Die Op en die Affe van die Lewe.

Ons weet God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is. (Rom. 8:28)

So met die einde van die een jaar en die beginne van ‘n splinternuwe jaar, dink ek sommer onwillekeurig aan die op en affe van die lewe, terwyl ek wonder waste nuwe dinge die nuwe jaar inhou. Die reine waarheid is, ons weet glad nie wat om die volgende draai vir ons loer nie…die onbekend en soms sommer onbemind ook!

Die groot vraag en wonder is: Gaan ek okay wees? Gaan alles uitwerk soos dit moet? En dis dan wanneer ek aan hierdie versie vashou asof my lewe daarvan afhang… ja jy gaan okay wees, want God, jou God sal vir jou alles ten goede laat meewerk… en miskien is jou omstandighede tans alles behalwe okay, alles behalwe ideaal. God is in elke op en in elke af van jou lewe. Alleen is jy nie!

God is aan die werk agter die skerms, al voel dit nie so nie, al lyk dit nog minder so. Al wat soms nodig is, is TYD, nog ‘n bietjie glo, nog ‘n tiseltjie vertrou… en geduld om ‘n bietjie langer uit te hou, ‘n rukkie aan te hou en te wag op die uitkoms van jou Vader in die hemel.

In die wag… hoor hoe God vanoggend vir jou fluister: “Wag op My! Wees sterk en hou moed, ja, wag op My liefste kind! (Ps. 27:14) Wag op My met jou hele wese, vestig jou hoop op My woord. (Ps. 130:5) Wanneer jy bly wag… sal Ek na jou afbuig en jou hulpgeroep hoor! (Ps. 40:2) My troue liefde is oor jou terwyl jy op my wag, Ek is jou hulp en jou skild. (Ps. 33:22, 20)”

En vriendin, dan sal ek en jy ook soos Miga kan getuig: “Maar ek sal vir die Here op die uitkyk wees, ek sal bly wag op die God wat my verlos. My God sal my hoor. (Miga 7:7)

Ek lees vanoggend ‘per ongeluk’ hierdie versie raak: Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul word. (Heb. 6:11) Dit is ook my vurige gebed vir my en vir jou, dat ons ywerig, met hoop sal voortbeur, sal LIG wees en LIG leef!

Ek en jy het geen beheer oor die eb en die vloei van die lewe nie, die hoogtes en die laagtes nie, maar ons weet een ding verseker… God is vir altyd, en Hy is reeds in die toekoms, waar ons bekommernisse reeds lê-plekkie gekry het. Wat lê net anderkant die horison? Daar waar ons nie kan sien nie, daar waar jy nie kan weet nie, daar waar net God is…

So vriendin, miskien moet ons die toekoms, maar veral die nuwe jaar, tegemoet loop hand aan aan hand met geloof, met vrede as metgesel en ‘n dankbaarheids-lied in ons hart.

Lewe is om mense en dinge te omhels en weer los te laat,
om hulle te laat groei en bloei voor die aangesig van God.
Lewe is om dankbaar te wees vir die lig en liefde,
vir die warmte en teerheid in mense en dinge
wat sommer maar vir ons gegee is.
Lewe is om alles te laat wees en alles te sien as ‘n gawe van God.
Om niks en niemand te besit nie en te juig oor elke ster
wat van die hemel val. (Phil Bosmans)

As Christene is ons van niks gevrywaar nie, ons het nie ‘n magiese monopoly kaartjie byderhand wat ons reguit na begin toe vat, daar waar dit veilig is nie. Inteendeel Jesus sê self, (en Hy sê dit juis sodat ons vrede in Hom sal soek en vind, en juis nie in die wêreld nie) “In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.” (Joh. 16:33 2020)

Sien dit as ‘n waarskuwing, OF sien die goue belofte tussen die reëls raak: Die oorwinning is daar, en eendag sal ons dit volkome smaak, wanneer ons deur die deur stap na die Ewige Lewe. Vir nou sal ons een voet voor die ander sit en moedig voortstap op die lewenspad, die op en die affe trotseer met ons hand in Jesus sin…

God did not create us for failure. We may fail at some things on our way to success, but if we trust Him, He will take even our errors and work them out for our good. God can take our mistakes and turn them into miracles if we continue to trust confidently in Him. (Joyce Meyer)

And we know [with great confidence] that God [who is deeply concerned about us] causes all things to work together [as a plan] for good for those who love God, to those who are called according to His plan and purpose. (Rom. 8:28 AMP)

 

Die Goeie Herder. (Psalm 23)

Ek, die Here jou God, is jou Herder…
Ek, die goeie Herder roep my skape op hul name. Ek loop voor hulle uit, hulle volg my want hulle ken my stem. (Joh. 10:3-4) Ek het my lewe vir my skape afgelê. (Joh. 10:11) Die lammers maak Ek bymekaar in My arms en Ek dra hulle teen My bors… naby My hart. (Jes. 40:11)

Jy kom niks kort nie…
Ek gee vir jou lewe in oorvloed. (Joh. 10:10) Uit My oorvloed ontvang jy genade op genade. (Joh. 1:16) Alles wat jy ontvang kom van My af, (Ps. 16:5) in goeie maat, ingestamp, geskud en propvol. (Luk. 6:38) Ek maak My hand oop en jy kry meer as genoeg. (Ps. 104:28)

Ek laat jou rus in groen weivelde…
As jy gaan lê, slaap goed, want jy word weer wakker, want Ek sorg vir jou. (Ps. 3:6) Gaan lê… onbesorg en raak dadelik aan die slaap, want Ek alleen laat jou veilig woon. (Ps. 4:9) Kom na my toe, my kind, jy wat uitgeput en oorlaai is, ek wil vir jou rus gee, net by My kan jy rus kry vir jou gemoed. (Matt. 11:28) Ek het gerus op die sewende dag, is dit nie tyd dat jy in my rus ingaan nie? (Heb. 4:10) Ek gee die vermoeides krag, Ek versterk jou wanneer jy nie meer kan nie. (Jes. 40:31)

Ek bring jou by waters waar daar vrede is…
Ek sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee, en jou vrede wees. (Num. 6:26) Wie reg doen sal vrede hê, (Jes. 32:17) jy is nie meer ver van My af nie. (Ef. 2:19)

Ek gee jou nuwe krag…
Ek omgord jou met krag, Ek maak jou pad voorspoedig. (2 Sam. 22:33) Ek is jou krag en jou beskerming, Ek gee genade en eer, Ek weerhou die goeie nie van jou wat reg lewe nie, (Ps. 84:12) maar jy wat op My vertrou kry nuwe krag, jy sal vlieg met arendsvlerke. (Jes. 40:31)

Ek lei jou op die regte paaie tot die eer van My naam…
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en My oog oor jou hou. (Ps. 32:8) Ek help jou op as jy geval het. (Ps. 145:14)

Selfs al gaan jy deur donker dieptes, hoef jy nie bang te wees nie…
Ek sal jou opbeur as jy neerslagtig is. (2 Kor. 7:6) Ek sal die trane van jou oё afdroog. (Openb. 21:4) Ek sê vir jou: “Dit is Ek, moenie bang wees nie.” (Joh. 6:20) Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie. Ek is jou God. Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou. (Jes. 41:10) Ek sal jou hand nooit laat gaan nie. (Jes. 40:13)

Ek is by jou, in My hande is jy veilig…
Ek omsluit jou van alle kante, (Ps. 139:5) My trou beskerm jou aan alle kante. (Ps. 91:4) Op die dag van gevaar sal Ek jou wegsteek in My huis, jou hoog op ‘n rots laat staan. (Ps. 27:5) Ek sal My engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. (Ps. 91:11)

Ek laat jou by ‘n feesmaal aansit terwyl jou teёstanders moet toekyk…
Weet jy dan nie? Verstaan jy dit steeds nie? Wie aan jou vat, vat aan My oogappel. (Sag. 2:8) Ek trek immers niemand voor nie. (Rom. 2:11) My liefde vir jou bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. (1 Kor. 13:7) Ek ken jou ten volle. (1 Kor. 13:12)

Ek ontvang jou soos ‘n eregas, Ek oorlaai jou met hartlikheid…
Ek skenk jou voorspoed en geluk, Ek plaas ‘n goue kroon op jou kop. (Ps. 21:4) Ek sal jou soos ‘n sierlike kroon in My hand hou, Ek sal jou soos ‘n koninklike tulband vashou. (Jesaja 62:3)

My goedheid en guns sal by jou wees…
Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. (Jos. 1:9) Aan My liefde vir jou is daar geen einde nie. (Ps. 136) Ek gaan jou vooruit en Ek sal vir jou veg. (Deut. 1:30) Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie. (Jes. 54:10)

En jy sal tuis wees in MY huis tot in lengte van dae…

U lei my met U raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. (Ps. 73:24-25), maar wat my aangaan dit is vir my goed om naby U te wees, my Herder. (Ps. 73:28)

Rapporte, Punte, Gene en al daai lekker dinge…

Dis Sondagaand, ons kies ‘n fliek, sommer aksie, want dit is darem min of meer iets waarvan almal hou. Ek, wederhelfte en kleinsus. So halfpad deur die fliek vlieg manlief op met die verskoning dat hy gou sy ma gaan bel. Okay sê ek, stuur liefde en groete…

Hier in die ¾ van die fliek spring kleinsus op, te midde van ‘n reuse skietgeveg, verklaar sy, klaar gekyk, gaan nou stort en hare was… okay sê ek, geniet dit!

Nou kyk ek ‘n opwindende fliek stoksielalleen… Hier op die heel einde, amper voor die krediete rol, kom manlief die vertrek in en vra: Wat kyk jy? Uhm, dieselfde fliek wat ons saam begin kyk het? En Kleinsus? Sy was moeg gekyk. En ek besef net, dis regtig soms moeilik om te baklei teen jou genetiese samestelling, jy erf wat jy erf van jou ouers, en daarmee moet jy werk…   Continue reading “Rapporte, Punte, Gene en al daai lekker dinge…”