Moenie Vuil Baklei nie.

Children who are respected learn respect. Children who are cared for learn to care for those weaker than themselves. Children who are loved for what they are cannot learn intolerance. In an environment such as this, they will develop their own ideals, which can be nothing other than humane, since they grew out of the experience of love. Alice Miller

Jy weet vriendin ons as Ma’s (en defnitief Pa’s ook) het soms vuil maniertjies wat gevegte met tieners aanbetref. Sommige van ons wil ten alle koste die geveg wen.

Luister, ek is ‘n ma wat nie disrespek duld nie, dit steek my dwars in die krop, daar is ‘n regte manier van verskil, maar daar is beslis ook ‘n verkeerde manier. Tieners kan nie sê wat hulle wil, wanneer hulle wil, soos hulle wil nie. Respek moet wedersyds wees, en respek kan nie afgedwing word nie, respek word verdien. Dit gesê, ouers kan ook nie sê wat hulle wil, wanneer hulle wil, soos hulle wil nie.

En soms is dit maklik om ‘n onopgeloste geveg te beëindig, jy gooi net die geel kaart wat sê: ‘Gaan na jou kamer toe’. Of die rooi kaart wat skree: ‘Jy is gehok vir die res van jou lewe’. Net sodat jy weet jy het nie die geveg gewen nie, jy het net die onvermydelike vir ‘n wyle uitgestel. Die probleem is steeds daar, onopgelos.

En luister, ek wil nie verskonings maak vir tieners met stink houdings nie, maar soms, as ek na mense luister, is ek nie so seker wie die kind is, en wie die grootmens is nie. Ja, en ons is almal skuldig… ons probeer, ons faal, ons probeer weer, ons val, ons staan op, twee treë vorentoe en drie treëtjies terug. Dis die lewe van ‘n ouer met ‘n tiener.

Weet jy wat help my baie wanneer ek so klein bietjie moedeloos is, met hande in die hare oor tiener probleme en geite wat aan die deur klop? Ek onthou…

Vra gerus vir God om jou die gawe van onthou te gee. Om emosies in jou hart en siel wakker te maak wat jy laas as tiener gevoel het, sodat jy meer simpatie en empatie sal hê met die tiener-siel wat hier voor jou staan in plaas om te voel jy wil die ding voor jou plat veeg met moederaarde.

Tieners leef met ‘n klomp vrese in plaas van vrede in hul hart. Ek blameer sosiale media aan die eenkant so bietjie en ‘n tekort aan tyd en geduld van ons as ouers aan die anderkant. Sien, hierdie kosbare kinders van ons het nog nie geleer hoe om 2 Timoteus 1:7 prakties toe te pas in hul lewens nie. Hulle kort nog wysheid, kennis en ondervinding. Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. (1953)

Een van my grootste vrese hier rondom 18, was dat die einde van die wêreld sal gebeur terwyl ek op varsity is, en dan is ek ver van die huis af. En ek besef, soos ek hier lees hoe belaglik dit nou lees, maar luister doerie tyd was die vrees ‘n werklikheid wat my gejaag het, my soms ingehaal het, en soms my vrede vir maande aaneen gesteel het.

En weet jy, wanneer jy jou kosbare kind voor jou neersit en sê vertel vir mamma, wat krap aan jou hart? Wat is besig om jou vrede te steel? Jy deel hierdie stukkies onthou met hulle, dan is dit baie makliker vir hulle om met jou hulle vrese te deel.

Vriendin ‘n ander, nog groter problem… ons praat hopeloos te veel en aanhoudend en ons bid glad te min vir hierdie kosbare kinders, want ons is net so besig om elke dag te probeer oorleef. Intussen verloor ons so stukkie vir stukkie grondgebied wat ons kinders aanbetref. Dit voel of ons hierdie tiener voor ons glad nie verstaan nie, ‘n vreemde wese van ‘n ander planeet. Ek en jy ‘n onwelkome gas in hulle alleen-tiener wêreld gevul met Instagram, tik tok en vriende.

Affirming words from moms and dads are like light switches. Speak a word of affirmation at the right moment in a child’s life and it’s like lighting up a whole roomful of possibilities. Gary Smalley

Nog ‘n wapen wat volgens ons lekker werk is die vergelyk-wapen. Ons vra: Hoekom kan jy nie meer soos jou voorbeeldige sussie wees nie? Jou slim boetie nie? Ek en jy kan nie bekostig om hierdie wapen te gebruik nie, nooit nie! Ons kinders is nie ‘gecopy’ en ‘gepaste’ nie, en daarom mag ons hulle nooit ooit met ander boeties of sussies vergelyk nie.

Nie te lank gelede nie kom kleinsus baie ontsteld by die huis aan. En sy is ontsteld namens ‘n maat wie se ma haar ‘n paar onwelvoeglike byvoeglike name toegesnou het in die midde van ‘n bek-geveg. (Name wat ek liefs nie op skrif wil herhaal nie!) Ons mag en kan dit onder geen omstandighede doen nie. Maak nie saak hoé kwaad ons is nie!

Tieners het ‘n behoefte aan twee goed, hulle wil voel hulle word aanvaar en hulle behoort. As ons tieners dit nie in die noue gesinsverband ervaar nie, gaan hulle dit op ‘n ander plek, of in ‘n ander verhouding soek, en ek kan jou waarborg, nie ek of jy gaan van ‘die ander plek’ hou nie.

Aan die begin van elke splinternuwe dag het ons ‘n keuse hoe ons vandag gaan reageer op wat ons tieners doen of sê. Ek en jy, wat al so bietjie geleef het, wat al so bietjie meer wysheid bymekaar gemaak het, ons kan kies om nie olie op ‘n vuur te gooi nie. Ons kan kies om nie uit te lok, en skoor te soek nie. Ons kan kies om die grootmense in die verhouding te wees.

Moet asseblief nie vriendelik-verplig voel om op die uitnodiging van ‘n geveg te reageer nie. Wat van ek en jy tree ‘n halwe treëtjie terug, haal ‘n slaggie diep asem. Tel tot 10… 1000. Wat van ons kyk na die groter prentjie en die feit dat baklei en skel nog nooit ooit enige konflik of probleme opgelos het nie.

Dis regtig beter om te praat as jy vrede in jou hart het, dis baie beter om net stil te bly in die hitte van die stryd.

Kinders het voorbeelde nodiger as kritici. Joseph Joubert

Kom ons maak ‘n punt daarvan om te fokus op die positiewe, kom ons soek die goedjies wat hulle sê en doen wat mooi is, en ons fokus daarop, kom ek en jy probeer om nie net die heeltyd fout te soek met alles wat hulle doen, en alles wat hulle sê nie.

Ek dink tieners van vandag het dit eksponensieël moeiliker as toe ons tieners was. Om in vandag se tyd, met al die druk, en al die vereistes ‘n tiener te wees is nie kinderspeletjies nie.

Kinders is geskep om te vlieg, maar hulle het wind nodig: die ondersteuning en krag wat kom van onvoorwaardelike liefde, aanmoediging en gebed. GG Tchividjau

Kom ek en jy wees sommer net lief vir hulle, ten spyte van tiener houdings en beterweterigheid. Kom ons wees hulle grootste ondersteuners, want as nie ons nie, wie dan? Kom ons moedig aan ten spyte van moedeloosheid, en kom ons bly op ons knieë vir ons kosbare tieners. Voor ek en jy ons oë uitvee is hulle groot en uit ons huise uit…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *