U is vir my en nie teen my nie, dit weet ek met sekerheid. U is my God, soos U die God van Abraham, Jakob en Isak is. Dis persoonlik.
U is daar in my huil en in my lag, in my droefheid en in my vreugde. U is lankmoedig, geduldig met my en vol liefde. U is genade. U is ‘n jaloerse God, U is ‘n verterende vuur wat onverdeelde trou vereis van my. (Deut. 4:24)
Here wanneer ek verlate, eensaam en alleen voel weet ek dat ek weet, omdat U is, kan ek net wees. U is my Vrede, wat emmers vol genade oor my hoof uitstort. Ek verdien niks van U goedheid en guns nie, maar tog dis U wat my by ‘n feesmaal laat aansit terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, kompleet asof ek iemand belangrik is, U oorlaai my met U hartlikheid. (Ps. 23)
U is Abba, my Vader, die Een wat my so volmaak liefhet dat U, U enigste Seun aarde toe gestuur het sodat ek nie aan ‘n houtkruis hoef te sterf vir my sonde nie. U Seun wat my vrye toegang tot U gee.
U is Jesus, die Woord, my Herder, brood van die lewe, my daaglikse brood. U is alles vir my. U is genoeg. U is die Een wat is, wat was en wat kom.
U is Heilige Gees, die Een wat binne my is, wat voorspraak doen by Vader met versugtinge wat my mensehart nooit ooit sal verstaan nie. U is die Een wat telkemale my hart heel maak en my optel en dra wanneer die lewe my wind uit skop. U is altyd by my… U wat my terughou wanneer ek eintlik in my eie domheid my te pletter moes val.
U is ‘n God wat donkies laat praat en lewe in droeë bene laat kom, ‘n God van wonderwerke en wonderdade,
U sê: “Ek sal vra antwoord jy my!” (Job 38) Here, want regtig wie is ek nou eintlik, ‘n spikkel in die heelal, in die groter prentjie is ek maar eintlik ‘n niksie, maar tog dis U wat bemoeienis maak met my, U sien my, weet van my, ken my by my naam, het al die hare op my kop getel. U ken my diepste wese, die donkerste hoekies van my hart. Ken my intiem, want U is…
Here, toe ek ‘n klein dogtertjie was en die donker nog my vyand was, het ek U benoud aangeroep snags: “Liewe Jesus, waar is U dan?” Telkemale het U my kom ontmoet in my benoudheid, het U opgedaag en my met ‘n liefde en nabye troos kom toevou wanneer my dogtertjie-hart te vinnig, benoud geklop het van skone banggeit. In die eksamenlokaal voor ‘n groot toets het ‘n my altyd teggemoet geloop. U het my tegemoet gehardloop en my opgeraap wanneer ek moeg, moedeloos en hartseer in U arms ingehardloop het. Vir my is U nie meer Liewe Jesus nie, nee U is die Leeu van Juda- groot, Almagtig, die Een wat die vyand voor my voete verskeur.
U is die Een wat my vang wanneer ek val-val-val en voor ek die grond tref en my te pletter val skep U genade en liefde my in U arms op. Wanneer troos net te vinde is teen U bors, naby U hart.
As U is wie U sê U is, U is Ek is… dan is ek wie U sê ek is… dan maak al die leuens van die wêreld nie meer saak nie, dan maak dit net saak wie U is, en wie ek in U is.
My kosbare dogter…Ek is wat Ek is. (Eks. 3:14) Ek is die ingang, as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Ek is die goeie Herder, Ek ken my skape, en My skape ken My. (Joh.10:9,14) Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. (Joh. 6:48,51) Dit verseker Ek jou my liefste kind: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is. (Joh. 8:58)
Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. (Joh. 8:12) Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (Joh. 6:14) Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. (Op. 21:6) Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. (Matt. 28:20)
Moet dan nie verder bang wees nie, My liewe liewe kind, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jóú God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou. (Jes. 41:10)
Ek is hier… moenie bekommerd wees nie. Ek is reeds daar… moenie moed opgee nie. Ek is nog altyd lief vir jou, jy maak My hart bly. My liefde vir jou strek tot in die hemel. Ek is tevrede met jou, my liefste dogter, jy doen goed.

U is vir My.. En nie teen my nie. U is God.. U is Alles wat ek nodig het! U is my God net soos U vir Abraham Isak en Jakob is!