Die Dierbare, Klein Jakkalsies.

Hulle sê dis die klein Jakkalsies wat die wingerd verniel en nou praat ek spesifiek van huwelike, nê? So, in dieselfde asem, as dit die klein goedjies is wat ons huwelik verniel is dit nie ook die klein goedjies, die klein gebare en probeer wat ons huwelike aanmekaar kan hou nie?

Ek wil vanoggend voor ek enigsins iets verder sê of skryf net ‘n klein ‘disclaimertjie’ ingooi wat huwelike aanbetref. Ek is op geen manier ‘n spesialis op die gebied van huwelike nie, eintlik ver daarvan. Ek skryf maar wat ek sien en beleef in my eie huwelik, en huwelike om my. Die ander dingetjie wat ek noodgedwonge moet en wil sê, en gaan sê is… as jy my liewe vriendin met iemand getroud is, wat jou die een dag opbou net om jou die volgende dag tot in die grond te verneder, as jou man aan jou stamp en klap is dit nie normaal of reg nie, dan is die stukkies wat ek oor huwelik skryf nooit op jou van toepassing nie.

Ons huwelike word verwoes a.g.v te min praat en te veel verskille, te min tyd, en te veel selfone wat tussen-beide tree. Ai vriendin, dis harde werk om ‘n huwelik te versorg en te vertroetel, maar dis so belangrik!

Ons wil nie grootoog vir die vreemdeling voor ons staar met ‘n bek vol tande maar geen woorde wat oor ons lippe kom nie. Wie is die vreemdeling? Dis nou die man wat jy getrou het ‘many moons ago’, maar met kinders, en ‘n geswoeg om hulle groot en uit die huis uit te kry, en werk en dinge wat gebeur het julle so stelselmatig vreemd vir mekaar geraak. Ongemaklik vreemd. Soms onversoenbaar vreemd.

So, hoe op aarde verhoed ons die grootogige gestaar na ‘n amper vreemde wese? Ons begin sommer vandag, sommer nou om verbete te veg vir ons huwelike, en soos die klein jakkalsies verniel, so is dit die klein goedjies wat ons huwelike gaan help opbou en heelmaak.

Ousus reken (dis nou die oudste, ongetroude, matrikulant in die huis) dis maklik om ‘n huwelik aan die gang en gesond te hou. Volg net die trippel 2 reël. Ek het geduldig gestaan en luister na haar verduideliking en toe maar net gegiggel, meer soos ‘n semi-histeriese lag.

So, die trippel twee reël werk soos volg: Elke 2 weke ‘n ‘date night’, elke 2 maande ‘n naweek weg, en elke 2 jaar 10 dae weg… ‘Yeah right… let’s do that!’ My 222 reël lyk soos volg. 2 kinders, 22 jaar getroud en 2 keer weg vir langer as 5 dae. Dis die kort en die lank van die meeste van ons huwelike.

As die klein goedjies die gom is wat ons huwelike aanmekaar hou, dan is my gom koffie drink saam met my man elke dag as hy by die huis instap. Ek los alles en ons sit en drink koffie en gesels sommer oor wie het wat gesê en wie het wat gedoen. Ons lag baie saam, en vir mekaar en saam met mekaar. Die ouer word besigheid is partykeer iets om oor te lag… want die alternatief is huil en dis ‘depressing’!

Soms steel ons ‘n uur vroeg in die oggend vir ‘n romatiese spek en eier ontbyt. Wanneer die girls soms gelyke tyd iets aan het, is dit date night- al is dit sommer enige tyd van die dag. Dis gesteelde tye wat sommer net gebeur. Partykeer gaan eet ons gou-gou uit ander tye val ons net op die bank neer en kyk ‘n fliek.

Saterdae oggende staan ons op en stap hand aan hand deur die strate. Van ons huis af is baie  Koffiewinkels  binne 3.5km tref afstand. Ons drink koffie en stap weer terug. So kry ons oefening, kafeïne en broodnodige tyd saam.

Ons bad elke aand saam, nee ons is nie fyn en klein nie en dis ook nie ‘n besonderse groot bad nie. Dis maar’n knieknop teen die ore affêre en beknop maar ons maak dit werk. Ek dink nie eers meer ek weet hoe om te bad sonder hom nie.

Deur die dag iewers stuur ons vir mekaar ‘n whatsapp, nie bring brood en melk of wegneemetes nie, maar ‘n boodskap wat sê: ek mis jou, ek is lief vir jou, leef jy nog?

Vriendin, ek glo nie meer die leuens van die vyand dat duur, gesogte uiteet, bosse blomme en vyfster hotelle ons huwelike kan red nie, ek vermoed die egskeidingsyfer sou aansienlik laer gewees het as dit die geval was. Die gom wat my en jou huwelik aan die gang hou en gesond hou, is die klein dingetjies… die hartsdinge.

Kom ons hou op om aan ons huwelike te werk ‘ter wille’ van die kinders. Kom ek en jy sit alles in ter wille van onsself, want wie wil eensaam en alleen oud word, of nog erger hier iewers in die middeljare ‘van voor af begin’. Nee wat dankie, ons huwelike hoort nie meer op enige TO-Do lysie, of onder op ons prioriteits lysie nie. Ek en jy kan maar met ‘n geruste hart die klein jakkalsies uit ons wingerde jaag, want hulle hoort eenvoudig nie daar nie.

2 Replies to “Die Dierbare, Klein Jakkalsies.”

Comments are closed.