‘n Geraamte in die Kas.

Ek weet dit beteken om ‘n geheim weg te steek, maar die geraamte in die kas het my laat dink aan dood, want ‘n geraamte is beslis nie lewendig nie. En dit het my ook laat dink dat ‘n geraamte in jou kas lekker wapens en ammunisie is vir die vyand om jou ‘n hele nag wakker te hou. En ek vermoed hierdie geraamte distansieer homself totaal en al van vergifnis. Geen vorm daarvan sal vir hom aanvaarbaar wees nie.

Onthou, jy is nie jou sonde of probleem nie! Jy is wel ‘n mens met ‘n sonde of ‘n probleem. Dit maak jou nie inherent ‘n slegte mens nie. Dit maak jou… wel menslik, want mense maak foute en sondig… ons is allermins nie perfek nie.

Ek en my man het anderdag hierdie gesprek (ons het deesdae vreeslike intelektuele gesprekke oor alles wat ek leer in my kursus) oor trauma. En hoe moeilik dit is om trauma te verwerk, maar hoeveel moeiliker dit is om enige iets te verwerk as jy die trauma veroorsaak het. Dis ‘n perd van ‘n ander kleur, want selfs met opregte berou, sal daai geraamte in die kas dit moeilik vind om nie die heeltyd sy mond te spoel nie. En al het almal jou al vergewe, God inkluis, maar jyself vergewe jouself, net tot op ‘n punt, vir net ‘n kort tydjie. Dis wanneer dit ‘n moeilike affêre afgee. Continue reading “‘n Geraamte in die Kas.”

Dit is wat dit is…

Ek dink dit is ‘n sinnetjie wat ons tieners moet ken en onder die knie kry en okay moet wees mee, want nee, die lewe is toe nie ‘n sprokiesverhaal nie. Alles loop nie altyd lekker en reg nie, en nee, die lewe en die wêreld skuld jou toe aan die einde van die dag, net mooi niks nie!

Die lewe is soms oorweldigend onregverdig- en dit is ook wat dit is- as dit eers ingesink het… dan is die lewe sommer oor die algemeen makliker. As ons net kan leer om skouerophalend okay te wees om met die kaarte te speel wat die heelal vir ons uitdeel… maar nog meer as ons dit sommer vroeg-vroeg vir ons tieners kan leer-dit is wat dit is. Continue reading “Dit is wat dit is…”

Die Werklike Gelukkiges…

Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van My is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:3)

In jou afhanklikheid, vertrou net volkome op My en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (Spr. 3:5) Moenie jou bekommer oor môre nie, elke dag bring genoeg moeilikhied van sy eie. (Matt. 6:34) Onthou: vir My het jy altyd naby jou. (Ps. 16:8) Ek is jou sterkte liewe kind, aan My behoort jy vir altyd. (Ps. 73:26) Moenie van My af wegdraai nie…  (Ps. 80:19) Ek hoor wanneer jy na My roep… (Ps. 130:2)

Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. (Matt. 5:4)

Jou ellende gaan nie ongemerk by my verby nie, Ek let op jou trane. Ek sien elkeen van hulle raak. (Ps. 56:9) Ek is naby aan jou My kind. Naby aan jou met die gebreekte hartjie. (Ps. 34:19) Ek help jou op wanneer jou verdriet jou laat struikel. (Ps. 145:14) Kom nader liefste kind, laat My toe om die traan van jou wang af te vee. (Openb. 21:4)

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. (Matt. 5:5)

Jy liewe kind na aan My hart, jy moet streef na geregtigheid, na nederigheid! (Sef. 2:3) Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart. (Matt. 11:29) Jy is uitverkies! Ek het jou baie lief! Daarom moet jy meelwend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. (Kol. 3:12) Weet jy wat het by My groot waarde kind? Blywende beskeidenheid en kalmte van gees. (1 Pet. 3:4)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. (Matt. 5:6) 

Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. (Jes. 32:17) As jy weet wat die regte ding is om te doen, en jy doen dit nie, is dit nie sonde nie? (Jak. 4:17) Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12:21)

Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. (Matt. 5:7)

Wees barmhartig soos Ek, jou Vader, barmhartig is. (Luk. 6:36) Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie liewe kind, leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe.  (Spr. 3:3) Kind, Ek het aan jou bekend gemaak wat goed is; Ek vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam voor My, jou God sal lewe. (Miga 6:8) Wees jý die barmhartige samaritaan wat nie ander pad gekyk het nie. (Luk. 10:25-37)

Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matt. 5:8)

Jý wie se hart rein is, wie se hart suiwer is. Vir jou sal Ek seën, Ek jou REDDER, sal reg aan jou laat geskied. (Ps. 24:4-5) Jou liefde moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling, wees sensitief vir ander se pyn, sodat jy die dinge kan onderskei wat werklik belangrik is. (Filip. 1:9-10)

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, liewe kind, beywer jou eerder vir die belange van alle mense. (1 Thes. 5:15) Beywer jou vir vrede met alle mense. (Heb. 12:14) Die vrede wat Ek jou gee, moet in jou lewe die deurslag gee. (Kol. 3:15)

Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:10)

Kind na aan My hart, wees bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van My. (2 Kor. 12:10) Tel op jou kruis … volg My. (Luk. 14:27) Hoor wat Ek vandag vir jou sê, sodat jy vrede kan vind in My. In die wêreld sal jy dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin… vir jou. (Joh. 16:33)