
If the Lord be with us, we have no cause of fear. His eye is upon us, His arm over us, His ear open to our prayer – His grace sufficient, His promise unchangeable. (John Newton)
Ek het so klein lysie van goedjies wat ek vrees, darem nie ‘n ellelange lys nie, nietemin ek gaan nou nie my vrese met jou deel nie, maar kom ek sê net: ek het nogals ‘n gesonde vrees vir ‘n vieslike groot, lewendige, rooi-groenerige springkaan. Hulle is nie vir my mooi nie, net vreesaanjaend. ‘n Ander vrees wat ek het, is om in ‘n publieke toilet vas te sit… en sal jy nou vir my glo as ek sê: ek het die ander oggend in die Virgin Active se tweede toilet van die deur af vasgesit?
En dis nie vir onderdeur kruip en ontsnap nie… ek haal ‘n paar keer diep asem en wag net vir my brein om te begin brein na die aanvanklike groot skrik. Ek wag vir my superkrag van kalmte van gees om in te skop. Skree gaan ek beslis nie, dis net eenvoudig nie my styl nie. Ek stuur vir manlief ‘n boodskappie, en natuurlik wil hy my net te hulp snel… om die deur af te skop… ai die sterk ridders op wit perde van ons darem.
Nietemin ek probeer die ontvangs bel, na drie keer wat hulle nie antwoord nie, dink ek by myself, wel ten minste het ek water en musiek. Dis darem nie niks nie, wat ek eintlik kort is ‘n skroewedraaier. Met die vierde oproepie na ontvangs, besef ek my foon is gekoppel aan die oorfone. Go figure… mens se brein het tyd nodig om rustig tot verhaal te kom.
Net paar minute later daag daar ‘n skroewedraaier onder die deur op en ek kan myself uitskroef. So hier is die ding vriendin, dit klink soos ‘n grappie, maar tot daardie oggend 8h15 was dit ‘n vrees op my vrees-lysie, om vas te sit in ‘n publieke toilet. Nou het dit gebeur, en dit was glad nie so erg nie. Ek kon vanoggend die vresie van my lys afhaal, en toe wonder ek nogals hoeveel ander vresies kan ek eintlik afhaal? Vrese wat in my kop ontstaan, deur my denk prosesse… Vrese wat uit verband geruk word en opgeblaas tot iets verskriklik groot en onoorkombaar.
Ken jy die woordjie Neuroplastisiteit? Dit is die brein se Godgegewe vermoë om deur ervaring, oefening en leer te verander. Dit gee hoop dat nuwe vaardighede aangeleer, ongesonde gewoontes afgeleer en gesonder denkpatrone met tyd en volgehoue oefening ontwikkel kan word. So jou brein is nie gemaak en gelaat staan nie. Jou brein, soos die res van jou is op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak. (Ps. 139:14 [2020]) Dit verander soos ons leer om anders te dink.
Ons breinpaadjies se name kan wees, ‘wat as’, ‘sê nou maar’, ‘ek moes’ en ‘ek moet in beheer wees’. Of dit kan wees ‘God is reeds daar’, ‘Selfs dan is God getrou’, ‘God se genade is groter’ en ‘Ek vertrou God met die uitkoms’. Sien jy ‘n defnitiewe verskil en keuse? En die uitkoms gaan drasties verskillend wees.
Ons gedagtes, hoe en wat en waaraan ons die heeltyd dink vorm ons lewens, en onthou jou brein en jou hart staan nie apart van mekaar nie. Jou onrustige gedagtes lei tot ‘n onrustige hart. Gedagtes gesentreer om God gaan jou hart vul met vrede. Ek en jy kan vrede en vreugde kies bo vrees en negatiwiteit. Laat God julle verander deur julle denke te verander. (Rom.12:2[1983])
Rig jou gedagtes hierop:
Alles wat waar is,
Alles wat eerbaar is,
Alles wat rg is,
Alles wat rein is,
Alles wat lieflik is,
Alles wat lof verdien. (Filip. 4:8 [2020])
Perspektief is wat ek en jy, en ons gedagtes kort. Ons dink oor goed moet bietjie meer intensioneel wees en ons behoort nie ons gedagtes vrye teuels te gee nie. Waaraan dink ek en jy? Help dit? Is dit skadelik? En ek weet ons mooi verskoninkie is: “Gits ek kan mos nie help waaraan ek dink nie?” Weet jy wat? Dis ‘n leuen wat die vyand bitter graag wil hê jy moet glo. Laat die vrede van God, in Christus Jesus, oor jou hart en gedagtes waak. (Filip.4:7[2020])
Any time we open ourselves up to fear, we fall prey to his deceptions and intimidations. Yet, if we submit our hearts to God and stand in faith, we can resist those first fearful thoughts. As we yield to God we can master our reactions to fear and the enemy will soon flee. (Francis Frangipane)
En as jy nie weet waar om te begin met hierdie denkproses herbedrading nie, kies een versie wat jy op papier, maar veral in jou hart graveer, en wanneer die vyand probeer om ‘n vrees-gedagte te plant, dan maak jy jou gedages vol, van hoek tot kant met daai einste versie. Om skrif-gedagtes te koester is soos om God stewig aan die hand beet te kry en nie te laat gaan nie.
I will not fear, for you are ever with me, and you will never leave me to face my perils alone. (Thomas Merton)
En wanneer ons dit regkry om skrif te ‘dink’ i.p.v vrees, dan kan God begin om jou te help om jou gedagtegange tot Sy eer te herskryf. Om chaos met vrede-gedagtes te vervang. Laat ons God toe om ons gedagtes te transformeer.
Worry is a cycle of inefficient thoughts whirling around a centre of fear. (Corrie Ten Boom)
Vriendin… is daar ‘n oplossing vir hierdie vrees-lysie van ons? Daar is! Gee jou bekommerd gedagtes vir HOM, lê dit by Sy voete neer. Oorhandig hierdie ongeskrewe vrees-lysie aan Hom, en vertrou Hom met jou hart. As ek en jy dít kan regkry… dan sal God ons vrees met geloof vervang. Werp al julle bekomernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. (1 Pet. 5:7 [1983])
Meet your fears with faith. (Max Lucado)
As jy dalkies wonder… genadiglik lê ons identiteit nie in ons vrees, of ons gedagtegange nie, maar in Christus Jesus. Die vrees en vrot gedagtes is net ‘n probleempie waaroor ons struikel, waaraan ons elke dag werk. Vrees is nie deel van ons nie, dit staan apart. Ek is ek, die vrees is die vrees. En dis hoekom ons enige vrees by die voet van die kruis kan neersit, omdraai, en net wegstap… Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filip. 4:13 [1983])
Hoe skakel ons net sommer oor van negatiewe gedagtes na positiewe, Godgegewe gedagtes? Ons leer om so naby as menslik moontlik aan God se hart te leef, ons bid meer, ons leer om met dankbare harte te leef. Vrees sal nie meer lus wees om in ons harte te bly as dit so beknop is met al die dankbaarheid, liefde en genade nie!
Kies om te dink en te fokus op God se goedheid. Hoor Sy hart vir jou as jy meer tyd in die troonkamer en die Woord spandeer, en Sy glans sal van jou weerkaats na die mensies om jou.
Vriendin die Woord sê in 1 Korintiërs 2:16 [2020]: Wat ons betref, ons het die denkwyse van Christus. Dink en doen soos HY, en ons gaan dit nie perfek regkry nie, maar mag ons nooit ophou probeer om beter te wees nie en beter te dink nie. Om genade, liefde en vrede te leef en uit te deel, met ons oë gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. (Heb. 12:2 [2020])
