Toe die girls klein was het dit altyd gelyk of ons vir die naweek weg gaan en eintlik was ons net op pad Pick ’n Pay toe om inkopies te doen. Dis die dae wat uiteet beteken jy sit eintlik alleen en eet terwyl jou beterhelte die baba aan die slaap probeer sus… As ons kerk toe gaan was dit ‘n gedoente, een in die kerk, een in die moederskamer.
Jannie het altyd gespot en gesê ek moet die een vat met die skerp kant. Dis nou die een wat moontlik kon huil, vuil doek ens kon hê! Kortliks, die een wat jou in die skande kon steek. Die dae van koue koffie, slaap beurte, koue weense worsies vir etes, bottels was, kots wat na perske yoghurt ruik van die vloere af mop, siek kindertjies wat beurte maak. Eintlik was jy meeste dae op ‘autopilot’ en het jy oormoeg in die aand in die bed ingeval… net om 5 minute later weer op te vlie vir een of ander skree of skeet. Continue reading “‘n Stowwerige Toontjie en ‘n Streep.”

Die ander dag, ook al ‘n rukkie terug, ry ons as gesin iewers heen. Ek kan nie onthou waaroor die gesprek gegaan het nie, maar Ousus sê hier van agter af baie driftig eintlik, sy kan nie wag om uit die huis uit te gaan nie. Dit gaan so lekker wees. Die probleem is met ‘n ma se hart ons luister, hoor en interpreteer absoluut met ons harte. Dis al wat ons hoor, en ek vererg myself so klein bietjie, ek is nie ‘n ou wat vinnig op my perdjie spring nie, maar ek voel so bietjie te na gekom.
As daar een ding is wat nie te sleg is van ouerskap nie is dit die feit dat jy die reëls kan opmaak, bysit, wegvat, verbuig soos jy gaan. Is dit nie lekker nie? Arme ousus, alle reëls word mos op die oudstes en eerstes uitgetoets en vervolmaak. Wanneer al die ander kids volg het jy al helfte van jou baie reëls skoon vergeet! Nietemin vir my is die belangrikste reëls die ons reëls, reëls wat niks te doene het met moets en moenies nie. Wat jy mag doen of nie doen en wanneer en waar nie!