Wat doen ek?

In verlede week se blog het ek belowe dat ek hierdie week bietjie wil gesels oor: Doen ek wat ek wil, of doen ek wat God wil? En dit gaan nie oor die wil van God per sy nie. Of oor sonde nie, glad nie. Dit gaan oor: Doen ek wat God se hart vir my begeer. Doen ek waarvoor ek geskep is? Iets kan in God se wil wees, maar steeds baie sleg wees vir ons… ja dit klink heeltemal verkeerd en vreemd nê?

Kom ek verduidelik: na die afloop van my onlangse studie en my splinternuwe kwalifikasie as Narratiewe Pastorale Berader (ja dis ‘n mondvol!) Het ek by die kerk gaan aanmeld vir diens… en ek het geregistreer as berader, MAAR ek het heel vergeet om God se opinie te vra. Ek het heel vergeet om te vra: Is dit wat U wil hê ek moet doen? Gits om mense te help kan mos nou onmoontlik nie nie deel wees van God se plan nie?

Pleks ek steek net bietjie vas by versies soos Psalm 25:4-5 wat sê: HERE, maak U paaie aan my bekend; leer my U weë. Lei my deur U waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag. En soms is dit nodig om geduldig te wag op die hart van die HERE.

Ek kry geen niks vrede na my besluit nie, dit voel die heeltyd of iets aan my siel krap! En vriendin, dit is nie dat ek nie in myself glo en my vermoë om mense te help op só manier nie. Daar is net nie vrede in my hart oor die besluit nie. Dis so eenvoudig soos dit.

Ek lê weer een oggend 4 uur wakker en ek vra: Here, waar het ek nou weer my vrede loop staan en verloor? En jy weet mos daai sagte stem in jou binneste wat net so klein waarheidjie kom neersit? Al wat ek hoor… onthou weer bietjie jou ICU dae…OH!

Sien, want toe kom herinner God my aan ‘n situasie 20+ jare terug toe ek nog werksaam was in ICU. Ek het die werk verskriklik baie geniet, dit was uitdagend, gevul met soms aksie, soms adrenalien… maar baie keer gevul met menslike, ekstreme lyding en natuurlik onvermydelik, die dood…

Ek onthou van die pasiënte nog soos gister, ek onthou hulle families. ‘n Ou omie wat vir drie maande oggend en middag aangeskuifel kom in die gang  af om vir sy sterwende lewensmaatjie te kom kuier. Traumatiese beserings na ‘n skietvoorval, ‘n omie wat sy gehoor verloor het na ‘n plaasaanval. Jy word gekonfronteer met al die sleg van die lewe. En dit kan nie anders as om stukkies van jou hart te breek nie! (Ek dink ook nie ons bid hoegenaamd genoeg vir mense wat in ICU werk, met trauma werk, ons paramedici en Traumatoloë nie!)

Ek moes skuif na ‘n ander afdeling waar daar minder eina en trauma was. Maar daar het ek gefloreer, dit was goed! Alles wat ons aanpak, of dink ons moet doen is nie noodwendig goed vir ons nie. Na my gesprekkie met my Pa in die hemel het ek besluit om net weer mooitjies op my spore terug te loop… Deur God se wil te doen ervaar ons vrede. (Dante)

Ons liewe predikant, met baie wysheid, het tereg gesê, die wêreld kort beraders, maar ook bemoedigers. Sien, as Berader, sou ek self in die slag gebly het. Maar as Bemoediger kan ek floreer. Kan ek doen wat God van my vra: Bemoedig dié wie se hande slap hang, help die wié se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier…” (Jes. 35:4)

Weet jy wat besef ek toe net weer. God ken ons deur en deur. Hy sien alles, Hy is reeds daar waar ek en jy nog droom om te wees. Hy ken ons binne en buitekant. Hy ken ons struikelinge, Hy ken ons hartsbegeertes. Hy ken die diepste hoekies van my en jou harte… en Hy het ons bitterlik lief.

Om in God se wil te wandel moet ons na die stem van die Heilige Gees luister. As ‘n saak in God se wil is, sal Hy vrede in ons hart gee en ons onrustigheid sal verdwyn. (Arnold Mol)

So liewe vriendin, miskien is jy by hierdie vurkie in die pad wat jy nie heeltemal weet of jy doen wat jy wil doen of doen wat God wil hê nie. Dis ‘n ongemaklike plekkie om te wees. Ek bid vir jou vir klinklare antwoorde. Ek bid vir jou vir vrede, en bowenal bid ek dat God jou sal plant op ‘n plekkie waar jy met oorgawe kan blom! Vir HOM, vir ander… maar ook vir jouself!

4 Replies to “Wat doen ek?”

  1. Ek identifiseer baie met wat jy hier skryf en dit het my ook nou sommer gehelp. Dankie daarvoor. Die wêreld kort verseker baie meer bemoedigers. As ma’s en vrouens het ons al baie ervaring in daai rol.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *