Buig die Boompie terwyl hy Jonk is.

Ons het twee baie sterk koorsbome voor ons huis, hulle is pragtig, groot en sterk. So plant ons nog drie veel kleiner koors boompies in die tuin. Nie ek of manlief het besonderse groen vingers nie, so ons het besluit op ‘n immergroen-geen-nonsens tuin.

Nou staan die drie boompies in ons tuin, en dit lyk amper soos ‘n woud, want ons het mos nou 5 koorsbome, probleem is net, die baba-boompies is nie so standvastig nie, hulle is lui en as die wind net so bietjie waai, gaan lê hulle sommer skeef en plat. So begin manlief hulle so klein-klein aan die heining vasmaak om hulle regop te kry. Die middelste boom is veral weerbarstig en van samewerking en regop groei is daar min tot geen sprake. Die boom wil nie soos ons wil nie. Hy maak en groei soos hy wil. Continue reading “Buig die Boompie terwyl hy Jonk is.”

‘n Prins of ‘n Skollie?

Ek is goed met prekies afsteek, ek sal wel erken dat my tydsberekening soms bietjie skaafwerk kort, maar met die prekies self skort daar niks. So leer ek van kleins af vir my girls oor die regte maat kies, ag as jy wil, kan jy dit selfs breinspoel noem…

Ons het die gewoonte om op pad skool toe ‘n stukkie te lees of om ‘n liedjie te luister, en soms bid ons sommer so vir almal in die ry. Kan ek net sê ek mis vir Ousus in die oggende in die kar? Elk geval, soms, so uit die bloute uit sê ek kom ons bid sommer vanoggend vir julle mans van eendag, want gebede is kragtig, God hoor elke versoek.

Ek laat geen oomblik ‘n leergeleentheid deur my vingers glip nie. Luister jou tieners se hormonale bril waardeur sy mannetjies bekyk moet soms bietjie skoongemaak word, deur jou, haar eie persoonlike mamma. Leer haar, jy kan nie ‘n Skollie kies en dan verwag hy gaan jou soos ‘n Prinses behandel nie. Skollies bly Skollies, maar Prinse raak Konings, Priesters en Profete in hul eie huise. Prinse dra hulle vrouens van eendag op die hande, Prinse is geduldig en kan wag. Prinse herken Prinsesse. Continue reading “‘n Prins of ‘n Skollie?”

Eva en die Spieël.

Ek staan die ander oggend voor die spieël in my Eva’s gewaad en room smeer. En ek weet dit gaan sommer lekker warm in die Kaap wees. Ek smeer net die stukkies wat uitsteek, want lus vir ‘n sweterige besigheid het ek nie. Die room kom net so halfpad teen die arm op en ‘n driekwart been. Dis al wat uitsteek vir die dag…

Soms kan daar vreeslike onwillekeurige gedagtes in my kop inspring… dan wil ek sommer giggel. Ek loer so skuins na myself in die spieël (dieselfde spieël wat ek ‘n haat-lief verhouding mee het, seker omdat die ding vollengte is) en ek dink vir ‘n oomblik, ek is soms bly vir Eva wat verbode vrug geëet het, want wie sou nou kans gesien het om só by die voordeur uit te loop? Beslis nie ek nie. Ha ha…

Daar is ook ‘n lessie vir Eva voor die spieël, mense sien net die deeltjies wat die room aankry, die droë vel, rolletjies en hobbeltjies kan baie mooi weggesteek word deur die regte klere aan te trek! Ons wys net wat ons wil hê ander moet/kan sien. Continue reading “Eva en die Spieël.”