
Opgedra aan my twee pragtige dogters.👑👑
Hande op… wie sal nie omgee om vergelyk te word met die Spreuke 31 vrou nie? Sjoe, daar word darem mooi goete van haar en vir haar gesê! Maar ook terselftertyd voel mens al moeg, vir haar part hier by vers 17, en miskien kan mens dit nie verhelp dat die vergelyk-gogga sommer al vroeg-vroeg sy kop uitsteek nie… want regtig, wie kan ooit soos sy wees?
Miskien mis ons die punt? Miskien dra sy ‘n geheim in haar hart rond, wat sy eintlik vreeslik graag met my en jou wil deel? Ek het bietjie saam met haar gekuier, sommer in ‘n klomp vertalings… dis die moeite werd om bietjie by haar te sit en net te wonder, wat op aarde is haar geheim?
Wanneer ons aan die Spreuke 31-vrou dink, sien ons ‘n vrou wat sterk, wys, ondernemend, liefdevol en ywerig is. Dit is maklik om te dink dat haar sukses bloot die gevolg van haar buitengewone vermoëns was en ons sou dalk die afrikaanse idioom kon byvoeg wat sê: haar hande staan vir niks verkeerd nie. Maar die kern van haar lewe lê veel dieper.
Sy het ‘n hele paar rolle vertolk: ‘n Helper vir haar man, sy was ‘n boer, ‘n Baas (maar nie van haar man nie nê?), ‘n Besigheidsvrou, ‘n Ma, ‘n Tuisteskepper, ‘n Kok (sonder ‘n airfryer en ‘n mikrogolfoond nogals) ‘n kleremaakster en belangrikste… ‘n Dogter van die Koning.
Ons almal se aspirasie is om soos sy te wees, ons lees Sreuke 31 en besef ons skiet tekort. Sy bestuur haar huis, sorg vir haar gesin, is getroud, werk, help die wat sukkel, sy is nie lui nie, staan vroeg op … en intussen is sy nog wys ook, en die kersie op die koek? Sy is nie eers bekommerd oor die toekoms nie… Sy is regtig egtig perfekkerig! En soms voel ek en jy (en bid eindelik daarvoor) dat ons asb net tog die spesifieke dag moet oorleef.
Die Spreuke stukkie fokus nie op die tye wat sy moeg en moedeloos was nie, die tye wat Sy genade vir haar genoeg was vir net ‘n enkele dag nie. Want emosies van moeg, moedeloos en hande in die hare het sy verseker ervaar. Sy was immers getroud. Dit beteken soms was daar ‘n rusie al was dit net ‘n kommunikasie gaping. Iewers was ‘n skoonma wat moontlik oor haar skouer geloer het en ongevraagde raad gegee het. Iewers in haar lewe het sy ‘n pasgebore baba in haar arms vasgehou, en vol hormone gewonder… hoe op aarde gaan ek hierdie dingetjie groot kry.
Ek wed jou toe sy tieners in haar huis gehad het, het dit ook maar rof gegaan en sy was meer op haar kniekoppe, as wat jy dink. Tieners het hormone, selfs in die Bybel-tyd. En iewers het sy begin hot flushes kry en begin besef dat menopause nou deel van haar nuwer, ouer, wyser identiteit was.
Luister, en hierdie is maar net my verbeelding wat ek vrye teëls gee, want die belangrikste versie van hierdie besonderse vrou sal jy vind in Sreuke 31:30: Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word.
Charm and grace are deceptive, and [superficial] beauty is vain, but a woman who fears the LORD [reverently worshipping, obeying, serving, and trusting Him with awe-filled respect], she shall be praised. (Prov. 31:30 [AMP])
Die Spreuke 31-vrou se wapen en geheim is God!
Wanneer ander voor die berg gestaan en gewonder het waar hulle hulp vandaan sou kom, het sy reeds geweet. Sy het met vaste vertroue verklaar: My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (Ps. 121:2 [1983]) Daarom kon sy met wysheid praat, met liefde dien en met moed leef. Sy was nie bekommerd oor die toekoms nie van Sy het reeds die God van gister, vandag en die toekoms intiem geken.
Sy het vroeg-vroeg al besef en besluit, op haar eie insigte gaan sy nie staatmaak nie, maar met haar hele hart gaan sy op haar Here vertrou. (Spreuke 3:5 [1983]) Wanneer verantwoordelikhede haar neergedruk het was God haar krag en skild, haar hart het op Hom alleen vertrou. (Ps. 28:7 [2020])
Haar man en haar kinders prys haar… want sy het geleer om genadig te wees, en genade te leef. Sy kon sag wees, maar nooit swak nie. Sy kon gee en gooi uit haar bekertjie wat nooit leeg geraak het nie, want God, God self was die ene wat haar gevul het. Daagliks soos sy Sy aangesig opgesoek het… Sy teenwoordigheid wat haar gevul het met liefde, nabyheid en intimiteit.
Vriendin, en haar geheim kan en moet my en jou geheim raak. Sy deel hierdie geheim sodat ons nie meer in die donker hoef rond te tas nie. God soek nie perfeksie, volmaaktheid van my en jou as vrou en mamma nie. God soek my en jou hart, God soek verhouding. Wanneer ons die hart van God ken, gee Hy wysheid vir moeilike besluite, vrede te midde van storms en onsekerheid, moed in beproewing en liefde en genade soos en wanneer ons dit kortkom.
Ons grootste wapen is om stewig gewortel te wees in Jesus Christus…
‘n Vrou van God se grootste wapen is nie haar eie krag nie, maar die teenwoordigheid van God. Sy veg nie vanuit vrees nie, maar vanuit die sekerheid dat die Here saam met haar elke stryd en lewensstorm betree, want haar hart behoort aan HOM alleen… vir altyd!†

Amen 🙏. Dankie Martha vir hierdie mooi boodskap. Vers 30 hou ek altyd aan vas. Gesëende naweek vir julle xx❤️❤️🙏🙏
Dit is defnitief ‘n-bere-in-die-hart versie. Blessings vir jou vriendin.☨
Baie dankie, mooi geskryf.
Grootste plesier liewe tannie Nauda.☨