Die Werklike Gelukkiges…

Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van My is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:3)

In jou afhanklikheid, vertrou net volkome op My en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (Spr. 3:5) Moenie jou bekommer oor môre nie, elke dag bring genoeg moeilikhied van sy eie. (Matt. 6:34) Onthou: vir My het jy altyd naby jou. (Ps. 16:8) Ek is jou sterkte liewe kind, aan My behoort jy vir altyd. (Ps. 73:26) Moenie van My af wegdraai nie…  (Ps. 80:19) Ek hoor wanneer jy na My roep… (Ps. 130:2)

Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. (Matt. 5:4)

Jou ellende gaan nie ongemerk by my verby nie, Ek let op jou trane. Ek sien elkeen van hulle raak. (Ps. 56:9) Ek is naby aan jou My kind. Naby aan jou met die gebreekte hartjie. (Ps. 34:19) Ek help jou op wanneer jou verdriet jou laat struikel. (Ps. 145:14) Kom nader liefste kind, laat My toe om die traan van jou wang af te vee. (Openb. 21:4)

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. (Matt. 5:5)

Jy liewe kind na aan My hart, jy moet streef na geregtigheid, na nederigheid! (Sef. 2:3) Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart. (Matt. 11:29) Jy is uitverkies! Ek het jou baie lief! Daarom moet jy meelwend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. (Kol. 3:12) Weet jy wat het by My groot waarde kind? Blywende beskeidenheid en kalmte van gees. (1 Pet. 3:4)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. (Matt. 5:6) 

Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. (Jes. 32:17) As jy weet wat die regte ding is om te doen, en jy doen dit nie, is dit nie sonde nie? (Jak. 4:17) Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12:21)

Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. (Matt. 5:7)

Wees barmhartig soos Ek, jou Vader, barmhartig is. (Luk. 6:36) Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie liewe kind, leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe.  (Spr. 3:3) Kind, Ek het aan jou bekend gemaak wat goed is; Ek vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam voor My, jou God sal lewe. (Miga 6:8) Wees jý die barmhartige samaritaan wat nie ander pad gekyk het nie. (Luk. 10:25-37)

Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matt. 5:8)

Jý wie se hart rein is, wie se hart suiwer is. Vir jou sal Ek seën, Ek jou REDDER, sal reg aan jou laat geskied. (Ps. 24:4-5) Jou liefde moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling, wees sensitief vir ander se pyn, sodat jy die dinge kan onderskei wat werklik belangrik is. (Filip. 1:9-10)

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, liewe kind, beywer jou eerder vir die belange van alle mense. (1 Thes. 5:15) Beywer jou vir vrede met alle mense. (Heb. 12:14) Die vrede wat Ek jou gee, moet in jou lewe die deurslag gee. (Kol. 3:15)

Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:10)

Kind na aan My hart, wees bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van My. (2 Kor. 12:10) Tel op jou kruis … volg My. (Luk. 14:27) Hoor wat Ek vandag vir jou sê, sodat jy vrede kan vind in My. In die wêreld sal jy dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin… vir jou. (Joh. 16:33)

Geskape om Gelukkig te Wees…

Is ons? Geskape om gelukkig te wees? Hang dit moontlik af van ons definisie van gelukkig? En is dit ‘n hemelse gefundeerde definisie, of ‘n aardse ene, ‘n definisie met die hulp van Tik Tok? Of AI?

Geskape om gelukkig te wees… net misken soek ons eintlik net nog ‘n pick-me-up-prosperity prekie. En hoe verskil gelukkig wees en ‘vind jou vreugde in die Here’ en wat is die verskil nou eintlik? Wonder jy ook oor sulke goedjies? Of is dit net ek?

Miskien moet ons dan net gelukkig definieër? En gaan elkeen se definisie nie verskil volgens ons eie persoonlike voorkeure en persoonlikhede nie? Is gelukkig en tevrede dieselfde ding? Of is hulle doel om handjies te vat en in die stop paadjie af te loop met ‘n mooi son wat in die agtergrond sak? Continue reading “Geskape om Gelukkig te Wees…”

Vir My is jy nie onsigbaar nie…

Liewe vrou, jy weet en ek weet, soms is dit onmoontlik om nie onsigbaar te voel nie, om nie alleen te voel in jou eie klein wêreldjie nie, oomblikke wat jy ‘n ekstra bietjie bemoediging kort, ‘n stille-herinnering dat jy saak maak, dat jy ‘n doel het hier op aarde …

Soms is al wat ek en jy kort ‘n hernude stukkie geloof sodat ons elke dag kan doen wat gedoen moet word. Mag jy met sekerheid weet in jou lag en in jou huil, in jou oorwinnings en in neerlae dat die God van Psalm 139 jou sien… Vir Hom is jy nie onsigbaar nie, want Hy is die God wat sien, die God wat jou raaksien.

Liewe jong vrou, jy wat nog jou voete vind in hierdie wêreld, wat nog probeer agterkom wie jy is en waarvoor jy staan… God sal jou vooruitgaan. Mag jy vind waarna jy soek, mag jou drome mooi en goed wees. Our deepest wishes are whispers of our authentic self. We must learn to respect them. We must learn to listen. (Sarah Ban Breathnach.) Jy is nie vir God onsigbaar nie… Continue reading “Vir My is jy nie onsigbaar nie…”