Dinge van die Hart.

Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. (1 Sam. 16:9)

Hoe lyk die kondisie van my en jou hart liewe vriendin? Soos ons na die fisieke hart omsien is dit ook nodig om na ons geestelike harte om te sien. Dis so belangrik om te weet wat in ons harte hoort, en wat ons nooit ooit daar moet toelaat nie. Jou hart is deur God geskape om lief te hê, sodat Sy vrede ‘n permanente rusplek daar kan kry, sodat jy hier op aarde al ‘n stukkie van die hemel kan leef en beleef.

Ek hou daarvan om verse in my hart te bewaar, want wanneer my hart nie lekker voel nie gebruik Vader juis die gebergde Woorde om my te vertroos, in lyn te trek en regop staan te maak. Die Woord van God kom nooit leeg terug nie.

Wat sê mense van jou en my hart liewe vriendin, daar waar ons nie kan hoor nie? Is dit woorde soos mooi, sag,  omgee  of is dit woorde soos hard, klipperig, onvergewinsgesind, liefdeloos?

Jou hart is beslis nie geskape om haat, oordeel en venynigheid te stoor nie. Wat ons sê, wat ons doen, hoe ons optree is vir die mense om ons ‘n goeie aanduiding van die kondisie van ons harte. Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. (Spr. 4:23)

Wanneer jou hart se lub-dub ritme ophou, sterf jy… dis die einde van jou. Jou hart is die belangrikste orgaan, die een wat jy net een van het, daar is nie spaar harte nie. Miskien het ons almal ‘n hartoorplanting nodig? Ek sal vir julle ‘n nuwe hart gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. (Eseg. 36:26) Die hartoorplanting is net op versoek liewe vriendin, vra vir God vir ‘n nuwe hart.

Soms as ek so na die mensdom kyk dan besef ek die meeste van ons harte is nie so danig gesond nie, eintlik is dit sommer net siek, siek van bekommernis, stres en depressie. Ons luister nie na die goeie Boek wat sê: Hou kommer uit jou hart… (Pred. 11:10) Te veel van die wêreld loop rond met semi-gebroke harte, en met ons sal-self houdinkies weier ons dat die God van alles ons heel maak, die stukkies van ons gebrokenheid weer aanmekaar flans. Ons vergeet to so maklik dis Hy wat die gebrokenes van hart genees. (Ps. 147:3)

Net soos cholesterol ons harte aantas, net so kan die verkeerde goed wat ons in ons harte toelaat, en lê-plekkie gee, ons tot die dood toe siek maak. Daar is ‘n idioom wat sê: Om met jou hart op jou mou te loop. Ek vertaal dit sommer as: wanneer ek Jesus sommer op ‘n afstand sien in hoe jy lyk, praat en met ander omgaan. Onthou altyd liewe vriendin, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Matt. 6:21)

Ons harte is soms bedrieglik en maak ons goed wys wat niks met God of die dinge van God te doen het nie. Die hart is bedriegliker as enige iets anders. (Jer. 17:9) So het elke hart sy smart, ‘n kruis wat gedra moet word, ‘n hartseer wat verwerk moet word, ‘n teleurstelling wat oorkom moet word. Net Jesus kan die stukke van jou hart bymekaar hou. Vat jou eiesoortige kruis op en volg HOM…

Jy kan met ‘n leë hart absoluut niks vir ander beteken nie. Dis so belangrik om jou hart vol te hou, wanneer jou hart oorloop kan jy uitdeel, weggee, omgee… Vol van wat dan? Vol genade, gevul met liefde, en vrede uit die skatkamers van die hemel.

Wat in jou hart aangaan is tussen jou en God. Hy is die enigste, maar enigste een wat tot in jou hart kan sien, wat jou diepste menswees verstaan en ken tot die wegsteek, stowwerige hoekies van jou hart. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. (Ps. 139:1)

Jou hele hart is deur God vir God geskape. Gee jou hart aan Hom, gebruik jou hart tot Sy eer, binne die veilige grense van Sy wil vir jou lewe. Mag jou hart en jou wese ook uitroep: “Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel.” (Ps. 9:2) Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (Ps. 51:12) Ek wil U loof met ‘n opregte hart. (Ps. 119:7) Met my hele hart wil ek U gehoorsaam wees. (Ps. 119:10)

My gebed vir jou wat vandag hier lees: “Mag Hy jou gee wat jou hart begeer en mag al jou voornemens geluk.” (Ps. 20:5) Ek bid dat Sy verordeninge jou na aan die hart sal lê… (Ps. 119:36)

Hê ‘n hart vir al die gebrokenheid om jou liewe vriendin, hoor as die Vader vanoggend vir jou fluister: “Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. (Jer. 17:10) Jou mooie hart maak My opgewonde. Ek sien jou hart raak liefste dogter, die bly, die hartseer, die versugtinge, die moedeloosheid… Vind jou vreugde in My en Ek sal jou gee wat jou hart begeer. (Ps. 37:4) Hê My lief met jou hele hart… (Matt. 22:37) Geseënd is jy My lieftse kind wat rein van hart is, want jy sal My sien…” (Matt. 5:8)

One Reply to “Dinge van die Hart.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *