As jong volwassene het ek nie omgegee om in ‘n argument betrokke te raak nie, nogals gedink my opinie is belangrik en behoort te alle tye gehoor te word. Boonop het ek in my voortvarendheid gedink ek doen God en die Koninkryk ‘n reuse guns. Ek bedoel regtig, ‘n mens moet opstaan vir dit waarin jy glo en vir jou geloof en vir God. Of hoe? Want as jy dit nie gaan doen nie wie sal dan?
Maar toe raas God bietjie met my, hard en duidelik. Drie keer in een week kry ek dieselfde boodskap, jy moenie argumenteer oor die evangelie nie, dit stoot mense weg, dit sit mense af, jy doen net ‘n klomp skade, geen goed nie. Ek voel bietjie bek-af en wil-wil met my armpies vererg gevou sit, maar besluit dit sal dalk nie slim wees nie, ek gooi toe maar my arms in die lug op, okay Here ek kry die boodskap… maar hoe dan gemaak as ek tog net so bietjie wil verskil, bietjie wil argumenteer en bietjie wil reghelp?
Dis verseker nie die manier nie, ek besef, God het vir my gesê: “Martha, het Ek nie die wêreld en alles daarop geskape nie? Die Hemelruim en alles daarin? Het Ek, die God van die heelal nodig dat jy mensekind My verdedig, vir My opkom, vir My in die bresse tree? Is Ek nie groot genoeg, Almagtig genoeg om Myself te verdedig nie? Jou optrede en liefdelose argumente stoot mense net verder van My hart af weg. Jy het net nodig om te getuig van My goedheid, en dan sal My Heilige Gees die oortuig werk doen!”
Die waarheid is: ons verdedig godsdiens maar verstaan dan absoluut niks van die hart van God nie. Die hart van God vir die mens om ons. Hou op stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. (2 Tim. 2:14) Om met mense oor die woord van God te stry of selfs nog erger te stry en te verskil oor God self, jy gaan niks bereik vir jouself of die koninkryk nie. Jy kan getuig, maar nooit ooit oortuig nie.
Ek weet nie van jou nie, maar dis so elke nou en dan nodig dat ek so bietjie met my kids raas, klein bietjie reghelp, weer so bietjie in die regte rigting in druk wanneer hulle so bietjie die ‘Ons reëls’ vergeet of bietjie ignoreer. Dis nodig, maar nie lekker nie. Nie vir my nie en as ek so na die gesiggies kyk beslis ook nie vir hulle nie. Ek raas nie uit lekkerte nie, maar uit liefde. Wie sy kinders nie straf nie, het hulle nie lief nie. (Spr. 13:24)
Soms wanneer God ons bietjie moet dissiplineer en tereg wys, is dit beslis ook nie vir Hom lekker nie. Hy is nie ‘n kwaai God met rooi oë wat van ‘n troon af op ons skel en skree nie, nee Hy is ‘n liefdevolle Pappa wat die beste vir Sy kinders wil hê. Die Dissipline word altyd in liefde gedoen en het groei tot gevolg. Groei tot geestelike volwassenheid en ‘n nabye Pa/Dogter verhouding.
My vraag is laat ons God toe om ons te dissiplineer of gerieflikheidshalwe ignoreer ons Hom soos Kapenaars stop strate ignoreer? Ek en jy is mos nie dom mense nie, of hoe? Spreuke 12 vers 1 sê: Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang, wie hom nie laat teregwys nie, is ‘n dom mens. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. (Heb. 12:11)
‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. (2 Tim. 2:24) Ek dink as ons die heeltyd met almal om ons verskil en oor alles ‘n opinie het en stry en baklei dan sien ander ons nie as dienaars van God nie. ‘n Dwaas wil net sy eie opinie bekend maak. (Spr. 18:2) Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe. (Spr. 10:17) ‘n Regverdige mens dink voor hy antwoord. (Spr. 15:28)
God se dissipline is sagkens en liefdevol, Sy dissipline is vir my en jou eie beswil en nie om jou sleg oor jouself te laat voel. Dis bedoel om karakter te bou, om jou lei tot geestelike volwassenheid en ‘n intieme verhouding met God. God is ook nie soos aardse ma’s en pa’s wat soms vir dae jou misstappe teen jou hou nie. God trek jou in Sy omhelsing in, want die Here straf die mens wat Hy liefhet. (Spr. 3:12) Sy liefde korrigeer en bedek alles, hoop alles en verdra alles.