Leeu van Juda.

Lank lank gelede toe ek 10 jaar oud was, net na my oupa se afsterwe, het ek een nag ‘n verskriklike droom gehad wat ek tot vandag toe onthou! Die dood van my oupa was traumaties, ek was bitter lief vir hom en as klein dogtertjie was ek bietjie kwaad vir God… daar was baie kleinkinders wat niks van hulle oupas gehou het nie, hoekom het Hy my oupa kom haal…?

Iedergeval, ek droom die nag ek staan in die gang van my grootword-huis met my rug teen die muur en voor my staan ‘n vieslike leeu, groot, vol merke van vorige gevegte. Sy oë is vol dood en haat… vir my. Hy stap met afgemete treë nader en nader… En ek weet dat ek weet, ek is in groot moeilikheid, hy gaan my verskeur en opvreet tot daar net ‘n bloedkolletjie en ‘n paar skoongevrete bene oorbly. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. (1Pet. 5:8-9)

Daar is nie sprake van weghardloop nie, ek is vasgekeer… Die volgende oomblik spring daar die mooiste Leeu wat ek nog ooit gesien het oor my regterskouer. Hy is perfek, groot met nie ‘n enkele merkie nie. En vreesloos beskerm Hy my, Hy het die ander leeu voor my voete verbrysel. ‘n Geveg tot die dood. Geveg tussen Lig en duisternis. Ek skrik wakker met ‘n natgeswete dogtertjie lyf met ‘n hartjie wat uit my keel wil spring… en ek verstaan niks van wat ek gedroom het nie.

Eers toe ek die Leeu van Juda baie jare later persoonlik ontmoet het, in ‘n liefdesverhouding met Hom betrokke geraak het, toe eers het ek verstaan. Luister vriendin, die Leeu van Juda baklei tot die dood toe vir my en jou. Hy het letterlik die dood oorwin. Die Leeu van Juda het gewen, oorwinning is Syne en Syne alleen. Hy verdien al die lof en die eer. Hy verdien my en jou onverdeelde aandag en liefde. In die alleen-gang het ek gedink ek is alleen, ek het gedink dis sekerlik die einde van my, hierdie vieslike leeu gaan my verskeur en verslind. Ons vergeet soms van die Leeu van Juda wat altyd by ons is. Die Leeu van Juda wat binne ons woon.

Die Leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? (Amos 3:8) Wanneer Hy brul, sal Sy kinders vol ontsag uit die weste kom. (Hosea 11:10) Was jy al naby as ‘n Leeu brul, die geluid vul jou met ontsag en respek…ook vul dit met ‘n gesonde dosis vrees. Dis kompleet asof jy die brul deur jou hart en siel kan voel vibreer. Die Leeu van Juda is groot, majestieus, waardig… Nie ‘n troeteldier waarmee jy speel en ‘close encounters’ mee hê nie. Hy is gevul met ‘n krag wat onbeskryfbaar is.

Ons dink baie keer ons kan hierdie of daardie probleempie sommer gou gou uitsorteer.  Dat ons die storm kan aandurf, alleen met ‘n valse dapperheid. Baie soos ek daar vasgekeer in ‘n gang was in my droom, ek het nie eers na Jesus geroep nie, nee Hy het net opgedaag, was nog altyd net daar, reg om die vyand aan te vat en te verskeur. Hy soek nie jou hulp en voorstelle om die Leeu van Juda te wees nie… Nee, Hy spring oor jou skouer met die woorde. “Bly jy maar kalm. Ek sal vir jou veg, namens jou veg.” (Eks. 14:14)

Ek en jy is 100% afhanklik van Hom. Die Here sal jou bekerm teen ALLE gevaar, jou LEWE sal Hy beskerm waar jy ook gaan, NOU en vir ALTYD. (Ps. 121:7-8) Hy is ons sterkte en beskerming in die midde van die stryd. Hy steek ons weg in die skaduwee van Sy vleuels. (Ps. 17:8) Hy is vir my en jou ‘n skuilplek, Hy beskerm ons teen aanvalle. (Ps. 32:7)

Luister mooi na God se belofte vanoggend vir jou: Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here. (Jes. 54:17)

My gunsteling animasie fliek is The Lion King. Daar is so kosbare stukkie waar Simba staar in die water en die weerkaatsing van sy Pa raaksien en dan die woorde van sy Pa hoor eggo: “You have forgotten who you are, look inside yourself, you are more than what you have become! Remember who you are”. Wie is jy? Vriendin, soms moet ek en jy ook bietjie onthou wie ons is, wie sin ons is. Aan wie ons behoort…

Die Leeu uit die stam van Juda… Die Lam… Jesus Christus… Verlosser… Vriend… Vredevors… Raadgewer… God.

Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in Sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer tot tot in alle ewigheid! (2 Tim. 4:18) Hy is waaragtig waardig. Aan Hom die lof en die eer, die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid. (Open. 5:13) Amen.

 

 

2 Replies to “Leeu van Juda.”

  1. Amen en Amen Lam van God wat ons van ond sondes verlos het.. Hy was ons skoon met Sy Kosbare Bloed, wat nog nooit Sy Krag verloor het nie.. En Hy Beskerm ons daagliks teen die aanvalle van satan..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *