Doen wat jy kan…

Doen wat jy kan… En God sal doen wat jy nie kan nie, niks is vir Hom ontmoontlik nie, niks is vir Hom te moeilik nie.

Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” (Matt. 19:26) NIKS is vir God onmoontlik nie. (Luk. 1:37)

Weet jy wat is soms ‘n probleem my liewe vriendin? Soms net vir ‘n moment van asem ophou, van in die midde van die woestyn wees, van raadop, moedeloos, magteloos wees, vergeet ek en jy WIE HY is. Vergeet ons Hy is die God van wonderwerke, van die onmoontlike. Vergeet ons heeltemal van die versie wat skree: Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee. (Filip. 4:13) Continue reading “Doen wat jy kan…”

Jy in jou Klein Hoekie…

En ek in myn. Dit is die enigste reëltjie wat vir dae in my kop gekuier het, al wat ek kon onthou, was dat dit ‘n kinderkrans liedjie was van vervloë se dae. Ek onthou baie goed, kinderkrans was op ‘n Vrydagmiddag half drie en die koster-tannie het ons met ‘n bussie kom haal…My man het net sy kop geskud toe ek die liedjie probeer sing, dis ‘n Oos Kaap ding sê hy.

Uiteindelik kan ek dit toe nie meer hou nie! En ek vind die liedjie… jy moet net lank genoeg soek

Laat ons skyn vir Jesus
Met ‘n helder glans
Skitter soos die sterre aan die Hemeltrans
In die donker wêreld,
Skyn dan, skyn-
Jy in jou klein hoekie
En ek is myn.
Continue reading “Jy in jou Klein Hoekie…”

H O O P

Is daar nog hoop vir my, Here?

Natuurlik liewe kind, Ek is jou enigste hoop! (Ps. 39:8) Stel jou verwagting elke dag in My! (Ps. 25:5) Jy wat jou vertroue in My stel, Ek hou My liefde elke dag oor jou. (Ps. 33:22)

Glo in My! Om te glo is om seker te wees van die dinge wat jy hoop, om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie. (Heb. 11:1) Maar as jy hoop op wat jy nie sien nie, wag jy daarop met volharding. (Rom. 8:25) Jy weet mos liewe kind dat swaarkry volharding kweek, volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop. Dit is díe hoop wat nooit beskaam nie. Ek het My liefde in jou hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Ek aan jou gegee het. (Rom. 5:3-5)

Verbly jou in My hoop, staan vas in verdrukking; volhard in gebed. (Rom. 12:12) Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe Ek jou geroep het. (Ef. 4:4) Ek maak My hand oop en skenk My guns in oorvloed aan al wat leef. (Ps. 145:16) Dit gaan goed met jou mensekind wat jou hulp van My ontvang, wat jou hoop op My alleen vestig. (Ps. 146:5)

Ek het aan jou My liefde bewys en aan jou ‘n blywende troos en goeie hoop gegee. (2 Tes. 2:17) Niemand sal jou uit My hand ruk nie! (Joh. 10:28) Deur die liefde wat Ek vir jou het, het jy nie vergaan nie! Daar is geen einde aan My ontferming vir jou nie, dit is elke môre nuut. (Klaagl. 3:22-23)

Moenie moedeloos voel nie, jou swaarkry op aarde is van verbygaande aard! Moenie jou oë op die sigbare rig nie, maar op die onsigbare. (2 Kor. 4:16-18) Jy het hoop… jy het die ewige lewe. Het Ek nie lankal My ewige lewe aan jou beloof nie? (Titus 1:2) Deur My genade is jy vrygespreek, jy is ‘n erfgenaam van die ewige lewe. (Titus 3:7) Ek bewaar hoop vir jou in die hemel. (Kol.1:5) My liefde vir jou, bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. (1 Kor. 13:7)

Hou styf vas aan hoop, want Ek is getrou en Ek doen altyd wat Ek beloof het. (Heb. 10:23) Laat al My bemoedigings en beloftes in die Skrif jou moed gee. (Rom. 15:4) Ek is jou bron van hoop, laat My toe om die hoop in jou hart te versterk deur jou te vul met My vreugde en vrede. (Rom 15:13) Hierdie hoop besit jy as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker…  (Heb. 6:19)

Moenie jaloers wees op wat ander mense het of doen nie, wees jy net altyd ywerig om My te dien, dan sal jy ‘n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. Ek sien jou! (Spr. 23:17-18) Dit is goed, vestig jou hoop op My. Wag geduldig op My hulp. (Klaagl. 3:25-26) Vertrou My! Wag op My! Ek het nog altyd gehoor as jy met My praat en na My roep. (Miga 7:7)

In My groot ontferming het Ek jou die nuwe lewe geskenk deur die opstanding. Nou dierbare kind het jy ‘n lewende hoop. (1 Pet. 1:3) Sien uit na die gelukkige dag wat Ek en jy mekaar van aangesig tot aangesig kan sien. (Tirus 2:13) Ek weet wat Ek vir jou beplan: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11) Vertrou My! Ek is tot in ewigheid  vir jou ‘n veilige vesting… (Jer. 17:7) en ‘n lewende hoop.