Ek sal vir jou Veg!

Ek loop al ‘n hele rukkie met die gedagte rond van oorlogvoering teen die vyand en presies hoe dit werk en lyk. Ek tob ‘n bietjie, vra baie vrae… en dan luister ek weer ‘n bietjie.

Ek wil eerste sê ons mensdom moet ophou om die vyand onnodige krediet te gee… Hy is verseker slu, agterbaks, ‘n gladde, glibberige kalant. Hy is nie wat hy voorgee nie, en dis soms bitterlik moeilik om te onderskei wat is wat, maar sy doen is beperk.

So dis wat ek weet… die oorlog is reeds gewen. Lig het teen donker die opperhand gekry, dis gedoen. Dis klaar! Dit is volbring aan die middelste kruis op Golgotha. “Ek het die wêreld klaar oorwin.” Sê my en jou Verlosser. (Joh. 16:33)

Wanneer ons Eksodus 14:14 lees waar God self sê:

“Bly jy KALM Ek sal vir jou VEG.”  

Dan wil ek vra: Hoef jy ‘n hele nag in ‘n ingwikkelde, intense oorlog met die vyand en sy trawante betrokke te wees namens jou man, kinders, probleme ens? Vreesbevange en angstig vir die vyand voor jou? Klink dit vir jou soos ‘n bly-kalm situasie. Nee, dit klink soos jy wat namens jouself veg in plaas daarvan om die vyand te verwys na die Opperhand, na die Die Krygsman wat red. (Sef. 3:17) Vriendin jy hoor? Jy het absoluut niks met die vyand te make nie.

Die vyand is inderdaad slu en agterbaks, hy is ‘n outjie waarvoor mens versigtig moet wees, 1 Petrus 5:8 waarsku ons teen hom: Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. (1 Pet. 5:8) Hy kan absoluut niks aan jou doen nie… moet net nie gaan speletjies speel binne bereik waar hy jou kan beetkry nie. Los alle vorme van dinge wat eerder hou van die donker pleks van die lig.

Jy wat beklee is met die bloed van Jesus, hy gaan jou een kyk gee en in die teenoorgestelde rigting wegvlug. Luister jy kan maar net nee dankie sê as die versoeking kom.

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. GOD IS GETROU. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie, as die versoeking kom, sal Hy ook uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Kor. 10:13)

God sal jou die krag gee vir ‘n maklike en ‘n vinnige ‘nee dankie’, ‘ek dink nie so nie’.

Wanneer die skewe gedagte in jou kop inwarrel, as die satan ‘n leuen in jou hart probeer inplant. Onderwerp jou dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van jou af wegvlug. (Jak. 4:7) Jy hoor? Weerstandig en hardkoppig staan jy hom teë, maar terselftertyd onderworpe aan God en Sy wil vir jou lewe.

Luister, maar selfs ek moet erken, soms voel dit of daar baie aanvalle is… of die mannetjie regtig hard probeer, maar weet jy wat, die antwoord is weereens in die Woord. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef. 4:27) Maak die deure van jou hart en kop toe vir die leuens van die vyand.

Ek wil vra: as jy onder die vleuels van die Almagtige skuiling vind, as dit jou woonplek is, naby aan Vader se hart, dink jy hy gaan vir jou daar kom soek? Nooit as te nimmer nie.

Ek lê gisteraand in die bed en wag vir Klaas Vakie om sy werk te doen… gewoonlik slaap ek binne 3 sekondes… regtig. Ek raak aan die slaap met my kop op pad kussing toe… Ek lê en bid Psalm 23, sjoe vriendin daar is ongelooflike krag om Woord te bid. Nietemin vroeër in die dag het ek vir God gesê-vra dat Hy die oorlogvoering besigheid vir my sal moet wawyd opbreek en so dat ek dit mooi kan verstaan.

En so met die bid van Psalm 23 hoor ek net Hy sê: Die skaap gryp nie die staf by die Goeie Herder en verdedig homself nie, nee die skaap is die skaap en die Herder… wel Hy is God. Sjoe vriendin toe verstaan ek baie mooi.

Die skapie se werk is om nie af te dwaal uit die trop uit nie, om nie die leeu te gaan soek, of die honger beer te tart nie, nee die skaap is veilig in die trop. Die skaap ken die stem van die Herder en volg Hom met geloof en vertroue. Hierdie Herder van ons het Sy lewe afgelê vir my en jou. Dis gedoen…en selfs my liewe skapie-vriendin, as jy soms so bietjie afdwaal, raai wat Hy sal die 99 los en vir jou kom soek… oor berge en dale, oor rowwe terrein sal Hy vir jou kom soek en jou terug lei na die trop… nie forseer nie, want onthou jy het vrye wil en ‘n keuse om te maak.

Die vyand kry houvas op ons harte wanneer ons ver van God se hart af dwaal en nog verder van God af wegskram en leef, as jy in onafhanklikheid van Hom begin lewe. Jy weet van Hom, gits jy glo selfs in Hom, maar jy bly nie in Hom nie… vriendin maar selfs dan sal Hy vir jou veg, vir jou in die bresse tree.

Hoe verdedig ons onsself sonder om die staf te gryp en te wil veg? Hoe lyk ons aandeel? Jesus het, toe Hy vir 40 dae in die woestyn versoek is deur die vyand twee goed gedoen. Eerstens Hy het Woord aangehaal, want die Woord is die swaard van die Gees. (Ef. 6:17) Hy het nie gesê daar staan in Boek en vers soveel die volgende nie, nee Hy het gesê daar staan geskrywe…

Tweedens in Matteus 4:10 het Jesus hom weggestuur. Trek jou wapenrusting aan vriendin. Leef elke dag na die beste van jou vermoë die vrugte van die Gees uit… ek is oortuig daarvan dit maak die vyand moeg en moedeloos as hy sien hoe ek en jy regtig hard probeer om oorwinning te kry. Veg op jou knieë met jou hande in die lug uitgesteek na jou Pa in die hemel.

Lofprysing en aanbidding is die aller effektiefste manier om die vyand op sy plek te hou. En dis nie net sing nie, leef ‘n lewe van aanbidding en lofprysing voor die aangesig van die God van die hemel en die aarde en moet nooit vergeet nie liefste vriendin: God veg vir jou.