Maar WAT AS…

Sê nou maar net! Maar WAT AS… dis sinsnedes soos hierdie wat maak dat jou gedagtes in krulle en draaie en spirale inhol. Geen begin, geen einde, geen uitkoms, geen antwoorde.

Weet jy hoekom ons so graag hierdie twee sinsnedes gebruik, want ons dink (verkeerdelik) ons is in beheer. Ons dink verkeerdelik deur om daaroor te tob, te wonder, te bekommer, gaan ons antwoorde en oplossings kry… ons gaan nie! Wanneer die antwoorde ontbreek… veroorsaak dit net ‘n klomp angs. Die realiteit is dat elke sê-nou-maar en wat-as in môre lê. En dan gaan haal ons die bobbejane agter die berge uit… en dis hulle wat ons so op hol jaag!

‘n Mens se persoonlikheid word bepaal deur die dinge waaraan jy dink; jou wese neem as’t ware die kleur aan van dit wat in jou gedagtes leef. (Marcus Aurelius)

Die enigste teenfoeter teen angs, dis nou die angs wat ons by môre gaan leen, is om te glo dat GOD in beheer is, om met ‘n vaste vertroue in en op Hom te leef. God se hart vir my en jou is nie om heeldag te loop en bekommer oor almal, alles en nog wat nie. God se Woord is baie duidelik oor hierdie onderwerp.

Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. (Matt. 6:34) Moet oor niks bekommerd wees nie… (Filip. 4:6) God sê: Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes. 41:10)

Hoor jy mooi wat Hy vir jou sê?
Ek is by jou.
Ek is jou GOD.

As jy al ooit gewonder het hoekom ek so baie oor gedagtes skryf, en ‘n oor-dinkery. Ek was jare vasgevang in hierdie einste wat asse en sê nou maars… ek weet wat dit aan my geloof gedoen het, ek weet wat dit aan my gees en hart gedoen het, ek wil selfs sover gaan om te sê… hierdie oor-dinkery spoel altyd oor na jou verhoudings toe ook. Die eintlike rede hoekom ek so gereeld daaroor skryf is ek weet hoe lyk die oorwinning in Jesus oor hierdie malende gedagtes. En as ek oorwinning kon kry en vrykom onder hierdie las van heen en weer dinkery, om meer in die toekoms te leef as die hier en nou, dan weet ek die oorwinning en vrede kan joune ook wees.

Hoor hier, maar moet nou net nie gaan dink  ek verval nie soms vas in ou gewoontes van vrot-gedagtes nie. Ek doen, en dan baklei ek so met myself…

En miskien is dit juis hoekom hierdie twee versies vir my so bitter kosbaar is.

Wees stil en weet Ek GOD is! (Ps. 46:11[NLV]) Hierdie paar woordjies is nie net ‘n troos nie, maar daar skuil krag agter hierdie woordjies… en belofte… sien jy dit? Wat hoor jy God sê vir jóú in hierdie 7 woordjies? Weet jy wat hoor ek? Kom leef in My vrede, laat my vrede jou gedagtes en gees vul, raak bietjie stil, maak jou gedagtes en hart stil voor My, dan sal jy weet wie EK IS… eers dan sal jy My krag sien deurskyn in die fynste detail van jou lewe. Ek is in beheer. Vertrou My!

Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15 [1983] Daar lê enorme krag opgesluit om in stilte op God te vertrou. Stop en onthou net weer ‘n bietjie: Ek en jy is nie veronderstel om dinge op ons eie krag te doen nie! Vrede gebeur wanneer ons leer om met volle oorgawe op God te vertrou. Met ALLES in jou! Wanneer ons aan die lippe hang van die versie wat verklaar: “My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring.” (2 Kor. 12:9 [2020]) Daar is volmaaktheid in ons swakheid, wanneer God se krag deur ons skyn en werk.

Stilte en vertroue… laat die twee woordjies bietjie insink… wat hierdie twee woordjies doen is om ons ‘n innerlike vrede te gee, want ek en jy weet wie God is. Ons ken Sy hart vir ons… om stil te kan wees en met oorgawe te vertrou, selfs al lyk ons omstandighede minder as ideaal, want selfs in die chaos kan daar stilte wees. Kan jy God 100% vertrou met jou hart, gees, lewe, met die mense vir wie jy lief is? Kry jy dit reg? Kry jy dit amper reg? Dis ook ‘n goeie begin.

Ek kry dit reg… en dan soms weer nie, dan moet ek weer bely, en my gedagtes in lyn trek met Jesus, en wie Hy vir my is.

Wanneer ons in volle afhanklikheid van Hom leef hoef en mag ons nie verlei word deur die vyand om alles tot in die fynste besonderheid te oordink nie, het ons geen behoefte om in beheer te voel van alles en almal nie.

Verandering begin altyd eerste in jou kop. Hoe jy dink, bepaal hoe jy voel, en hoe jy voel, bepaal hoe jy optree. (Rick Warren)

God het absolute en finale outoriteit oor alle situasies, en nie net die groter prentjie nie, maar tot die fynste detail van my en jou lewe. Hy is die Een wat vrede gee in die middel van die storm.

So in elke situasie moet ek en jy dalk ‘n paar vragies vra: Hoeveel beheer het ek oor die situasie? Hoeveel beheer het God oor hierdie situasie? Gaan tob, en wonder en my verknies oor hierdie situasie enige iets verander, aan die situasie of myself?  Of aan die uitkoms? Wat is die heel ergste wat kan  gebeur? En sal ek dit kan uitsorteer met die hulp van die God van die hemel en die aarde? Mý GOD!

Geloof wat op wankelrige beentjies probeer orent kom vra soms die verkeerde vrae, vra toekoms-vrae waarvan net God die antwoord het! Wat is geloof dan? Geloof is om met die absolute sekerheid in jou hart te leef, dat God nie net in beheer is van my lewe nie, maar dat Hy aan my kant is. Dat ek Sy kind is en dat Hy my bitterlik lief het.

From Genesis to Revelation, here’s the central message: God Almighty, the Lord Jesus Christ, the Spirit of God, the Triune God is in control of all things, period. (Charles Stanley)