer wat ek dit probeer het, het ek Manlief wakker geskud en net gesê ons maak nou reg, praat die ding uit, maak op. Gun mens kan met soveel onmin en kwaad in jou hart slaap nie. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef. 4:26-29)

Dis baie goeie raad, want kan jy nou net dink watse vrugbare grond jy vir die vyand lê en voorberei in die nanag met al die gesprekke en oorlog in jou kop… kom ons doen daai eerder nie.

‘n Hele paar jaar terug ry ek een oggend uit die motorhuis uit, en a.g.v min aandag en haastigheid sien ek nie die Fortuner se kattebak staan oop nie. Nota aan self… ‘n Fortuner met ‘n oop kattebak pas nie deur ‘n standaard motorhuis deur nie… en jy sal maar my woord daarvoor moet vat. Ek kan getuig dit werk nie. Ai, ek weet, ek ry toe mooitjies in die motorhuis vas. Jip, die muur gedeelte. Groot skade, die kattebak het net-net toegemaak, windskeef en uit plek uit, maar darem toe genoeg dat ek die kids kan gaan aflaai.

Ek was so bitter kwaad vir myself, watse tipe dom-mens doen nou so ding? Ek. Nietemin, ek is nie ‘n groot huiler nie, emosioneel nie altyd so stabiel nie, maar ek huil nie sommer vir niks nie. Ek begin toe grens soos net ons vrouens kan… lekker snot en trane, te min asem vir woorde! Ek bel toe maar vir Jannie, maar ek huil so dat ek nou ook nie met intelligente goed gevormde woorde kan sê wat se ding ek aangevang het nie.

Nou moet jy verstaan dis ‘n eensydige gesprek… die kids kan net hoor wat ek sê… en ek skel myself uit, en ek is kwaad, hartseer en onsteld. Jannie aan die anderkant probeer troos, ons het mos versekering, niemand het seergekry nie… nog nie. Ha Ha! Nee ek spot. Hy sê al die regte goed. So eindig die gesprek. Ons trek weg skool toe. Ek hoor die gesnikkery hier in die agterkant van die motor, ek draai vinnig om, hier sit kleinsus met die grootste krokodil trane wat jy jou kan voorstel wat oor die wangetjies rol. Ek sê so ewe onsensitief… “Sussie, jy het niks om oor te huil nie, dis nie jy wat in die muur vasgery het nie!” Ai moeder, en ek hoor die klein benoude stemmetjie hier agter wat vra: “Gaan mamma en pappa nou skei?”

Weet jy wat, baie van die gesprekke en konflik wat ons kinders aanhoor en sien is eensydig. Hulle hoor net die baklei en ongelukkigheid, en hulle gaan bêre die gevoelens, onsekerheid diep in hulle hartjies. So baie maatjies se mammas en pappas is geskei. Daardie feit leef hier in hulle agterkop iewers. Dis ‘n hartseer realiteit vir baie kinders.

So baklei mooi, maak mooi en goed op. Moenie net vir mekaar groot askies sê nie. Gaan sê dit vir jul kids ook. Luister, hulle is nie stupid nie. Hulle ogies sien alles en hulle ore mis NIKS! Gaan vertel hulle die waarheid, ons as grootmense is soms so dom en ons baklei sommer oor dom goed. Maar ons tweetjies, mamma en pappa is weer okay.

Die beste is natuurlik om eerder nie voor klein oortjies en hartjies te baklei nie. Baklei wanneer almal kalm is. Stap weg, tel tot ‘n 1000. Wanneer jy kalm is en dinge uitsorteer glip daar nie sommer woorde uit wat eerder ongesê behoort te gebly het nie. Baklei met hierdie persoon voor jou asof jy regtig vir hom lief is.

Ek sê altyd vir Jannie, as ons girls ooit by ‘n Terapeut van soorte moet uitkom dan is my gebed wanneer die Terapeut vra, “What seems to be the problem?” dat die sinnetjie tog nooit moet begin met: “My ma…” nie!

Ons kinders raak groot in ‘n anderste tyd, verlede week was woes rof vir die Gr. 11 in ons huis, die week het die Gr. 7 haar beurt gevat. Soveel druk en spanning op sulke klein mensies. En mens probeer help ondersteun, jy dra bekers vol Hot Chocolate aan, jy luister, jy moedig aan. Tog is dit steeds rof op hulle. Ek en jy moet waak daarteen om nie ons alledaagse-huwelik bagasie op hulle klein skouertjies te laai nie. Baklei mooi toe! My en jou kids verdien ‘n mamma en pappa wat mooi baklei, want ons is lief vir ons manne en ons is lief vir die kindertjies wat God in ons sorg geplaas het.

 

Met jou Kop in die Hemelwolkies.

Ek het ‘n klomp versies en aanhalings in die binnekant van my kruidenierskas. Ek dink as ek so besluitloos voor die kas staan oor wat ons vanaand gaan eet, dan het ek ten minste ietsie om te doen. Tussen al die aanhalings het ek ene neergeskryf wat ek tannie Joyce Meyer eendag oor die radio hoor sê het. Net nou die dag vang my oog die aanhaling: You are so heavenly minded that you’ve got no earthly use. Ek het gaan opsoek dis eintlik ‘n aanhaling van ene Oliver Wendell Holmes Sr.

So loop ek nou al vir paar dae met die aanhaling in my kop en kou en herkou so bietjie aan die woorde. Ek het ‘Heavenly Minded’ gaan opsoek en dit sê die volgende: In Christian Spirituality to be heavenly minded means to attempt to create, via behavior, character and right treatment of others, the spiritual atmosphere of heaven on earth. Gits en toe weet ek nou skielik nie of dit ‘n goeie of slegte ding is nie. Continue reading “Met jou Kop in die Hemelwolkies.”