Eva en die Spieël.

Ek staan die ander oggend voor die spieël in my Eva’s gewaad en room smeer. En ek weet dit gaan sommer lekker warm in die Kaap wees. Ek smeer net die stukkies wat uitsteek, want lus vir ‘n sweterige besigheid het ek nie. Die room kom net so halfpad teen die arm op en ‘n driekwart been. Dis al wat uitsteek vir die dag…

Soms kan daar vreeslike onwillekeurige gedagtes in my kop inspring… dan wil ek sommer giggel. Ek loer so skuins na myself in die spieël (dieselfde spieël wat ek ‘n haat-lief verhouding mee het, seker omdat die ding vollengte is) en ek dink vir ‘n oomblik, ek is soms bly vir Eva wat verbode vrug geëet het, want wie sou nou kans gesien het om só by die voordeur uit te loop? Beslis nie ek nie. Ha ha…

Daar is ook ‘n lessie vir Eva voor die spieël, mense sien net die deeltjies wat die room aankry, die droë vel, rolletjies en hobbeltjies kan baie mooi weggesteek word deur die regte klere aan te trek! Ons wys net wat ons wil hê ander moet/kan sien. Continue reading “Eva en die Spieël.”

Gelukkege Welentaams dag!

Gelukkege Welentaams dag…

Is dit nie dierbaar nie? Kleinsus was 8 jaar oud toe sy vir my ‘n kaartjie gemaak het van haar Pappa af wat gesê het:

Liewe Martha
Gelukkege Welentaams dag.
Van: Jannie

En natuurlik het hy ook ‘n kaartjie gekry. Hoekom? Want ek en manlief is nie die grootste aanhangers van hierdie liefdes-dag nie. Kleinsus het gevoel sy sal dan maar die verantwoordelikheid op haarself neem en seker maak daar is darem so bietjie sprankel op die dag is.

Vir my persoonlik voel dit soos ‘n uitgebuitery, ‘n Oor-gekommersialiseerde dag… ons is darem aanhangers van die liefde self! Elk geval, het jy al probeer uiteet op hierdie spesifieke dag? Ag nee wat, liefde, geduld en vrede vlieg by die venster uit die oomblik wat jy die rye voor die deure sien staan. Nee, wat vriendin. Kom ons vier elke dag die liefde net sommer om vir mekaar lief te wees, om te gee vir jou medemens en altyd te onthou dat GOD liefde is.

Nietemin die girls dink ons tweetjies is woes onromanties omdat daar nie blomme, sjokolades en wat nog vir mekaar gekoop word nie. Weet jy wat? Ek het besef dis belangrik vir hulle want elke dogtertjie/tiener/jong dame hart wil weet: Ek is bekoorlik, Ek word bemin, Ek is genoeg, Ek is die MOEITE WERD. Dit is waarna elke jongmeisie hart smag.

En iewers langs die pad het ek net besef as dit vir hulle belangrik is, moet dit vir ons ook ‘n saak van erns wees. En nee, ons koop nogsteeds nie vir mekaar ietsie nie, maar daar is groot waarde daarin as ‘n Pappa vir sy dogter(s) ietsie koop met ‘n kaartjie by wat sê:

 

Jy is lieflik.

Of

Die eerste keer wat ek jou in jou mamma se maag voel skop het,
Het jy my hartsnare geroer en ‘n deeltjie van
Pappa se hart sal altyd aan jou behoort!

Of

Jy is genoeg.

Of

Ek is die gelukkigste Pappa op aarde,
Want jy is my meisiekind.

Of

Vir jou het ek lief!

Of

Jy is my trots, my hart, my alles.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. (Filip. 1:9)

Weet jy wat as sy dan van die skool af kom en die geheime bewonderaar het geskitter in sy afwesigheid, geen een-stingel rooi roos wat na niks ruik nie, geen rooi hartjie sjokolade wat nie eers lekker proe nie,  nie eers ‘n corny ruimpie wat ietsie sê soos:  Roses are red. Violets are blue. Sugar is sweet. And so are you.

Niks… Dan gaan haar hart nie so stukkend en verlore voel nie, want die bewys dat ek geliefd is staan op my lessenaar… want nog voor die dag behoorlik begin het op die 14de Februarie, het sussa se liefdes bekertjie oorgeloop, want die man van die huis het opgedaag met woord en daad.

Luister vriendin ek praat ook nie van groot geld geskenke, elektronika en wat nog nie. Ek praat van ‘n gunsteling sjokolade, of ‘n beker met ‘n sweetie in. Klein geskenkie met GROOT waarde.

‘n Jaar of drie terug pak ons ousus se kas reg en bo in die kas lê ‘n leë houer wat hartjie sjokolades bevat het.  Ek vra: “Kan ek weggooi?” Nee, sê sy verontwaardig, Pappa het dit vir my gegee vir Valentyns dag. Sien, want dit maak saak. Dit maak ‘n verskil.

Die seunswêreld is vir my ‘n vreemde ene… ek vermoed hulle is minder gehinder en nie veel gepla oor rooi hartjies en wat nog nie, maar ek kan nie dink ‘n uitgevrete tienerseun sal nee dankie sê vir sy gunsteling sjokolade met ‘n nota van mamma af wat sê… mamma lief jou, nie!

En ja, ons wederhelftes is besig, ek besef hulle het nie noodwendig die tyd of die geduld om vir meisiekinders te loop en geskenkies uitsoek nie, vriendin, maar is ek en jy nie sy helper nie? So help hom, koop die geskenkie, kry die stukkie bladsy reg, en ‘n dag of wat voor die tyd druk jy dit onder sy neus in en sê: ‘skryf gou vir sussie ietsie’! Jy gaan sien hoe dogtertjie gesiggies blom en ek wed jou daar gaan ‘n gespoggery wees by die skool oor die awesome Pappa wat hulle het!

Mag jy liefde in jou hart beleef. Mag jy elke dag Jesus se liefde vir ander leef en uitleef.

Soos ‘n blom die son nodig het om waarlik blom te word, so het ‘n mens die liefde nodig om waarlik mens te word. (Phil Bosman)

Bestanddele van ‘n Gelukkige Huwelik.

Marriage: Love is the reason. Lifelong friendship is the gift. Kindness is the cause. Til’ death do us part is the length. (Fawn Weaver)

Ek en my beterhelfte is die jaar 25 jaar getroud. ‘n Hele kwart eeu! Soms wonder ek wat presies is die bestanddele van ‘n gelukkige huwelik? Is dit gelyke porsies harde werk? ‘n Persoonlikheids-ding? Is dit ewe veel mate genade en die vermoë om uit te hou? Wat maak ‘n huwelik werk?

Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie. (Matt. 19:6) Ons is EEN. Dis nie meer ek en hy teen die wêreld nie. Dis ONS. In dieselfde asem moet ek en jy versigtig wees om nie ons identiteit in ons huweliksmaat te vestig en in die proses onsself te verloor nie, ek is ‘n Dogter van die Koning, dis my identiteit, ek is nie die vrou van my beterhelfte nie, ek is dit, maar dis nie my identiteit nie.

Die drie woordjies wat defnitief in ‘n huwelik hoort is, asseblief, dankie en jammer! Dis drie woorde wat ons maar meer as gereeld kan en moet gebruik. Sommer in die elke dag se doen en late. Dankie vir die lekker kos, dankie dat jy die vuilgoed uitgevat het. Sal jy asseblief die kids by die skool gaan kry? Ek is jammer ek was onredelik! En soms kan ons maar ‘n dankie op skrif stel met ‘n geskrewe notatjie in die kosblik of ‘n verassings whatsappie so iewers deur die loop van ‘n lange dag!

Soos kinders nie ‘n verbrokkelende huwelik kan red nie, moet ons dalk net vir mekaar sê mense kan nie mense verander nie, nie voor ‘n huwelik nie, en ook nie gedurende nie. Net God kan ‘n gewillige hart verander. Liefde in sy volmaakste vorm, met die suiwerste van motiewe, kan nie jou maat se gebrokenheid genees, of ‘n verslawing, of enige ander struikelblok in ‘n huwelik oorkom nie.

Ons trou ook nie met die gedagte dat iemand anders nou verantwoordelik is vir ons innerlike geluk nie. Dit is nie jou maat se uitsluitlike werk om jou gelukkig te maak binne en buite nie. Jou vreugde moet jy op die regte plek gaan soek. Find your delight and true pleasure in YAHWEH, and He will give you what you desire most. (Ps. 37:4) Ware geluk moet jy in jou Maker gaan soek nie in  jou maat nie…

If you want something to last forever, you treat it differently. You shield it and protect it. You don’t make it common or ordinary. If it ever becomes tarnished, you lovingly polish it until it gleams like new. It becomes special because you made it so, and it grows more beautiful and precious as time goes by. (F. Burton Howard)

In ‘n gesonde huwelik word niemand onder die bus gegooi nie, gits en ek is baie oplettend vir spesifiek dit, die onder die bus gooiery is ‘n ding. As jy iets wil doen, stamp eerder jou maat voor die aankomende bus weg wat hy nie eers sien aankom het nie. Ons is geskape om mekaar te beskerm, in die privaatheid van ons binnekamer, maar verseker ook daar buite in die wrede wye wêreld!

‘n Huwelik bestaan uit twee onvolmaakte mense wat mekaar liefhet. We come to love not by finding a perfect person, but by learning to see an imperfect person perfectly. (Sam Keen) So los die eie-ek dingetjies waar jy altyd die laaste woord wil inkry, altyd wil reg wees, altyd beter weet. Die huwelik bestaan nie uit een maat wat alles weet en die ander maat wat nie luister of hoor nie, maar tog met alles saamstem nie.

Moenie kwaad gaan slaap nie! Moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef. 4:26-27) So eintlik vriendin, wanneer ons kwaad gaan slaap gee ons die vyand toestemming om ons huweliksbootjie te kom skud. As jy dink die vyand is ‘n voorstander van gelukkige huwelike… dink weer. Hy is veel eerder die voorstander van misverstande, ek sal jou wys, en verkeerd verstane.

So wat dan is die bestandele van ‘n gelukkige huwelik?
Sagmoedigheid.
Onvoorwaardelike liefde.
Intimiteit.
Respek.
Vertroue.
Genade.
Luister.
Praat.
Vermoë om te vergeet. (Seermaak woorde, Dade wat nie gespreek het van onvoorwaardelike liefde nie)
Vermoë om te onthou. (als wat mooi is, goed is, reg is…)
Passie.
Humor.
Geduldigheid.
Vergifnis.
Nederigheid.

Ek en my eie persoonlike man het nogals gepraat oor die bestandele wat ons huwelik laat werk en ja dis defnitief al die bogenoemde. God is die hoeksteen, die basis, maar ek dink ook vir ons is dit humor, want ons kan saam lag, vir mekaar lag, saam laf wees, ons het baie grappies wat net ons verstaan, ‘n aparte planeet waar net ons tweetjies leef… Olie op die skarniere van die huweliksverhouding, dít is die gawe van lekker lag. (Alba Bouwer)

So gepraat van bestanddele en resepte… dit het my nou sommer lus gemaak vir koek, maar nie enige koek nie, my ouma Martha se Wortelkoek, ek sit sommer vir jou die reseppie onder aan, want die lewe is te kort om nie koek te eet nie en die lewe is te kort om nie kliphard aan jou huwelik te werk en vir altyd, ewig en drie dae saam gelukkig te leef nie.

Ouma Martha se Wortelkoek.

Bestanddele:
200ml Kookolie
310ml Bruinsuiker.
375ml Koekmeelblom.
7ml Bakpoeier.
3ml Koeksoda.
10ml Kaneel.
5ml Gemmer.
2ml Sout.
3 Ekstra Groot Eiers. (geklits)
625ml Fyn Gerasperde Wortels.
Handvol Rosyntjies (maar net as jy van Rosyntjies hou)
125ml Gekapte Pekanneute.

Oond: 180°C. Spuit twee ronde panne met Spray and Cook. Klits kookolie en bruinsuiker saam. Sif saam: Koekmeelblom, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemmer en sout. Gooi die droë bestanddele by die die nat bestandele al om die beurt saam met die geklitste eiers.  Gooi wortels, rosyntjies en pekanneute by. Meng goed. Bak vir 50-60 minute tot gaar. Koel af op draadrak.

 Roomkaasversiersel.
50g Sagte Botter.
625ml Versiersuiker
5ml Vanilla
100g Gladde Maaskaas.

Room botter. Gooi vanilla en versiersuiker in, meng goed. Gooi maaskaas by. (moenie oormeng nie anders raak alles loperig en dit raak ‘n poeding en nie ‘n twee laag koek nie!)

Lekker eet!