Jou lewe is soos ‘n tapeserrie, meesterlik inmekaargeweef deur die Groot Kunstenaar. Die Groot Meester sit op Sy stoel en met eindelose liefde en geduld, met die mooiste kleur kombinasies, weef Hy jou lewe inmekaar. Hy die Kunstenaar van die heelal, sit dag na dag op die stoeltjie besig om jou Tapeserrie te voltooi.
Dis Hy wat jou gevorm het en aanmekaargeweef in die skoot van jou moeder. Dis Hy wat jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het.(Ps. 139:13-14)
Jy hoef nie te fokus op die Tapeserrie nie. Die Kunstenaar is in beheer en jy kan Hom vertrou. Maak jou los van wat agter is en strek jou uit na wat voor is. Span jy jou maar net in om by die wenstreep te kom. (Fil. 3:13-14) Geen rede hoekom jy jou hoef te verknies of jou Tapeserrie mooi gaan lyk, of betyds gaan klaar wees nie. Continue reading “Perspektief: Die Tapeserrie.”
Die laaste dag van 2022 wandel ek en manlief op die strand. Ek loop stadiger as hy, ek soek altyd ‘n mooi klip of drie om saam te vat huis toe, so met die drentel sien ek sommer alles raak wat die afgelope ruk uitgespoel het…
Plastiek stukkies wat nie daar hoort nie wat die strand ontsier, amper soos weggesteekte sondetjies in ons lewe ook maar maak. En ek sien baie klippies, rondes, groottes, kleintjies, alle kleure en vorms, sommige klippies is gebreek en ek dink onwillekeurig aan mense, dis asof die klippies die mensdom verteenwoordig.
Sjoe die wind was die jaar woes, ampertjies party dae gevoel of ons kan weg waai, elk geval met die wind kom die bloublasies… toe kleinsus nog kleiner was het ‘n bloublasie haar beetgehad en ‘n brandstert so halfpad rondom haar lyfie gemaak terwyl sy geswem het, dit het vreeslik gebrand… maar hier aan die ‘regte kant’ van die see is die bloublasies skadeloos, uitgespoel… dit is ‘n goeie herinnering om die jaar miskien in jou baan te bly, op die strand te bly waar dit veilig is.
Paar keer hierdie jaar het die fluitjies woes geblaas en dan swem, skarrel die hele spul uit die water uit tot die haai weer sy swem kry, maar vir die ou wat diep swem en die waarskuwings ignoreer is lewe in oorvloed nie ‘n waarborg nie.
So met die drentel is ek versigtig om nie op die gebreekte skulpies te trap nie, so min heel skulpies wat oorgebly het om jou aan te verwonder en bymekaar te maak… en daar is ook ‘n lessie te vind… kyk waar jy loop, moenie loop waar jy kyk nie, dit geld sommer vir die pad van 2023 ook. Loop lig, trap versigtig.
‘n Sussie in Jesus sê hier iewers in die middel van die vakansie: “Gooi vir my ‘n klippie in die see!” Ek het vir haar ‘n klippie van hoop en vrede in die see gegooi by Hartenbos… Maar vir hierdie jaar liewe vriendin gooi ek 5 klippies in die see ook vir jou: ‘n klippie van hoop, liefde, vrede, geloof en natuurlik ‘n genade-klippie.
Ons hoop is nie in mense, dinge of gebeure nie ons HOOP is in Hom. Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jes. 40:31) Die God van die hemel en die aarde regeerin VREDE oor ons. Die Here doen alles vir ons. (Jes. 26:12) Hy gee ons krag en Hy seën ons met oorvloed. (Ps. 29:11)
Ek het ook ‘n klippie vol GELOOF ingegooi; ons lewe immers deur geloof en nie deur sien nie. (2 Kor. 5:7) en vir goeie mate ‘n GENADE klippie. Genade in oorvloed… daaglikse genoeg genade.
Maar die belangrikste klippie wat ek ingegooi het was die klippie van LIEFDE en dit het my aan die klip voor ‘n oop graf laat dink, ‘n klip wat getuig van liefde, ‘n weggerolde klip wat getuig van die dood wat vir altyd en ewig oorwin is. ’n Want só lief het God die wêreld gehad-klip… (Joh. 3:16) Dalk tel jy daar op Hartenbos se eindelose wit strande ‘n klippie op…
Dis ‘n splinternuwe jaar wat voor my en jou uitstrek my liefste vriendin, nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe geleenthede, oor beginne, weer probeer. Vir sommige is dit ‘n opstaan-jaar, ‘n langverwagte oorwinningsjaar vir ander.
Nee ek het nie nuwejaars voornemens nie, hulle is geneig om te verdamp hier teen die 14 de van die eerste maand… dit vat net energie om hulle uit te dink en nog meer energie omdat jy sleg voel dat jy hulle nie kon volhou nie. As jy ‘n nuwejaars voorneme het, laat dit een wees wat op mense fokus. Om liefde en genade vrylik uit te deel, om vrede te los oral waar jy gaan, om hoop te bring na ‘n hopelose situasie en om jou geloof in Christus te vernuwe.
Vir hierdie jaar is my wens en my droom vir jou ‘n laat-los-en-laat-gaan jaar… ‘n jaar waar jy opnuut sal besef en weet dat jy werklik en waaragtig op God kan vertrou en staatmaak, dat jy kan stil raak en stil wees, want Hy is jou God. Vriendin en dis so persoonlik, dis nie ‘n almal se God nie, Hy is jou persoonlike God en Verlosser. Hy het jóú lief… Sy genade is vir jóú genoeg. Jóú naam is in Sy handplams gegraveer tot in ewigheid.
Ek verklaar vanoggend dat 2023 ‘n goeie jaar gaan wees, nie oor goeie goed gebeure nie, maar omdat ek en jy ‘n goeie God dien met goeie planne vir ons. (Jer. 29:11) Hy het my en jou veilig uit die ou jaar tot in die nuwe jaar in gebring.
Wat is dit wat jy van God vra in hierdie broosnuwe jaar? Sy nabyheid? Sy krag? Sy vergifnis? Sy liefde… wat is daai een dingetjie wat jy hierdie jaar van Hom afsmeek? Vra maar gerus liewe vriendin, Hy hoor jou… Hy wat jou sien, jou raaksien wag op jou…
Ek wil jou los met ‘n kosbare woord vir 2023, Jesaja 32 vers 17: Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet en mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed in 2023 aan jou geskenk word. (Judas 1:2)
Ek is al beskuldig van Volstruispolitiek. Wat is Volstruispolitiek vra jy? Dis nie om ‘n draadsitter te wees nie, nee, dis meer om jou kop in die grond te druk en te maak of jy nie sien wat om jou aangaan nie. Dis my definisie in elk geval. Dis nie ontkenning van gebeurtenisse nie, maar eerder ‘n siening van ‘ek sien dit nie raak houding nie’. Ek stem natuurlik glad nie saam nie, ek sien baie goed te alle tye wat om my aangaan, in die ons mooie land, politiek en die wyer wêreld om ons.
Verskil is net ek weet ten alle tye wie is in beheer, nie die President, of NATO of enige ander persoon of instansie nie, net God. Hy is en was nog altyd in beheer. Ons vergeet dit net soms so bietjie, en dan bekommer ons weer so vir ‘n slaggie oor die dinge waaroor ons regtig, as ons eerlik met onsself is, geen beheer oor het nie. Continue reading “Volstruispolitiek.”