Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.

Wysheid word iewers gevind tussen jou hart en jou kop, nie noodwendig in jou kop nie, want soms is dit wysheid sonder gevoel, wysheid se woonplek is ook nie die hart nie, want wysheid met net gevoel is gevaarlik. Wysheid van God is maar altyd die allerbeste wysheid.

Wysheid is nie vir ‘n uitgesoekte, uitverkore handjie vol mense nie. God se uitnodiging staan vas vir almal… veral vir mammas wat wysheid soms so broodnodig het. Dis vir ma’s (en natuurlik pa’s ook) net nodig om te weet waar ons wysheid vandaan kom. Wysheid word van God afgebid… en vrylik gegee aan die wat vra. Ware wysheid kom van God af. Dit is die Here wat die wysheid gee… (Spr. 2:6)

God se wysheid, wat Hy so mildadig en vrylik uitdeel aan ma’s, is altyd gevul met ‘n bietjie genade, liefde, geduld en verdraagsaamheid. Wysheid is altyd om meer te luister as wat jy praat. Wysheid is om eers vrede te gaan opsoek voor jy optree, want vrede gaan wysheid vooruit. Continue reading “Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.”

Klim uit die boot uit.

Kyk, Ek kom op die see na jou toe aangeloop. Moenie skrik nie! Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. Kom! Klim uit die skuit uit. (Matt. 14:22-29) Die Gees wat Ek jou gegee het, maak jou immers nie lafhartig nie, maar vul jou met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7)

As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie. (Jes. 43:2) Het Ek jou nie op jou naam geroep nie? Jy is dan Myne! (Jes. 43:1)

Verbly jou in My teenwoordigheid. (Ps. 17:15) Ek sal self saam met jou gaan en vir jou vrede gee. (Eks. 33:14) Ek is by jou oral waar jy gaan. (Jos. 1:9) Glo in My! (Joh. 14:1) Ek gaan jou vooruit. Ek is by jou. Ek sal jou nooit in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. (Deut. 31:8) Continue reading “Klim uit die boot uit.”

Die God wat my sien.

Wanneer ek met enige situasie gekonfronteer word vra ek altyd drie goed van my Vader in die hemel… Perspektief (‘n drie treë terug, vir ‘n vars perspektief op die situasie of probleem), insig (‘n dieper verstaan vol empatie en genade) en laaste vra ek vir hope wysheid (hemelse wysheid vars uit die skatkamers van die hemel).

Wanneer hierdie situasie of probleem egter ‘n tiener in die mengsel het, lyk my gebed groter. Ek vra ook vir perspektief, maar ek vra: “Vader herinner my hoe ek gevoel het op daardie presiese ouderdom”. Ek vra vir insig: “Vader laat my voel wat in die ene wat voor my staan se hart aangaan”. Wysheid lyk so bietjie anders as ek vra: “Vader, gee my die regte woorde, maar ook die wysheid wanneer om stil te wees, wanneer die ‘woorde’ eerder ‘n rugkrap of ‘n draairoomys moet wees.” Want soms het ek nie woorde wat troos, beter maak of op lig nie!

Teleurstellings is deel van grootword, die woordjie wat hand aan hand loop met teleurstelling is veerkragtigheid of die mooie engelse woordjie: Resilience.

Resilience: (noun) the capacity to withstand or to recover quickly from difficulties; toughness. ‘Toughness’ is taaiheid wat eintlik maar beteken: kan buig, maar breek nie. Uithouvermoë, sterk. Om ontbering en stres te weerstaan.

The oak fought the wind and was broken, the willow bent when it must and survived. ― Robert Jordan, The Fires of Heaven

Een van my girls moes hierdie jaar deur ‘n paar teleurstellings werk… Ek gaan nie haar storie vertel nie, want dis nie my storie om te vertel nie. Ek kan wel getuig, daar was baie trane, en rugkrappe en tot draairoomys by betrokke. En as ek so deur die trane, en baie vrae help hart-stukkies optel, bly die woordjie veerkragtigheid by my opkom. ‘n Duur woord, dit kos jou altyd iets om veerkragtigheid te leer.

En ons gesels oor God se planne wat nie altyd soos ons planne lyk nie. Tog is die seer ‘n werklikheid… en die is-ek-goed-genoeg gevoel…

So kort  anderkant nóg ‘n teleurstelling, maar ‘n grote, gaan koop ek 12 broodrolletjies by die winkel en die dame agter die kasregister gee vir my ‘n bos geel rose… ek kry sommer dadelik ‘n knop in my keel, want ek weet dis nie vir my nie, dis ‘n bos blomme, vir my dogter met die gebreekte hartjie, uit die hemel.

En ek wonder oor die geel en voor ek by die huis stop soek ek dit gou vir haar: Geel simboliseer glorie, lig, heiligheid, vreugde en die wysheid van God. Dit kan ook hoop verteenwoordig. Maar meer as enigiets anders, skree hierdie bos blomme… Ek sien jou… Ek weet van jou… Ek het verseker nie van jou vergeet nie!

Ek gee die blommetjie by die huis vir die girl met die seer hart, eers glo sy my glad nie, ek wys vir haar die slippie, 12 broodrolletjies, dis waarvoor betaal het. Die blomme kom uit die hemel…

Die blomme het mooi gehou vir 2 weke, nou is die gedroogde blaartjies in ‘n bottel gebêre in haar kamer as ‘n herinnering aan die God wat haar raaksien!

Vriendin ek weet nie waar jy jou tans op die lewenspad bevind nie, ek ken nie die afdraai paadjies wat jy hierdie jaar moes loop, en hoeveel keer die pad deur die woestyn gekronkel het nie. Ek ken nie jou teleurstellings se name en hoe dit jou geaffekteer het nie, maar onthou jy vir Hagar?

Hagar, wat weggeloop het van Sarai, met Abram se eersteling veilig onder haar hart? Hoe sy by die fontein gevind is deur God? Wie het ‘n ontmoeting gehad met die Samaritaanse vrou, wie is die Goeie Herder wat die 99 gelos het om die verlorene te gaan soek?

Hagar het nie gebid en gesmeek nie… Sy het net gesit en gewag… sonder plan, sonder heenkome. Moeg, moedeloos, swanger, alleen, oorgelaat aan genade en self. God daag op in die woestyn, want dit is waar Hagar Hom nodig het. Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” (Gen. 16:13)

Mag jy my liewe vriendin, vir El Roi ontmoet in die woestyn van teleurstelling. Mag jy eerstehands ervaar hoe jy raakgesien word, dat jy saakmaak. Dat Hy jou nie net sien nie, maar dat Hy jou innig liefhet.

Hoor wat God vandag vir jou wil sê: Ek sien oral… Ek sien jou. (Spr. 15:3) My oë deurkruis die hele aarde, om jou wie se hart volkome by My is, kragtig by te staan. (2 Kron. 16:9 [2020]) Met ‘n ewige liefde het Ek jou lief, daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek. (Jer. 31:3 [2020]

Kan jy Sy arms om jou voel?
Kan jy Sy ken op jou kop voel rus?
Kan jy Sy hart hoor klop teen jou oor?

God really does have it all worked out.
The gaps are filled.
The heartache is eased.
The provision is ready
The needs met.
FULLY.
Completely.
Perfectly.
In HIM.
With HIM.
By HIM.
(Lysa Terkeurst)